Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Aberdeen VLV : 2026 – Van tuin tot tafel, van hart tot gemeenskap

Sirkel:             Middelland

Tak:                 Aberdeen

Portefeulje:    Potpourri

Saamroeper: Elize Steynberg – Gesondheid

                        Carina Esterhuizen – Kunste en Handvlyt

                        Annelie Lategan – Openbare Sake

                        Alicia van Heerden – Opvoeding en Kultuur

                        Lize de Jager – Leefstyl

                        Sari van der Merwe – Landbou

Beriggewer:  Karin Pienaar

Datum:           28 Januarie 2026

2026 het vir die Aberdeen-tak van die Vroue-Landbouvereniging afgeskop met ’n gevoel van verwagting, verbondenheid en doelgerigtheid. Tydens die eerste vergadering van die jaar, gehou op 28 Januarie 2026 by Checkmate Coffee Shop, is dit duidelik bevestig: hierdie is ’n jaar van saamstaan, praktiese betrokkenheid en betekenisvolle groei.

Die Jaar begin met rigting en geloof

Voorsitter Annelie Lategan het die vergadering geopen met ’n diepgaande boodskap oor die nuwe jaar as ’n reis — ’n pad met stilhouplekke waar ons reflekteer, luister en weer koers inslaan. Met Psalm 46 as anker is lede herinner dat, te midde van onsekerheid, God steeds in beheer is. Stilword, verwondering, gehoorsaamheid en diens aan ander is uitgelig as kernwaardes vir die geloofspad én vir die VLV se werk in 2026.

Annelie Lategan (Voorsitter) open die vergadering met die voorlees van ‘n inspirerende gedeelte “Stillhouplekke langs die pad”.

Ons krag lê in spanwerk

Die VLV se tema vir die jaar, Ons krag lê in spanwerk, het soos ’n goue draad deur die vergadering geloop. Soos wildeganse wat in formasie vlieg en mekaar dra, word elke lid herinner dat sy deel is van iets groter as haarself. Die VLV is nie net ’n organisasie nie — dit is ’n gemeenskap waar diens, verbondenheid en gedeelde doel sin en betekenis bring.

Die simboliek van die VLV se driepoot swartpot het hierdie boodskap verder versterk:

die eerste been – persoonlike verryking van die vrou,

die tweede – haar gesin,

en die derde – die gemeenskap.

Wanneer die eerste been sterk is, staan die hele pot stabiel. 2026 se fokus is dus doelbewus op die versterking van vroue — sodat hul impak wyer en dieper kan wees.

Annelie Lategan (Voorsitter) het haar inspirasie vir die jaar uiteengesit deur die embleem van die VLV – ‘n driepoot swartpot te gebruik, wat balans en stabiliteit simboliseer.

’n Aktiewe, betrokke VLV met visie

Die Dagbestuur en portefeuljehouers is voorgestel, met ’n duidelike visie: vergaderings met inhoud, praktiese vaardighede, studierigtings wat mekaar aanvul en ’n sterk fokus op die VLV Projek van die Jaar: Van tuin tot tafel.

Benewens VLV Kaapland- en Sirkel Middelandprojekte, het die tak ook besluit om in 2026 plaaslik te belê:

Ondersteuning van Aberdeen Toerisme, met vergaderings wat by plaaslike ondernemings aangebied gaan word.

Aberdeen Hospitaal, met fokus op linnebehoeftes en ’n meer kindervriendelike kinderafdeling.

Aalwynhof Ouetehuis, waar die tuin opgeknap word om ’n groen, rustige ruimte vir inwoners te skep.

’n Pannekoek-fondsinsameling gedurende die winter om hierdie projekte te ondersteun.

Inspirasie, vaardighede en verdieping

Die studierigtings het die tema van holistiese verryking mooi belig:

Gesondheid: Elise Steynberg het gedeel dat pilates bied omvattende voordele vir dames en ondersteun nie net fisiese fiksheid nie, maar ook alledaagse welstand. Die fokus op kernspiere – insluitend die maag, rug en bekkenbodem – help om postuur te verbeter, pyn te verminder en stabiliteit te bevorder. Dit is veral waardevol vir vroue ná swangerskap, tydens menopouse, of vir algemene liggaamsbalans en blaasbeheer. As ’n lae-impak oefenvorm is Pilates sag op gewrigte, maar steeds doeltreffend om spierkrag en buigsaamheid te ontwikkel sonder om die liggaam styf of oormatig gespierd te laat voel.

