Skip to main content

Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel:               PAARL

Tak:                  SLOT VAN DIE PAARL

Portefeulje:       OPVOEDING & KULTUUR

Beriggewer:      ALETTA KEYSER

Datum:             5 MEI 2026

UNIEKE GEOLOGIE EN BIODIVERSITEIT VAN SLOT VAN DIE PAARL SE OMGEWING

Ons gasspreker was dr. Kas Hamman, ekoloog en voor sy aftrede, hoof-uitvoerendebeampte by Cape Nature. Aan die hand van “tyd in perspektief” stel hy ons sonnestelsel, aarde en lewe op aarde, in perspektief deur hoogtepunte en ontwikkeling met verloop van biljoene jare, uit te lig.

Met die ontdekking van talle fossiele en ontwikkeling van wetenskaplike navorsing die afgelope 60 – 70 jaar, kan heelwat meer lig gewerp word op die evolusie van lewe op ons planeet.

Die superkontinent, Gondwana, het bestaan uit die hedendaagse Afrika, Suid-Amerika, Antarktika (Suidpool), Australië en Indië en was grootliks met ys bedek. Gondwana het ongeveer 180 miljoen jaar gelede opgebreek en begin ronddryf. Dit het hoofsaaklik bestaan uit sedimentêre afsettings, wat versteen het en sandsteenformasies het begin vorm. Ons bergreekse is gevorm a.g.v. die opbreekproses, die rondbeweeg en drukking van die tektoniese plate.

In die Karoo was baie vulkaniese aktiwiteit in die tyd van die Gondwana-kontinent, soveel so dat gasse grootliks ontsnap het en bitter min skaliegas vandag nog teenwoordig is. Die klimaat het verander a.g.v. die ontstaan van die Indiese en Atlantiese Oseaan (na die opbreking van die kontinent), asook die groot dreinering na die oseane wat plaasgevind het. Plante en diere moes hierby aanpas of uitsterf.

Dit het ’n groot verskeidenheid oor die afgelope 10 miljoen jaar teweeggebring. Unieke aangepaste plant- en dierspesies is gevorm. Die sandsteenformasies was eintlik nie plant- en diervriendelik nie, omdat dit suur water uitloog en lae nutriëntvlakke het. Die warm somers en nat winters was nog meer onvriendelik. Spesies moes aanpas en daarom is daar vandag o.a. die groot verskeidenheid fynbosspesies.

Ons Paarl-granietkoepel is redelik jonk, slegs 50 miljoen jaar oud. Dr. Hamman sluit af deur te sê dat kennis mag is. As die mens weet hoe die natuur werk, kan ons dit meer effektief bestuur om die verlies van diversiteit te verminder en die negatiewe invloed van die mens daarop te beperk sodat die aarde volhoubaar bewerk word en ons ons lewensvatbare aarde aan ons nageslag kan oorgee.

vlnr: Marietjie Lombard (Voorsitter), dr. Kas Hamman (Spreker), Leoné Hanekom

 (Saamroeper) en Karen Barnard (President Sirkel Paarl)

Uitstalling van ou kombuisware