Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Tygerberg

Tak: Goodwood

Portefeulje: Gesondheid

Saamroeper: Charlotte Huysamer

Beriggewer: Shirley Brand

Datum: 25 Maart 2025

 

139/68 mm Hg en 5.6 mmo/L (Normale Vlakke)

 

Die titel behoort jou belangstelling te prikkel!

 

Dr MH Adam, ‘n algemene praktisyn van Goodwood, het ons kom toespreek oor hoë bloeddruk, diabetes (suikersiekte) en ons lewer.

 

Maar eers ‘n bietjie agtergrond oor Dr Adam. Gekwalifiseer in Durban KZN het Dr Adam kom werk in die Goodwood Kliniek. Na drie jaar het hy besef hy het amper geen interaksie met sy pasiënte gehad nie. Die volume pasiënte in ‘n staatskliniek is ongetwyfeld te veel om persoonlik betrokke te raak met die mens agter die siekte. Dr Adam se hart lê by sy pasiënte se algemene welstand en omstandighede. Daarom het hy besluit om sy eie praktyk te open by sy huis in Townsendstraat, Goodwood. Sy opgeruimde geaardheid en interaksie met ons groep het gesorg vir ‘n baie interessante oggend! Na sy praatjie het almal die vrymoedigheid gehad om vrae te vra wat hy met insig beantwoord het.

 

Met hoë bloeddruk en diabetes is daar gewoonlik min simptome. Wees bedag op ‘n knaende hoofpyn wat met twee panados nie wil verdwyn nie, of duiseligheid. Algemene moegheid kan ook ‘n indikasie wees van hoë bloeddruk.

 

Met diabetes – kyk uit vir aanhoudende dors wat nie geles word nie, buitensporige toilet gebruik (urineer) of gekneusde plekke of snye wat nie wil genees nie.

 

Die lewer (amper 1.8kg) is ‘n belangrike orgaan wat al die voedingstowwe verwerk, skadelike gifstowwe filtreer en jou bloed suiwer. Dit het ook die vermoë om jou bloed te laat stol.

 

Hoe vinniger ons met ‘n dokter gesels, hoe vinniger kan ons behandeling kry om dit onder beheer te bring. Gereelde algemene gesondheids konsultasie met jou dokter is belangrik. Bly ingelig deur te vra en te lees.

 

Dikwels gebeur dit dat medikasie gestaak word deur ‘n pasiënt omdat ons dalk beter voel of die medisyne het newe effekte, Moet NOOIT self staak nie. Bespreek met jou dokter – daar is baie verskillende soorte medisyne wat die dokter kan voorskryf om een te vind wat by jou pas.

 

Dr Adam beveel aan dat ons oplet op oefening (genoeg om te sweet en jou hart vinniger te laat klop), betrokkenheid (soos VLV – interaksie met ander mense), en ons eetgewoontes. Alles in matigheid! Te veel vrugte of te veel van enigiets is TE VEEL! Bv te veel piesangs – hoog in kalium, druiwe hoog in suiker.

 

Dr Adam sluit af met “Ek het op mediese skool geleer om die persoon te behandel. Ja, die siekte, maar eers die persoon!”

 

Annemarie Kable, Dr Adam en Wenda Preuss (Voorsitter)

 

Fokuspunt op teetafel