Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Potpourri

Saamroeper: Luise de Jager – Gesondheid

Karen van Rensburg – Kunste & Handvlyt

Petro Marx – Opvoeding & Kultuur

Beriggewer: Karin Pienaar

Datum: 11 Junie 2025

Op 11 Junie 2025 het Aberdeen VLV weereens gewys hoekom hulle ’n spilpunt is van vrouekrag, kreatiwiteit en diensbaarheid in die gemeenskap. Die vergadering was gevul met inhoud wat lede nie net geïnspireer het nie, maar ook uitgedaag het om werklik ’n verskil te maak.

Voorsitter Lea van der Vyver het lede en gaste hartlik verwelkom, met spesiale verwelkoming aan die twee sprekers van die dag. Karin Pienaar het die vergadering geopen met ’n betekenisvolle boodskap uit Spreuke 31, waarin vroulike waardigheid, krag en diensbaarheid beklemtoon is.

Tydens die Aberdeen Boereverening se Kuddedag gehou op 5 Junie 2025, het die VLV dames ‘n kosstalletjie ten bate van Aalwynhof Ouetehuis gehou. Die dag was ‘n reuse sukses en die lede is bedank vir hulle bydraes en harde werk!

Collage van foto’s geneem tydens die Aberdeen Boerevereniging se Kuddedag, waar Aberdeen VLV ‘n kosstalletjie ten bate van Aalwynhof Ouetehuis gehou het.

Tydens die vergadering is ook beplan aan die tak se volgende groot projek, naamlik om beddegoed in te samel vir Aberdeen Hospitaal. Verlede jaar met besoek aan die Aberdeen Hospitaal, het dit onder die tak se aandag gekom dat die hospitaal nie voldoende linne het nie, en die lede het dadelik gevoel daar moet ‘n verskil gemaak word.

Aberdeen VLV se linneprojek vir Aberdeen Hospitaal

Wanneer ‘n noodgeval tref, is dit belangrik om voorbereid te wees. ’n Goed toegeruste noodhulptas en medisynekas in jou huis kan letterlik lewens red. Luise de Jager – saamroeper Gesondheid – het waardevolle raad oor die noodsaaklike items wat elke huishouding behoort te hê, gedeel.

Vir Koors en Pyn:

Termometer – Meet liggaamstemperatuur. Temperatuur bo 39°C moet ernstig opgeneem word.

Parasetamol – Vir matige pyn en koorsbeheer.

Anti-inflammatoriese medikasie en salf – Vir spierpyne en ontsteking.

Spierpleisters en warmwatersak – Vir verligting van spierspanning.

Vir Maagpyn & Diarree:

Medikasie teen maagkrampe.

Anti-diarree middels.

Citro-soda vir vertering en sooibrand.

Allergieë:

Allergiepille teen insekbyte en hooikoors (let op vir lomerigheid).

Allergiesalf vir velirritasies.

Oogdruppels (veral soutoplossing) om oë uit te spoel.

Vir Wonde:

Verskeidenheid pleisters.

Gewone verbande, druk- en driehoekverbande.

Antiseptiese wondwasmiddels en salf.

Jelonet/parafien-gaas en Burnshield pleisters.

Steriele handskoene vir veiligheid.

Ander Belangrike Items:

Mondstuk vir mond-tot-mond-asemhaling.

Steriele spuite en naalde.

Watte, skêr, hakspelde.

Spalke of PVC-pype vir beenbreke.

Soutoplossing vir wondspoeling.

Ontwurmingsmiddels.

Engelse sout (veeldoelige gebruik).

Melksalf – natuurlik en sonder preserveermiddels.

Sonblok vir daaglikse gebruik.

Belangrike Wenke:

Kinders en volwassenes benodig soms verskillende medikasie en dosisse.

Maak seker dat kroniese medikasie nie nadelig reageer met ander middels nie.

Moet nooit medikasie gebruik waarvoor dit nie bedoel is nie.

Neem altyd medikasie met minstens ’n halwe glas water.

Hersien jou medisynekas minstens een keer per jaar en gooi vervalde medikasie veilig weg.

Dra handskoene wanneer jy siek diere behandel – sommige siektes kan van diere na mense oorgedra word.

Hou diere- en mensemedikasie apart.

Ontwurm alle gesinslede en troeteldiere minstens een keer per jaar – jong kinders benodig dalk meer gereelde behandeling.

Luise de Jager verduidelik wat in ‘n noodhulptas moet wees.

Drie maande gelede het Natasha Groenewald, ‘n voltydse kunstenaar haar in Aberdeen kom vestig.Sy skep unieke houtborde waarop sy inspirerende woorde en pragtige skilderkuns kombineer tot kunswerke wat harte aanraak.

Maar Natasha se pad tot sukses was allesbehalwe maklik.

In 2005 het Natasha haar eerste stap geneem in die wêreld van kuns en handwerk – met slegs 60 stukke handgemaakte werk en geen geld om vir die uitstalruimte by ‘n plaaslike mark te betaal nie. “Ek het net gegaan, gehoop en gebid,” lag sy vandag. Tot haar verbasing was dit ‘n groot sukses – en dit was net die begin.

Twyfel, finansiële bekommernisse en verskeie struikelblokke het haar pad gekruis, maar sy het nie opgegee nie. Sy het aanhou skep, haar werk begin uitstal by meer feeste en markte, en mettertyd het haar kuns nie net ’n stokperdjie gebly nie – dit het haar voltydse beroep geword.

