Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Potpourri Vergadering
Beriggewer: Letty-Ann Möller

Hulle sê die pad na ‘n man se hart loop deur sy maag, maar tydens hulle Potpourri vergadering op 14 Oktober 2025 in die NG-kerksaal van Riviersonderend het VLV Bredasdorp-tak agter gekom die pad na ‘n vrou se maag loop deur haar hart.

Op pad na die kaasfabriek het vier kalfies leepoog die groep vroue aangekyk en almal se harte verower. Lede is bekend gestel aan ‘n fudge- en ‘n kaasfabriek op dieselfde plaas,’Çoncordia’, 5km buite Riviersonderend danksy die reëlings van Michelle Reichert, die Bredasdorp-lid wat op Riviersonderend woon,

Zelda Kingwill se kaasmaak-demonstrasie en die toer deur die kaasfabriek was insiggewend. Dis ongelooflik hoe 18 verskillende kaassoorte van diesélfde melk gemaak word deur verskillende kulture by die melk te kweek.

Beleë Cheddar neem ‘n minimum van 6 maande om ryp te word. Boonop is daar verskillende geure soos Italiaanse mengsel, Pesto kruie, Sagte (‘mild’) Cheddar, Gerookte Jalapeno en Gerookte Cheddar.  Dit alles gemaak van die melk van Jersey koeie wat op Concordia wei. Zelda Kingwill het ook ingewillig tot ‘n video in haar koelkamer. Hierdie video het groot byval gevind op Facebook.

Die dames het van die plaashuis van Zelda Kingwill oorgestap na die fudge-fabriek waarvan Marie-Louise Trollip die VLV-lede die oggend tydens die potpourri-vergadering vertel het. Die fudge-inspirasie kom van ‘n hond wat raakgery is en die onbekostigbare DBV-kwotasie om hom reg te dokter. “Maar ek kan mos fudge maak en verkoop”, was Maie-Louise se eerste gedagte. Vandag lewer sy 2 ton fudge per maand.

Die volgende spreker die oggend was haar  14-jarige dogtertjie, Maya Trollip, wat haar lapslakke vertoon het (proto-tipe is uit ‘n ou skoolsokkie en pypskoonmakers gemaak).  Hierdie lapslakke maak en verkoop hierdie jong entrepreneur reeds die afgelope vier jaar. Die bravado van die jeug!

Met ‘n kop vol kennis,’n hart vol hoop en hande vol geskenkies* is die groep vroue terug Bredasdorp toe.

Marie-Louise Trollip het 60 blokkies fudge saam gestuur vir die volgende dag se Overberg Sirkel Saamroepersvergadering op Caledon.

Zelda Kingwill,kaasmaker van Kingwill Cheese,verduidelik die proses van kaas

maak.’n Video is hiervan gemaak.

                                              

Marie-Louise en Maya Trollip, twee entrepreneurs van Riviersonderend, inspireer

Bredasdorp tak met hulle sukses.

                                              

Hierdie slakke is deur die 14-jarige Maya Trollip vervaardig. Dit kan dien as slaapkussing vir skooltoere,babastutkussing en selfs ‘n nuttige kussing om gemakliker te slaap tydens swangerskap.

                                               

Michelle Reichert (regs op foto), een van Bredasdorptak se jongste lede, het die uitdaging aanvaar om vir ons ‘n takuitstappie na Riviersonderend te reël. Dit was uitstekend!

Hier stel sy die spreker, Zelda Kingwill bekend.