Sirkel: Middelland
Tak: Aberdeen
Portefeulje: Afsluiting en Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Lea van der Vyver
Datum: 5 November 2025
Vroeg in November kom Aberdeen VLV dames byeen om ‘n bedrywige jaar af te sluit.
Skenking
Die oggend begin by Aberdeen Hospitaal waar ‘n skenking van linne en kussings oorhandig is. Matrone Sharon Hart en haar personeel het dit met dankbare harte en groot glimlagte in ontvangs geneem.

Oorhandig skenking aan Aberdeen Hospitaal
Vlnr: Verpleegster V Travill, Berader P Tinus, Verpleegster NG Vena, Toesighouer N Jacobs, Stafverpleegster L Bishoti, Suster C Grootboom, Matrone S Hart, Heidi Lombard en Lea van der Vyver
Opening & VLV Sake
Daarna kom lede by die Aloe Lodge gastehuis in die dorp byeen. Lize de Jager open met ‘n gepaste stukkie uit Fil3:13. Los dit wat agter jou is en strek jou uit na wat voor is. Neem die jaar wat verby is in oënskou – leer uit jou foute en bou op die suksesse.

Ingang na Aloe Lodge Gastehuis

Lize de Jager open die oggend met ‘n stukkie uit die Woord
VLV sake kom aan die beurt en ‘n 35 jaar diens kenteken word aan Elna van Niekerk oorhandig. Lea van der Vyver bedank ook elke bestuurslid individueel – die wat ná jare diens afgaan, die nuwes wat nou oorneem, asook dié wat bereid was om aan te bly in hul portefeuljes. Na 11 jaar as voorsitter gee Lea nou oor aan Annalie Lategan. Haar rol in VLV verander en sy neem vanaf Oktober 2025 waar as Sirkel Middelland President. Lea reflekteer oor waarom VLV haar so na aan die hart lê en hoe kosbaar dit is om deel te wees van so ‘n groep positiewe omgee vroue. Spanwerk verseker ons sukses.

Elna van Niekerk (links) ontvang haar 35 jaar diens kenteken van Lea van der Vyver
Impakstudie op Voëllewe vir Windplaas
Etienne Albertyn van “Bird’s Eye View” vertel van die impakstudie op voëllewe wat sy maatskappy vir die beplande windplaas buite Aberdeen doen. Om onafhanklikheid te verseker, het hulle geen kontak met die ontwikkelaars nie en rapporteer aan die maatskappy wat aangestel is om al die impakstudies te doen. Hulle werk streng volgens spesifieke riglyne wat vasgestel is vir voël waarnemingspanne vir beplande ontwikkelingsprojekte. Terwyl die projek aan die gang is, is alle inligting konfidensieel.
Voëlspesies word ingedeel in verskillende kategorieë. Hulle fokus veral op bedreigde en prioriteitspesies. In die Aberdeen area is die prioriteitspesies o.a. breëkoparend, witkruisarend, sekretarisvoël, bloukraanvoël en die pou spesies. Indien daar aktiewe neste en broeiareas vir die arende gevind word, word daar ‘n 6km radius bufferarea rondom soneer waar geen ontwikkeling mag plaasvind nie.
Om data in te samel, word die hele gebied in verskillende uitkykpunte verdeel, elk met ‘n 2km radius rondom. ‘n Span van 2 moet elke uitkykpunt vir 48uur in die jaar beman en opteken wat hulle waarneem vanwaar hulle sit. Bewegings en gedrag van die prioriteitspesies word noukeurig aangeteken. Hulle probeer veral met sonsopkoms en dan weer laatmiddag tot sonsondergang in die veld wees.
Verder word waarneming gedoen wanneer hulle deur die area stap, dan moet alle voëlspesies aangeteken word om sodoende populasiedigtheid te bepaal. Spesifieke fokuspunte wat voëls lok, bv. damme en waterpunte, kry ook spesiale fokus en alle voëls word op ‘n spesifieke toep aangedui. Daar word ook baie stadig deur die hele gebied gery en aangedui watter prioriteitspesies waargeneem is. Verskillende habitat areas binne die gebied, bv. rivierlope, word oor deurgestap om alles aan te teken.

Etienne Albertyn van Bird’s Eye View
Geskenke en Saamkuier
Die dag word op ‘n vrolike noot afgesluit deur die uitruil van geskenke wat elkeen gebring het. Daarna word gesellig gekuier en gesels rondom die etenstafel waar ‘n heerlike vars hoenderslaai en voortreflike meringue-bessie nagereg geniet is.

Geskenke, tafel en kos

Vlnr Agter: Lize de Jager, Engela James, Heidi Lombard, Lizemari Jordaan, Sari van der Merwe, Annalie Lategan
Vlnr Voor: Lea van der Vyver, Karen van Rensburg, Elna van Niekerk, Suzanne Lategan