Verder dra Pilates by tot stresverligting en beter fokus deur beheerde bewegings en doelbewuste asemhaling, wat ’n gevoel van kalmte en liggaamsbewustheid skep. Dit verbeter balans, voorkom beserings en kan maklik aangepas word vir enige ouderdom of fiksheidsvlak – van beginners tot ervare atlete. Pilates is dus ’n volhoubare en toeganklike oefenopsie wat liggaam en gees in harmonie bring.

Elise Steynberg (Saamroeper : Gesondheid) demonstreer pilates oefeninge wat maklik by die huis gedoen kan word.

Kunste en Handvlyt: n Aangrypende voorlesing deur Lea van der Vyver het lede stilgemaak en herinner aan dankbaarheid, keuses en menswaardigheid:

Dis vroeg oggend en ek is uitgeslaap en lê en dink aan Saartjie. Saartjie is ‘n kleurling vrou van Aberdeen met ‘n sleg man, wat permanent dronk is en dus nie ‘n werk kan hou nie. Saartjie het haar eie 3 kinders en het haar sussie se 3 kinders ingeneem toe sy oorlede is. Ek weet sy kry hulp van die staat, maar vat elke werkie wat sy kan kry, vir nog ‘n geldjie, want baie van haar geld gebruik haar sleg man vir ‘n rooiproppie. (Dis wat hulle die goedkoop wyn in ‘n plastiek bottel met ‘n rooi prop noem) Toe ek intrek in my huis op Graaff Reinet kom help Saartjie en 2 ander vroue. Hulle was en skrop en olie meubels vir 3 dae lank. Toe hulle betaal word, gee Saartjie die helfte van haar geld vir Pieter om te bêre, want sy weet haar sleg man gaan vanaand geld wil hê vir sy rooiproppie. Maar wat my die meeste geruk het, was toe Saartjie vir my vra of sy 2 van die sterk lang bokse kan kry. Sy wil vir haar ‘n cupboard gaan maak.

En vanoggend lê ek weer en dink aan die lewe se ongelykheid en Saartjie se cupboard. Hier lê ek in my queensize bed in ‘n huis met baie cupboards. Meer as genoeg en Saartjie wil 2 van my weggooi bokse hê want sy het te min cupboards.

Ek begin redeneer oor die ongelykhede en besef dat dit nooit gelyk gemaak kan word nie. Selfs Jesus het dit beleef in Sy tyd op aarde. Hy het vir die dissipels gesê, die armes sal altyd by julle wees. Maar ek wonder nog steeds daaroor en ek besef net dat jou omstandighede, is wat dit is, as gevolg van keuses wat jy maak.

As Saartjie se man sou kies om vir haar ‘n cupboard te koop in plaas van al die rooiproppies, sou hy sy werk gehou het en Saartjie sou nie nodig gehad het om bokse te gebruik of haar geld weg te steek nie. Sy kan ook kies om hom te los! Sy het seker haar redes, maar…

Ek besef vandag hoe vreeslik baie het ek om voor dankbaar te wees. Al is daar goed wat ek begeer en nie kan hê nie, soos ‘n sitplek by Wimbledon, en ek sien die prinsie en prinsessie wat nog in die laerskool is, elke jaar daar sit, pla dit my nie, want ek kan Wimbledon op my TV kyk. So hoop ek Saartjie is tevrede met haar sterk bokse al begeer sy my ingeboude cupboards.

EN EK SÊ DANKIE HERE VIR DIE ONEINDIG BAIE VOORREGTE WAT EK HET!!!

Skrywer: Martie Botha

Lea lees ‘n gedeelte voor wat deur Martie Botha (die moeder na Lizemari Jordaan – een van Aberdeentak se lede) geskryf is.