Wat Natasha se werk en haar storie besonders maak, is haar opregte dankbaarheid, geloof, en vasberadenheid. Sy deel haar pad met eerlikheid, humor en warmte – en wys dat harde werk, kreatiwiteit en die moed om aan te hou, ’n kragtige kombinasie is.

Kyk uit vir haar kunswerke in Aberdeen by Vroutjie-se-Koutjie Tuisnywerheid, Kamdebo Padstal en Windmill Coffee Shop.

Natasha Groenewald vertel met humor haar inspirerende reis met haar kuns en handwerk.

Collage van Natasha Groenewald se kunswerke.

Karen van Rensburg – saamroeper Kunste & Handvlyt – het verder die oorsprong en waarde van mandalas bespreek.

Wat is ’n Mandala?

Die woord “mandala” is afkomstig uit Sanskrit, ’n antieke en heilige taal van die Hindoes, en beteken “sirkel” of “heelheid”. Hierdie kunsvorm het eeue gelede ontstaan en is vandag steeds prominent in kulture wêreldwyd – veral in Boeddhistiese en Hindoe-tradisies.

’n Mandala is ’n sirkelvormige ontwerp met herhalende, simmetriese patrone wat van ’n middelpunt uitstraal. Elke kant van die mandala lyk dieselfde, wat dit ’n simbool van balans, orde, en ’n geestelike reis maak.

Mandalas is nie beperk tot inkleurprente nie. Hulle kom voor in kerkvensters, sandkuns, hekelwerk en selfs argitektuur. Hulle is nie net mooi nie – hulle raak die siel aan.

Die maak of inkleur van mandalas ’n vorm van stilte en bring genesing. Dit bevorder ontspanning en stresverligting, verbeter konsentrasie, stimuleer kreatiwiteit, ondersteun emosionele genesing en skep ruimte vir stilte en refleksie.

“Dit bring ’n glimlag op jou hart,” sê Karen met ’n warm glimlag.

Karen van Rensburg vertel van die die terapeutiese voordele van mandalas.

“’n Goeie onderwyser is soos ‘n kers – brand haarself uit om lig vir ‘n kind te gee.” Met hierdie woorde het Petro Marx – saamroeper Opvoeding & Kultuur – die spreker, Cecilia Pienaar, voorgestel . Dié toegewyde wiskunde-onderwyseres van die laerskool in Lotusville, Aberdeen, het al talle leerders in die gemeenskap gehelp om dié gevreesde vak te bemeester.

Maar agter haar liefde vir onderrig lê ’n ontstellende werklikheid oor die onderwyskrisis in Suid-Afrika.

Sy skets ’n duidelike prentjie van hoe die onderwysstelsel ons land se kinders faal. In 2024 het Suid-Afrika heel laaste geëindig in die Internasionale Geletterheidsdag-opname, en die statistieke is skokkend:

80% van graad 4-leerders verstaan nie wat hulle lees nie.

Slegs 16,7% van graad 4-leerders bemeester basiese syfervaardighede.

In haar eie graad 6-klas, sê sy, is die meeste kinders se wiskundevlakke gelykstaande aan graad R tot graad 2. Baie van hulle kan nie hul eie name skryf nie en vul vraestelle met onleesbare simbole in. Met groot klasse (meer as 60 leerders) en beperkte leerhulpbronne, is dit ‘n uitdaging om daagliks sinvolle onderrig te gee.

Tot die uiterste bekommernis is die skoolgebou self vervalle en gevaarlik. Al word hierdie probleme elke jaar aangemeld by die owerhede, gebeur daar niks nie.

Die leerders bring nie net akademiese uitdagings saam nie – hulle dra swaar sosiale laste. Dwelm- en alkoholmisbruik is algemeen. Party kinders wys tekens van foetale alkoholsindroom en is nie in staat om normaal te leer nie. Geweld, boeliegedrag, wapens op die skoolterrein, armoede, en verwaarloosde huishoudings is deel van die daaglikse werklikheid.

Sommige kinders moet as “ouers” optree in hul eie huise. Ander sien Cecilia as ’n moederfiguur – een wat hulle nie by die huis het nie.

Ten spyte van hierdie uitdagings, sê Cecilia: “Onderwys is my roeping. Ek is Jesus se hande en voete op aarde.” Sy leef vir daardie klein oomblikke van hoop – wanneer ’n kind skielik ’n konsep snap, of haar kom bedank met ’n drukkie of briefie.

Sy lees twee sulke briewe voor – vol liefde, waardering en erkenning vir die verskil wat sy in lewens maak. Dit is dié oomblikke wat sin gee aan haar roeping.

Cecilia sluit haar praatjie af met die bekende storie van die seuntjie wat seesterre teruggooi in die see. Wanneer iemand vra waarom hy moeite doen – hy kan tog nie almal red nie – antwoord die seuntjie:

Ek het ’n verskil gemaak in daardie een se lewe.”

Dis hierdie filosofie wat Cecilia dryf. Al is die groter prentjie oorweldigend, elke leerder wat sy bereik, is vir haar ’n seester wat gered word.

Cecilie Pienaar, Wiskunde Onderwyser

Die propvol en betekenisvolle oggend is afgesluit met heerlike sop en roosterkoek.

Vlnr: Natasha Groenewald (Spreker), Cecilia Pienaar (Spreker), Karin Pienaar, Luise de Jager, Lize de Jager, Karen van Rensburg, Petro Marx, Heidi Lombard, Carina van Rensburg, Annelie Lategan, Suzanne Lategan, Lea van de Vyver (Voorsitter)

Collage van foto’s van die teetafel met heerlike sop en roosterkoek en tafeldekor wat studierigtings uitbeeld deur Carina van Rensburg en Lizemari Jordaan.