Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Tygerberg

Tak: Goodwood

Portefeulje: Openbare Sake

Saamroeper: Marianne Oosthuyzen

Beriggewer: Shirley Brand

Datum: 15 April 2025

Aletia Grundling het in std 3 (graad 5) in ‘n kerk op Simondium haar besluit geneem om die Here te dien. Daar het haar lewenspad met die Here begin en is sy voorberei om haar talente te gebruik. 

Haar man (Okkie Grundling) het, ter voorbereiding vir die verandering in Suid-Afrika in 1994, ‘n model voorberei vir die integrasie van alle Suid-Afrikaners. In 1999 het die Here hulle geroep om in hulle gemeenskap in die Paarl uit te reik. JEPSA Bakkery het tot stand gekom (Jesus Peace South Africa) en saam met hulle vennoot SASKO, het hulle beskuit gebak en verkoop aan verskillende winkels. So het haar pad gekruis met ‘n Amerikaner in Desember 2007 en sy het ‘n bemagtigingsmodel geskryf om meer kinders te voed en werk te verskaf aan mense in die gemeenskap. ‘n Sopfabriek ontstaan en 5000 kinders het daagliks sop en brood ontvang. Die oorspronklike beskuit bakkery het uitgebrei na sop, brood en beskuit. Tans word meer as 1 miljoen maaltye per jaar verskaf. Die perseel en industriële kombuis is deur die Amerikaner verskaf en huur is vir 3 jaar vooruit betaal. Met ‘n besigheidsprogram wat Aletia voorberei het, is dit ook deur haar bestuur. Verskeie kleuterskole het hierby gebaat. Ongelukkig het die eienaar later die perseel verkoop.

Maar die Here het ‘n weg gemaak. Hannelie Rupert het ‘n vorige nagklub (Tiffany’s) geskenk aan die organisasie wat Aletia omskep het in 2000 in ‘n veilige hawe vir jong mense. Monte Christo Miqlat (MCM is gebore. Miqlat is ‘n Hebreeus woord wat “toevlug en hoop” beteken. MCM het verskeie plaaslike en oorsee se ondernemings wat vennote geword het met hulle. Bv Kanada en Amerika verskaf pakkies gedroogde groente en kos.

In die hartjie van Paarl se bende geteisterde woonbuurt, word Tiffany’s omskep in ‘n plek van toevlug en hoop. Van die geleenthede wat verskaf word aan die jong mense is:

Gimnasium (insluitend ‘n maaltyd)

Kleuterskool (82 kinders)

Nasorgsentrum (100 kinders)

Drama en skryf

Fotografie (Amerikaner David het kom klasse gee)

Rekenaaropleiding met Internetkafee

Vaardigheidsentrum: hout / teëls / loodgieter / elektrisiën

Klank en beligtiging opleiding (eerstydse bendeleier Kurt van die Barbarians is die klankingenieur)

Naaldwerkklasse

Kuns (die muur om die gebou is deur jongmense versier)

Buiten die jaarlikse fees wat gehou word, het die jong mense ook drie verskillende boeke gepubliseer met gedigte en foto’s – wat te koop is.

Buiten Aletia Grundling (Uitvoerende Hoof), het sy 19 personeel lede wat alles bestuur en self ‘n inkomste verdien. Aletia en haar span is 100% suksesvol !

Hulle leuse is: “Bemagtiging van verarmde gesinne deur holistiese volhoubare ontwikkelingsprogramme om gesonde bevredigende lewens te ervaar”

Almal word uitgenooi om te gaan kuier by MCM Paarl.

Wenda Preuss (Voorsitter), Marianne Oosthuyzen (Saamroeper), Aletia Grundling (Spreker) en Annemarie Kable (Helper)