Openbare Sake: Karen van Rensburg het entrepreneurskap lewendig gemaak met praktiese insigte uit die gasvryheidsbedryf.

Sy het verduidelik dat entrepreneurskap behels om ’n besigheid te begin en te bestuur, en verantwoordelikheid te neem vir die lewering van ’n produk of diens waarvoor mense bereid is om te betaal. Sy het beklemtoon dat entrepreneurs in elke dorp voorkom, van kosverkope en afleweringsdienste tot kreatiewe en gasvryheidsbedrywe.

Aan die hand van haar ervaring met die oprigting van ’n gastehuis het sy die belangrikheid van hoë standaarde, goeie administrasie, sterk bemarking en uitstekende dienslewering uitgelig. Haar boodskap was dat entrepreneurskap toewyding verg, maar ook die geleentheid bied om ’n inkomste te skep, waarde tot die gemeenskap toe te voeg en iets eie met trots te bou.

Karen van Rensburg deel haar praktiese ervaring as entrepreneur in die gasvryheidsbedryf.

Opvoeding en Kultuur: Alicia van Heerden het lede bekendgestel aan die Myers-Briggs persoonlikheidstoets en hoe dit kan help om jouself sowel as ander mense beter te verstaan.

Lede voltooi die persoonlikheidstoets.

Leefstyl: Suzanne Lategan het kreatiewe en praktiese idees gedeel oor hoe eenvoudige, alledaagse items uit die tuin en huis gebruik kan word om ’n warm en uitnodigende tafel te versier. Sy wys hoe herwonne houers, blompotte, bottels, potjies, mandjies en selfs natuurlike elemente soos blare, neute, dennetolle en klippies omskep kan word in dekoratiewe kersehouers en tafeldekor.

Haar fokus was op eenvoud, volhoubaarheid en kreatiwiteit — sonder die behoefte aan duur aankope. Sy het lede word aangemoedig om te werk met dit wat reeds beskikbaar is en hul eie styl te weerspieël, of dit nou vir ’n alledaagse tafel, ’n seisoenale herfstafel of ’n spesiale geleentheid is. Suzanne het praktiese inspirasie gebied om met min moeite ’n groot visuele impak te skep.

Suzanne Lategan deel kreatiewe en praktiese idees hoe om jou tafel te versier met eenvoudige, alledaagse items

Landbou en Tuinbou: As deel van Van tuin tot tafel het Sari van der Merwe en Annelie Lategan waardevolle, praktiese kennis gedeel oor organiese tuinbou, grondgesondheid en die maak van steggies.

Wanneer jy ’n organiese groentetuin wil begin, is beplanning jou eerste en belangrikste stap – nog vóór die eerste graaf in die grond steek. Ligging, ligging, ligging geld net soveel vir ’n groentetuin as vir ’n huis. Groenteplante benodig minstens ses uur sonlig per dag, met ’n noordelike ligging wat ideaal is. Waar sonlig beperk is, kan blaargroentes soos slaai en spinasie steeds goed presteer.

’n Groentetuin moet verkieslik naby ’n waterpunt en die kombuis wees, veral vir gewasse wat gereeld geoes word. Groente wat meer spasie benodig, soos aartappels, kool en pampoene, kan verder van die huis af geplant word. Vandag is groentetuine nie meer afgesonderde “agterhoftuine” nie, maar deel van ’n geïntegreerde, mooi en funksionele tuinontwerp.

Organiese tuinmaak beteken om saam met die natuur te werk en jou tuin as deel van ’n groter lewensiklus te sien. Soos in ’n woud, waar dooie blare en organiese materiaal die grond voed, streef ons daarna om ’n lewende, gesonde grond te bou. Gesonde grond is humusryk – vol mikroskopiese organismes wat noodsaaklik is vir plantgroei. Humus verbeter grondstruktuur, hou vog vas en stel voedingstowwe geleidelik vry.

Sari van der Merwe (Saamroeper : Landoub) deel ‘n paar waardevolle wenke oor organiese tuinbou.

