Sirkel: Middelland
Tak: Aberdeen
Portefeulje: Leefstyl, Gesondheid en Opvoeding
Saamroeper: Lize de Jager
Beriggewer: Karin Pienaar
Datum: 16 April 2025
VLV Aberdeen het hierdie maand ‘n leefstylvergadering met ‘n “twist” gehou – met ‘n gedeelde strewe om vir ander om te gee, leer ons ook om onsself te koester.
Lede en gaste word hartlik verwelkom deur Lea van der Vyver (Voorsitter). Ons harte gaan uit na Stephanie Theron met die afsterwe van haar moeder. Terselfdertyd vier ons saam met Elise Steynberg haar uitsonderlike prestasie met die suksesvolle voltooiing van die Ironman én die Two Oceans Marathon – alles binne een week!

Groepfoto
Vlnr agter: Van links na regs: Carina van Rensburg, Lize de Jager, Lea van der Vyver (Voorsitter), Marché van der Merwe (gas), Ritha Smal (gas), Karen van Rensburg, Karin Pienaar (agter), Marguerite Matthee (agter), Suzanne Lategan, Retha Lategan (agter), Annemarie Taylor (gas), Antje Schulz (gas), Sunita van Zyl (gas), Diane Bertram (Spreker) en Annelie Lategan
Fotograaf: Lizemari Jordaan.

Elize Steynberg voltooi die Two Oceans Marathon ses dae nadat sy aan die Ironman deel geneem het.
Saamroeper Lize de Jager het vergadering geopen het met Filippense 1:6 – ‘n tydige herinnering dat God die goeie werk wat Hy in ons begin het, ook sal voltooi.
Ons spreker vir die dag, Diane Bertram, is ‘n ervare maatskaplike werker van Graaff-Reinet, wat met groot deernis en kundigheid gepraat het oor die tema van self-liefde.

Diane Bertram, Maatskaplike Werker van Graaff-Reinet
Met meer as 33 jaar se ondervinding in sosiale werk, en ‘n passie vir mense – veral kinders en gesinne – het Diane die groep gelei in ‘n reeks praktiese tegnieke om innerlike rustigheid te vind. Die sessie het begin met asemhalingsoefeninge, hand- en voetoefeninge, en is afgesluit met Emotional Freedom Technique (EFT) – beter bekend as Tapping – ‘n metode wat help om negatiewe energie, angs, depressie en selfs fisiese pyn te verlig.

Diane Bertram demonstreer Tapping.
Vir wie is jy lief?
Diane het die belangrike vraag gevra: “Vir wie is jy lief?”
Tot die lede se verbasing het niemand aanvanklik aan hulself gedink nie. Hierdie oomblik het ‘n belangrike waarheid ontbloot: as jy nie vir jouself lief is nie, hoe kan jy dan verwag dat ander vir jou moet lief wees?
Self-Liefde en jou verlede
Self-liefde het wortels in jou kinderjare. Wanneer iemand grootword sonder liefde, aanvaarding of stabiliteit, word dit later moeilik om ‘n gesonde selfbeeld te ontwikkel. Negatiewe ervarings soos mishandeling, trauma, of voortdurende kritiek kan self-liefde ondermyn.
Wat is self-liefde regtig?
Diane het die verskil beklemtoon tussen egte self-liefde en selfsug. Ware self-liefde beteken:
- Jy erken jou waarde, ongeag ander se opinies.
- Jy respekteer en aanvaar jouself – sterk- én swakpunte.
- Jy stel gesonde grense en kan “nee” sê sonder skuldgevoel.
- Jy vergewe jouself, sorg vir jou liggaam, en vervang negatiewe denke met positiewe woorde.
- Jy doen goed vir jouself – of dit nou ‘n spa-behandeling is, ‘n lekker ete, of net rus.
Vier vorme van self-liefde:
- Emosioneel – Aanvaar alle emosies, goed of sleg.
- Fisies – Kry genoeg slaap, eet gesond, oefen.
- Verstandelik – Beveg negatiewe denke met positiewe gedagtes.
- Geestelik – Soek innerlike vrede en tevredenheid.
Waarom is self-liefde belangrik?
Self-liefde:
- Verbeter jou geestesgesondheid
- Bou selfvertroue en veerkragtigheid
- Help jou om verhoudings te verbeter
- Maak dit moontlik om gelukkig en tevrede met jouself te wees
Self-liefde is nie ‘n teken van selfsug nie. Dis ‘n noodsaaklike deel van ‘n gebalanseerde lewe. Soos Diane dit gestel het:
“Wanneer jy jou eie waarde erken en met sagtheid na jouself kyk, begin jy werklik leef.”

Lize de Jager (regs), Leefstyl Saamroeper, bedank Diane Bertram (links) vir die insiggewende gesprek.
Leefstyl Saamroeper, Lize de Jager, het ook drie van haar gunstelinge resepte met die lede gedeel: ‘n heerlike melkbrood, ‘n prawn-lekkerny, en ‘n onfeilbare suurlemoentert – alles perfek vir enige gesellige tafel.
Annemarie Taylor (‘n gas) wen die gelukkige trekking van die dag en Annalie Lategan word gelukgewens met haar verjaarsdag op 28 April. Die dag word afgesluit met gesellige samesyn en heerlike eetgoed voorsien deur Karen van Rensburg en Karin Pienaar.

Pragtige tafelversiering

Teetafel met smullekker eetgoed.