Tak: Graafwater
Portefeulje: Gesondheid
Saamroeper: Benita Gerber
Beriggewer: Marina Visser
Datum van vergadering: 8 Julie 2025

Tydens hulle gesondheidsvergadering op 8 Julie 2025 het Tracy du Plessis, ‘n Kinesioloog van Clanwilliam, die VLV-tak van Graafwater besoek.
Sy fasiliteer ‘n spiertoets en gebruik so beweging in die liggaam om vas te stel waar daar stres in die liggaam is. Dié stres kan ook veroorsaak word deur iemand se dieet. Die persoon kry dalk te veel of te min van ‘n voedseltipe in of verkeerde kombinasie van voedsel word gebruik.
Deel van Tracy se behandeling is om met kliënte deur hulle emosionele probleme te praat. Dikwels het mense onderdrukte probleme wat gestoor word in die liggaam en die liggaam negatief beïnvloed. Kliënte word deur ‘n proses gebring om te besef wat fout is in hul liggaam en hoe om dit te hanteer. Ons liggaam gebruik ‘m vorm van elektrisiteit en ‘n eenvoudige metode wat Tracy gebruik is om haar hand op die persoon se voorkop te druk terwyl hulle praat oor die probleem. Ons liggaam wil in balans wees en genees homself.
‘n Ander groot belangstelling van Tracy is die bestudering en gebruik van plante. Kapokbos (Wilde Roosmaryn) het ‘n kamfer reuk en kan gebruik word as ‘n tee en in kos. Dit kan ook gestoom word om longe oop te maak en in ‘n salf gebruik word. Die blare van die Taaibos is kalmerend en kan gebruik word om immuniteit op te bou. Valerian help vir slaap en Santolien vir hoofpyn en maagpyn.


Tydens die interessante vergadering is die lootjie vir die Sh’zen geskenk pak getrek en Adéle Garini van Clanwilliam was die gelukkige en dankbare wenner.

Tracy du Plessis (Kinesioloog) en Benita Gerber (Gesondheid saamroeper)

“Koek en tee”