Plante se voedingsbehoeftes word dikwels verkeerd verstaan. Ongeveer 96% van ’n plant se samestelling bestaan uit suurstof, waterstof en koolstof, wat die plant hoofsaaklik uit lug en water verkry. Slegs die oorblywende 4% kom uit die grond en bestaan uit makro- en mikro-elemente soos kalsium, magnesium, fosfor en ander minerale.

Dit beteken dat plante nie net van kos in die grond leef nie — hulle het lug in die grond nodig. Die wortels moet kan asemhaal.

Die belangrikheid van grondstruktuur

Gesonde grond is grond wat lugholtes bevat. Hierdie klein ruimtes (ook genoem “lugborrels” of air pockets) hou suurstof vas, wat noodsaaklik is vir wortelontwikkeling en gesonde groei.

Kleigrond wat vasgedruk is, bevat min lug en veroorsaak dat wortels kan vrot.

Leemgrond is ideaal: dit hou vog, maar laat ook lug deur.

Sandgrond dreineer goed, maar moet met organiese materiaal verryk word.

Erdwurms speel ’n baie belangrike rol: hulle maak natuurlike tonnels wat lug en water deurlaat en help om dooie plantmateriaal in voedende humus om te skakel.

Hoe om grond te rehabiliteer

As jou grond te swaar of kleierig is:

1. Werk organiese materiaal soos kompos, blare, dooie gras en fyn bas in.

2. Meng swaar grond met leem- of sanderige grond om die struktuur te verbeter.

3. Moet nooit grond kaal laat lê nie — deklaag beskerm en voed die grond.

4. Goeie grond is die sleutel tot suksesvolle tuinmaak.

Steggies: Hoe en Wanneer

Steggies is ’n eenvoudige en bekostigbare manier om plante te vermeerder. Daar is drie hoofsoorte steggies:

1. Sagtehoutsteggies:         Word geneem van kruie en sagte plante (bv. kruisement, basiliekruid, malva).

Beste tyd: lente tot vroeë somer.

Gebruik wortelhormoon nr. 1

2. Semi-harde steggies:      Struike soos rose, laventel en ander meerjarige plante

Beste tyd: laat somer tot vroeë herfs

Gebruik wortelhormoon nr. 2

3. Hardehoutsteggies         Bome en houtagtige struike

Beste tyd: winter

Gebruik wortelhormoon nr. 3

Hoe om ’n steggie te maak:

1. Sny ’n steggie van 10–20 cm

2. Gebruik ’n skoon, skerp instrument

3. Verwyder onderste blare; hou net die boonste 1–2 blare

4. Doop die punt in wortelhormoon

5. Plant in ligte, goedgedreineerde grond met baie lugruimtes

6. Maak ’n gaatjie met ’n potlood voor jy plant om die hormoon nie af te vryf nie

7. Druk liggies vas en hou klam, nie nat nie

8. Geduld is nodig

9. Wortels neem tyd om volledig te ontwikkel — dikwels tot ’n jaar. Daarom word steggies vooruit gemaak sodat plante sterk is wanneer hulle uiteindelik uitgeplant word.

Suksesvolle tuinmaak gaan nie oor duur produkte nie, maar oor:

  • Gesonde grond,
  • Genoeg lug en dreinering
  • Regte tydsberekening
  • Geduld en liefde vir plante
  • As die grond reg is, sal die plante groei.

Die kernboodskap was duidelik: gesonde grond skep gesonde plante — en uiteindelik gesonde mense. Organiese tuinmaak is nie ’n modegier nie, maar ’n leefwyse wat saam met die natuur werk en deel is van ’n groter skeppingsiklus.

Annelie Lategan (Voorsitter) deel haar kennis oor plantvoeding, grondgesondheid en die maak van steggies.

Aberdeen VLV gaan 2026 saam te leer, saam te dien, saam te lag, en saam ’n verskil maak.

Van die tuin tot die tafel.

Van vrou tot vrou.

Van hart tot gemeenskap.

Alicia van Heerden nuwe Vise-Voorsitter van Aberdeen VLV.

Aberdeen VLV se eerste vergadering is gehou by Checkmate Coffee Shop/ Aberdeen Selfcatering – Relax in the heart of the Karoo (www.aberdeenselfcatering.co.za)