Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel:             SWD

Tak:                 Voëlvlei

Portefeulje:    Landbou en Tuinbou

Saamroeper: Elize Locke

Beriggewer:   Elize Locke

Datum:           26 Augustus 2025

Dames word met die intrapslag in spanne van vyf gedeel. Om die ys te breek voor die groot vasvrae, sluit ‘n bestuurslid by elke groepie aan en bespreek ‘n onderwerp wat vooraf gekies is. Na drie minute skuif die bestuurslede na ‘n volgende groepie. Ons ontdek na die “speed dating” dat ons ‘n afgetrede vingerafdrukdeskundige, ‘n ballet eksaminatriese en ‘n tante van Annerie Dercksen, Protea krieketspeler, in ons midde het!

Na die lekker gesels bespreek Elize Locke die Rooibekrenostervoël, Wit Melkhout- en Tamboti bome.

Die groepies kies hierna vir hul elkeen ‘n naam voordat die vasvrae begin. Vrae soos “Hoeveel vinne wat soos pote lyk, het die vis wat bekend is as die Selakant, en wie is die minister van Landbou van die RSA?” toets die dames se algemene kennis. Hul moes ook mooi luister na die bespreking oor die Rooibekrenostervoël, Melkhout- en Tamboti-boom omdat van die vrae daaroor gehandel het. Aan die einde van die vasvrae tree die Kiewiete as wenners uit die stryd en elkeen ontvang ‘n pakkie tuisgebakte beskuit.

Joria Pienaar neem die lede saam met haar op die busrit Langebaan toe en doen verslag oor die afgelope Kongres, aangebied deur sirkels Namakwaland en Weskus.

Andrieshia Radyn, Voorsitter, oorhandig ‘n trofee aan Ronel Laubcher wie se Kat van knopekuns ‘n derde plek verower het. Elmarie Engelbrecht en Ada Gericke ontvang sertifikate vir vierde plekke in breiwerk en skryfkuns. Ada lees daarna haar epigram oor Transnet aan die lede voor.

Geen byeenkoms kan sonder ‘n lekker kuier afgesluit word nie. ‘n Langtafel is gedek en die dames smul aan sop, sjerrie en tuisgebakte brode.

Ronel Laubcher se kunswerk

Dames in gesellige luim