Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Tak:                  Aberdeen

Sirkel:               Middelland

Portefeulje:        Opvoeding & Kultuur

Beriggewer:       Lea van der Vyver

Datum:              6 Augustus 2025

Na ‘n welkome breek vir die Wintervakansie en jagseisoen, kom Aberdeen VLV se vroue byeen vir Augustus se leersame vergadering. Daar word heerlik onder mekaar gesels en uitgevra na elkeen se welstand.

Tafelblomme met program

Voorsitter Lea van der Vyver verwelkom lede, gaste en die spreker van die dag. Petro Marx, Saamroeper Opvoeding & Kultuur, open uit Johannes 17 en moedig lede aan om Bybel, die Lewende Woord van God, te lees en ‘n verhouding met Jesus te hê.

Na bespreking van ‘n paar VLV-sake en tak-projekte, stel Petro Marx die spreker van die dag bekend nl. Pierre de Villiers, FEDSAS Provinsiale Bestuurder. Hy het 37 jaar ondervinding in die Onderwys en lewer op dié manier steeds ‘n bydrae, selfs na sy aftrede. Die onderwerp van die dag is die omstrede BELA Wet van 2024, waarvan die proklamasie kennisgewing op 24 Desember 2024 in die Staatskoerant gepubliseer is. Beide die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 en die Wet op Indiensneming van Opvoeders van 1998, is deur BELA gewysig. Hierdie gewysigde wetgewing het reeds in Januarie 2025 in werking getree en is opgeneem in die Nuwe SA Skolewet van 2025. Die regering publiseer nog van tyd tot tyd regulasies wat verdere riglyne gee oor hoe die Aangepaste Skolewet op grondvlak toegepas moet word.

Pierre de Villiers Provinsiale Bestuurder van FEDSAS, aan die woord

Pierre verduidelik die verskil tussen beheer en bestuur by die skool – die Skoolhoof is verantwoordelik vir alles binne die klaskamer (bestuur), terwyl die Beheerliggaam verantwoordelik is vir alles daarbuite (beheer). Beide moet saamwerk om ‘n effektiewe geheel te vorm. Die Departement van Onderwys is verantwoordelik vir die wetgewing waarbinne funksioneer word en daar is formele prosesse wat gevolg moet word. FEDSAS ondersteun skole en skoolhoofde en bemagtig Beheerliggame om te verseker dat prosesse reg loop.

Enkele veranderinge wat in werking getree het, word bespreek. Basiese onderwys sluit nou ook Graad R in, met toelatingsouderdom van 4 jaar oud indien teen 30 Junie 5 jaar oud word. Verder moet Graad R opvoeders nou ook Grondslagfase kwalifikasies hê. Sekere vereistes vir Tuisopvoeding word ook in die wet beskryf. Alle kinders moet nou aanvaar word, ongeag of hulle ‘n ID dokument besit. Die skool moet dan ouers bystaan in die proses om wel die dokumentasie te bekom. Die begrip “dwelm” word uitgebrei en sluit nou ook steroïde en drank in. Die begrip “lyfstraf” word ook uitgebrei en geen lyfstraf mag toegedien word nie.

Die belangrikheid van die gedragskode van die skool wat deur die Beheerliggaam aanvaar word, word beklemtoon, asook dat elke ouer en leerder dit moet lees. Leerders kan nie meer geskors word as daar net ‘n vermoede van ernstige wangedrag is nie. Die oortreding moet spesifiek ook in die gedragskode gelys wees, anders kan die skool dit nie aanspreek nie.

Die nuwe wet stel dit ook dat die Beheerliggaam ‘n skool se toelatingsvereistes en taalbeleid oor tyd hersien word om aan te pas by veranderinge in die gemeenskap. Daar is formele prosesse wat gevolg moet word en die Departement kan dit nie eensydig verander nie.

Aangesien die Beheerliggaam van die skool so ‘n belangrike funksie vervul, is dit van uiterse belang dat gekwalifiseerde mense verkies word. Relevante kundigheid wat nie beskikbaar is nie, mag van buite koöpteer word (bv. finansies). Lede van die Beheerliggaam mag nie finansiële vergoeding ontvang nie. Die Beheerliggaam moet ‘n skoolfonds stig en administreer in ooreenstemming met voorskrifte van die HOD. Daar moet ook ‘n detail begroting opgestel word, wat deur ouers goedgekeur moet word. Daar is egter prosesse wat die Departement is staat stel om funksies en magte van Beheerliggame wat disfunksioneel of onaktief is, terug te trek of persone te skors.

Pierre de Villiers, FEDSAS Provinsiale Bestuurder en Petro Marx, Saamroeper Opvoeding & Kultuur

FEDSAS is ‘n nasionale verteenwoordigende organisasie vir Beheerliggame. Hulle lig in, organiseer, mobiliseer en ontwikkel lede om effektief in die komplekse omgewing te funksioneer. FEDSAS lewer ook kommentaar op konsepwetgewing en onderwysbeleid, om sodoende lede se belange op hoë vlak te verteenwoordig. FEDSAS was instrumenteel in die BELA ontwikkelingsproses om die wet te verander om dit meer aanvaarbaar te maak.

Vlnr Elise Steynberg, Alicia van Heerden, Petro Marx, Marguerite Matthee, Heidi Lombard, Ilsé Janse van Rensburg, Lea van der Vyver, Karen van Rensburg, Pierre de Villiers, Christelle Nel, Lize de Jager, Miems van Loggerenberg, Talana Verwey, Carina Esterhuizen, Johané Botha. Foto geneem deur Lizemari Jordaan.

Die gelukkige trekking van die dag word deur Petro Marx gewen. Die vergadering word afgesluit met koffie en smaaklike verversings deur Heidi Lombard en Marguerite Matthee.

Tafel met smaaklike verversings