Sirkel: Tygerberg
Tak: Helderberg
Portefeulje: Openbare Sake
Sameroeper: Liné La Grange
Beriggewer: Elsa Hanekom
Datum: 11 Maart 2026
Viervoetiges lê besoek af by VLV Helderberg
Op een van die warmste dae nog die jaar, het ons dames die dag aangegryp en saam kom luister na Colleen Sampson wie ons meer kom vertel het oor die Suid-Afrikaanse Gidshond Vereniging vir blindes.
Colleen vertel meer oor die geskiedenis, hoe die opleidingsproses werk en vir wie die honde almal geskik is.
Saam met haar het nog twee besoekers met hul afgetrede gidshonde gekom – Miranda met haar hond Lexi en Jenni met haar hond Taylor.
Die eerste gidshonde vir blindes is reeds in 1780 by ‘n hospitaal in Parys opgelei. Die eerste handleiding vir die opleiding van gidshonde is in 1819 geskryf.
‘n Duitse dokter, dr Gerhard Stalling, het gedurende die Eerste Wêreldoorlog die eerste gidshondskool begin.
In 1953 was Gladys Evans die eerste Suid-Afrikaner wat ‘n gidshond gebruik het. Die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging is amptelik in 1954 gestig.
Die honde, tans slegs Labradors, word in Johannesburg op ‘n 11 akker perseel, geteël. Semen word van lidorganisasies van die Internasionale Gidshondfederasie ingevoer. Die tewe is almal Suid-Afrikaans.
Die honde word opgelei as gidshonde, dienshonde, en outisme ondersteuningshonde.
Op 8 weke kom die hondjies Kaap toe en gaan dan direk na vrywilligers waar die hondjies moet leer om te sosialiseer en om onder andere geraas te hanteer. Ongelukkig, as gevolg van ‘n gebrek aan ruimte, word slegs gidshonde vir blindes in Kaapstad opgelei.
Formele opleiding begin wanneer die hondjie 14 maande oud is.
Honde moet pas by die persoon by wie hulle geplaas word, soos byvoorbeeld, hoe aktief is die persoon, hoe vinnig beweeg die persoon.
Honde moet in ‘n reguit lyn kan stap. Die hond sal die persoon keer wanneer die persoon ‘n verkeerde besluit neem.
Interessante feit – Suid-Afrika is die enigste land wat gidshonde op roltrappe toelaat.
Dienshonde help gestremde persone om byvoorbeeld ‘n deur oop te maak, ligte aan-en-af te skakel. Hulle kan selfs iets soos ‘n kredietkaart van die grond af optel.
Die outisme ondersteuningshonde help kinders met outisme. Hierdie honde help om die kind te anker, help om stres te verminder, speel met die kind en help om die kind rustig te maak deur byvoorbeeld op die kind se bed te slaap.
Hierdie is ook die enigste honde wat by kinders geplaas word. Gidshonde en dienshonde word slegs by persone ouer as 18 jaar geplaas.
Daar is ‘n streng keuringsproses waardeer ‘n aansoeker moet gaan voordat ‘n hond by ‘n persoon geplaas word. Die organisasie bied deurgaans ondersteuning aan hierdie persone nadat ‘n hond by hulle geplaas is.
Onthou:
- Groet eers altyd die persoon en vra dan of jy aan die hond mag vat.
- Moenie die honde voer nie – hierdie honde is op ‘n baie spesiale dieet.
Ons dames het die interaksie met die twee honde terdeë geniet terwyl hulle tussen almal rond beweeg het.
Een van die lede, Elsa Hanekom, vier ‘n spesiale verjaarsdag en word deur die res van die span bederf. Nog ‘n Maart-baba, Cathy Els, word as nuwe lid verwelkom.

Colleen Sampson van die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging

Colleen Sampson verduidelik hoe die harnas op ‘n gidshond geplaas word.

Op ‘n snikhete dag, is dit die beste plek – plat op jou maag op die koel teëls.

Ons viervoetige gaste.

Foeitog, ook al lekker grys.

Jeanette Snyman en Karin Venter geniet ‘n bietjie aandag.

‘n Blaaskans voor ek die tweevoetiges moet gaan vermaak.

Liné la Grange, Saamroeper: Openbare Sake, met Lexi en Taylor.

Charlotte Kriek, voorsitter, steek Cathy Els se kenteken aan.

Die pragtige koeke is deur Annerie Mac Donald gemaak. Onder regs, oorhandig Annerie ‘n geskenk aan Elsa Hanekom.