Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Weskus

Tak: Vredenburg

Portefeulje: WBPV Woman Walk the World

Voorsitter: Jacoba van der Merwe

Beriggewer: Jo-Ann Claassen

Datum van vergadering: 29 April 2026

VLV Vredenburg stap saam vir ’n wêreldwye doel

Op ’n pragtige sonskyndag het die dames van VLV-Vredenburg hul stapskoene aangetrek en koers gekies na Jacobsbaai om deel te neem aan die jaarlikse Woman Walk the World-inisiatief.

Women Walk the World is ’n wêreldwye projek van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue, wat vroue van regoor die wêreld aanmoedig om simbolies saam te stap. Die doel is om bewusmaking te skep oor die organisasie se projekte wat vroue en gemeenskappe ondersteun, asook die uitdagings wat vroue in landelike gemeenskappe ervaar. Dit is ’n viering van samewerking, omgee en die krag van vroue wat saamstaan oor grense heen.

Teen die pragtige Weskus-agtergrond het die Vredenburg-dames die oggend se stap terdeë geniet. Die vars seelug, sagte branders en uitgestrekte kuslyn het ’n rustige atmosfeer geskep. Die natuurskoon het die sintuie verfris en ook ’n gevoel van dankbaarheid en ’n stille waardering vir die skepping gebring.

Langs die roete het die groep nie net die natuurskoon bewonder nie, maar ook vriendelike plaaslike inwoners raakgeloop. Daar is spontaan stilgestaan vir ’n geselsie hier en daar, stories is gedeel en nuwe kennisse is gemaak. Hierdie oomblikke het die ware betekenis van die dag onderstreep – om mense bymekaar te bring.

Na die stap het die dames saam gekuier en die oggend op ’n gesellige noot afgesluit. Met iets lekkers om te eet en baie lag en gesels, is die dag se ervarings gedeel en onthou. Dit was duidelik dat die geleentheid nie net oor die stap self gegaan het nie, maar oor die verbondenheid, die vreugde van saamwees en die wete dat hulle deel is van ’n groter wêreldgemeenskap.

Met dankbare harte en mooi herinneringe sien die VLV Vredenburg dames reeds uit na volgende jaar se deelname aan die Woman Walk the World inisiatief.

VLV Vredenburg-dames gereed en vol geesdrif vir die Women Walk the World-stap in Jacobsbaai.

Die dames val met ’n lekker, energieke pas in tydens die Women Walk the World in Jacobsbaai.

Die VLV stappers ontdek ‘n unieke stukkie kusgeskiedenis langs die pad.

Die pragtige Jacobsbaai se kuslyn en natuurskoon wat die dag besonders gemaak het.

Die dames neem ‘n oomblik by die ikoniese uitkykpunt om Jacobsbaai se natuurskoon en geskiedenis te geniet.

Gelukkig is dit afdraande terwyl die stappers die roete langs Jacobsbaai voortsit.

Langs die roete word plaaslike inwoners raakgeloop, en soos dit maar met VLV-dames gaan, ontaard dit vinnig in gesellige kuiertjie. Selfs Barry het kom groet.

Dapper stappers maak nog herinneringe langs die see.

Die VLV-stappers – byna so mooi soos die uitsig.

Die dames geniet welverdiende verversings – ’n gesellige afsluiting van ’n heerlike dag.