Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Paarl

Tak: Suider Paarl

Portefeulje: Kuns en Handvlyt

Saamroeper: Berta Spangenberg

Beriggewer: Gonny du Plessis

Datum: 18 Junie 2025

Op ‘n koue en nat wintersoggend, leer die lede en gaste van Suider Paarl tak meer oor die kuns van skryfwerk en die skryf van boeke asook hoe om ‘n digitale advertensie te maak.

Twee bekende skrywers, nl mev Irma Joubert en mev Engela Duvenhagen het in ‘n “spoedafspraak” gesprek (speed dating) mekaar uitgevra oor hoe hul met die skryf van boeke begin het en navoring gedoen het. Baie interessant.

Mev Irma Joubert het vertel dat sy, na haar aftrede as onderwyseres, besluit het om te begin skryf. Dit was egter nie so maklik, dus moes sy eers drie skryfskole bywoon voor sy kon begin. Sy het vertel dat sy baie goed na mense se stories luister en dan so haar eie verhale daaromtrent skryf. Sy doen geweldig baie navorsing en kry die korrekte feite bymekaar voor sy begin. Van haar bekendste boeke is die Tussen Stasies-trilogie en Immer wes, een deel van die oorlogstrilogie. Sy het ook verskeie artikels en kortverhale vir tydskrifte geskryf en vele toekennings ontvang. Sy is tans weer besig met twee nuwe boeke.

Mev Engela Duvenhagen, ‘n wetenskap- joernalis van Wellington, het eers deur middel van ‘n rekenaarprogram aan die dames gewys hoe ‘n digitale advertensie opgestel kan word.

Sy het ook die boek “Uitvinders, Planmakers en ander Slimkoppe van Suid-Afrika” geskryf asook verskeie interessante boeke vir laerskoolkinders. Sy skryf ook artikels vir tydskrifte soos Lig, Huisgenoot en die Burger.

Die koor van die W A Joubert Laerskool het drie vrolike liedjies gesing onder leiding van me Marinda Hunter.

Die oggend is afgesluit met heerlike koek en tee.

Vlnr: Mev Gonny du Plessis (voorsitter) mev Engela Duvenhagen, mev Berta Spangenberg (sekretaris en saamroeper), mev Karen Barnard (Sirkel President) en mev Irma Joubert.

Mev Marinda Hunter en die W A Joubertskool koorleerlinge.