Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Saamroeper: Ronel Laubcher
Beriggewer: Alida Strydom
Datum: 17 Februarie 2026
VLV VOЁLVLEI KUIER MET FRANSE FLAIR
Die dames van die Voёlvlei-tak het gedurende Februarie in Gouritsmond vergader. Die byeenkoms was gelei deur Ronel Laubsher, verantwoordelik vir Opvoeding en Kultuur met die tema, Franse Flair. Die spreker was Coralie Neyrand,’n nuwe inwoner van Gouritsmond, wat ‘n Franse burger van oorsprong is.

Coralie Neyrand en Ronel Laubcher (Saamroeper Opvoeding en Kultuur)
Coralie het die dames toegespreek oor die Franse kultuur en kosse. Sy het baie interessanthede vertel en het die verskillende streke in Frankryk uitgewys met behulp van kaarte, en hoe die streke, nie net geografies verskil nie, maar ook hoe dit verskil t.o.v die kultuur, die kos en die gebruike en gewoontes. Verder verskil die leefwyse in die stede baie van die platteland.
Sy vertel dat herwinning verpligtend is in Frankryk. Herwinningsmateriaal word tuis gesorteer in verskillende dromme en dan deur die munisipaliteit verwyder. Kompostering word deesdae in huishoudings in die stede verplig om sodoende die groot rommelprobleem in Frankryk te verminder.
Sy het ons ingelig hoe om Frankryk te benader sou jy as toeris daarheen wil reis m.b.t. die infrastruktuur sowel as die taalgebruik. Sy het verder, heel gepas Franse tradisionele disse en kosgebruike bespreek. Die Franse is besonder lief vir kos en etes word beskou as sosiale ervarings wat tot vier ure kan duur.
Aansluitend by die Franse-tema het Coralie twee tipiese Franse doopsouse vir die dames gedemonstreer, naamlik ‘n humus en Cervelle de canut (silk worker’s brain) wat ‘n yogurt gebaseerde doopsous is, met sy oorsprong in die 19de eeu in die streek van Lyon. Die dames kon tydens teetyd die doopsouse saam met haar tuisgebakte doopsous geniet.
Om aan te sluit by die dag se tema asook die tema van VLVK, Ons krag lê in SPANWERK is die dames in vier groepe gedeel waar hul as span moes saamwerk om van ‘n hopie houtblokkies hul weergawe van ‘n Eiffeltoring te bou. Dit was ‘n groot uitdaging aangesien die blokkies van verskillende groottes en vorms was. Die uitdaging het ‘n groot gelag laat opklink.
Au revoir.

vlnr Corrie Stanford (gas), Christa Wostenholm (gas), Joria Pienaar en Andrieshia Radyn (Voorsitter)

Potte vol laventel om by die Franse tema aan te sluit