Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Aberdeen VLV: Van tuin tot tafel op Karri Grove

Sirkel:             Middelland

Tak:                 Aberdeen

Portefeulje:    Landbou en Tuinbou

Saamroeper: Sari van der Merwe

Beriggewer:  Karin Pienaar

Datum:           20 Mei 2026

Die Aberdeen VLV-tak het op 20 Mei 2026 ’n besonder gesellige en leersame vergadering op Karri Grove, die plaas van Joe en Marika Kroon, gehou. Ná goeie reën in die omgewing het die dag sommer met ’n tikkie avontuur begin toe lede voertuie moes parkeer en deur die modder oor ’n beskadigde brug stap voordat Joe hulle met sy bakkie tot by die plaashuis vervoer het. By die huis is almal hartlik verwelkom met warm koffie en heerlike koeksisters, wat sommer dadelik vir ’n ontspanne en huislike atmosfeer gesorg het.

Na die heerlike reën en verspoelde paaie maak ’n boer mos ’n plan — Joe Kroon vervoer VLV-lede met sy bakkie veilig tot by Karri Grove vir ’n besondere oggend van kuier en leer.

Voorsitter Annalie Lategan het almal welkom geheet en Joe en Marika bedank vir hul gasvryheid en die voorreg om die vergadering op hul plaas te kon hou. Lea van der Vyver het die opening waargeneem met ’n inspirerende boodskap oor dankbaarheid en vriendskap. Sy het lede aangemoedig om die klein seëninge van die lewe raak te sien en kosbare vriendskappe te koester.

As deel van die VLV se jaartema, “Van tuin tot tafel”, het Annalie praktiese herfstuinwenke gedeel. Lede is aangemoedig om tuine wintergereed te maak deur kompos en deklaag aan te wend, koel-seisoen groente te plant en plante teen vroeë ryp te beskerm.

Lize-Marie Jordaan het terugvoer gegee oor die Moedersdag-uitreik na Aalwynhof Ouetehuis. Sy het vertel hoe dankbaar en aangedaan die inwoners was oor die besoek en bederf. Die interaksie tussen oud en jonk het ’n besondere indruk gemaak en die oggend is as warm, geseënd en betekenisvol beskryf.

Sari van der Merwe het daarna ’n interessante bespreking oor kruie, speserye en hul medisinale waarde aangebied. Sy het verduidelik hoe kruie nie net in kos gebruik word nie, maar ook in tee, ekstrakte en kompressies vir verskeie kwale en ongemakke. Praktiese wenke oor die oes en droog van kruie is gedeel, asook interessante feite oor chai-tee en die gesondheidsvoordele van speserye soos gemmer, kaneel, kardemom en naeltjies.

Saffraan, bekend as die “rooi goud” en “sonsynspesery”, het ook groot belangstelling uitgelok.  ‘n Gereelde koppie saffraantee kan help met gemoedstoestande, angs, inflammasie en menstruele ongemak.

Joe Kroon het vertel hoe hy tydens die droogtejare na alternatiewe maniere moes kyk om ’n ekstra inkomste te genereer. Dit het gelei tot die ontstaan van sy unieke “Lamb Bacon”-produk, wat van Karoo-lam vervaardig word en op die plaas gepekel, gerook en verpak word.

Karoo-geur in elke sny — egte Lamb Bacon, koud-gerook en onweerstaanbaar.

Hy het verder verduidelik hoe sy navorsing getoon het dat saffraan uitstekend aard in die Karoo se hoë pH-grond. Lede het met groot belangstelling meer geleer oor die arbeidsintensiewe proses waardeur die delikate saffraanblomme vroegoggend met die hand gepluk word en die fyn rooi draadjies sorgvuldig gedroog word.

Saffraan — een van die wêreld se kosbaarste speserye.

Die delikate saffraanblom waaruit die wêreldbekende “rooi goud” geoes word.

Droë saffraanblomme – klein drade van geur en kleur.

Saffraan se goue rooi draadjies — kosbaar, geurvol en met die hand geoes uit die hart van luuksheid.

VLV-lede besoek die saffraanlanderye op Karri Grove en leer meer oor die verbouing van hierdie waardevolle spesery.

Na afloop van die praatjie het Marika Kroon heerlike sop, kaasbrood en Lamb Bacon voorgesit — die perfekte afsluiting van ’n dag gevul met leer, inspirasie, kuier en ware Karoo-gasvryheid.

Marika Kroon het heerlike sop, kaasbrood en hulle unieke “Lamb Bacon” aan die VLV-lede voorgesit.

Die dag het weereens bevestig dat VLV veel meer is as net vergaderings: dit is ’n plek waar vroue saam leer, mekaar ondersteun, nuwe vaardighede ontdek en waardevolle vriendskappe bou.

Vlnr:  Sari van der Merwe (Saamroeper: Landbou en Tuinbou), Marika en Joe Kroon van Karri Grove, Kendrew.

’n Heerlike dag van leer, lag en kuier saam met vriendinne op Karri Grove.

Vlnr: Marlie Lategan, Annalie Lategan (Voorsitter), Joan Barnard, Lea van der Vyver (Sirkel President, Sirkel Middelland), Carina Esterhuizen en Mariaan Marais.