Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: SWD

Tak: VLV Hartenbos

Studierigting: Landbou en Tuinbou en VLVK-projek

Saamroeper: Hanlie Vorster en VLV Hartenbos bestuur

Datum: 31 Maart 2026

S.M.A.R.T KOM VERRAS VLV HARTENBOS MET HULLE SEEVERHAAL

31 Maart 2026 was ‘n heerlike herfsdag in die Suid-Kaap en spesifiek ook in Hartenbos. Om die dag vir die VLV Hartenbos lede en hulle besoekers nog meer spesiaal te maak, het die organisasie, SMART (Stranded Marine Animal Rescue Team) met vier vrywilligers die tak besoek. Val Marsh was die spreker by die geleentheid en onder hulle was ‘n stigterslid, Tersia Marias.

SMART logo

Drie vrywilligers van SMART, vlnr Ursula Viljoen, Tersia Marais, Stigterslid, Val Marsh, spreker.

Ontstaan en wetlike aspekte

Die organisasie het in 2025 hulle 10-jarige bestaansjaar gevier nadat ‘n Walvis in 2015 by Suiderkruis gestrand het en geen organisasie of protokolle bestaan het vir die hantering van die walvis nie. Tertia was op daardie stadium ‘n fotograaf by die Mosselbaai Advertiser en was op diè dag teenwoordig. Almal teenwoordig het besef dat daar iets gedoen moet word sodat daar nie weer sulke chaos by die stranding van ‘n seedier is nie. In dieselfde jaar het S.M.A.R.T ontstaan.

Hulle werk onder die outoriteit van Bayworld Akwarium in Gqeberha (Port Elizabeth) en spesifiek Dr Greg Hofmeyer. Hy voorsien SMART van advies, insig, opleiding en ondersteuning. Hulle area van werk strek van Wildernis tot Gouritz. Hulle nasionale owerheid is die Departement van Bosbou, Vissery en Omgewing. In Hartenbos word die dienste van Dr Frans de Graaf gebruik waar siek of beseerde diere behandel en versorg word totdat hulle na Bayworld in Gqeberha vervoer kan word. Daar word hulle gerehabiliteer totdat hulle weer vrygelaat kan word.

Tersia Marais, stigterslid. Foto van Facebook-blad van SMART

Diere wat strand

Seediere wat in die area geneig is om op strande te wees, is robbe, seeskilpaaie, dolfyne en walvisse. Elkeen van hierdie diere het hulle eiesoortige manier waarop hulle hanteer moet word tydens hulle stranding tot die beswil en veiligheid van die dier en veiligheid van die mens. Die publiek word versoek om nie diere terug te plaas in die see nie, behalwe klein uitgebroeide leerrugskilpadjies. Dit bly die beste om SMART te bel in geval van gestrande diere.

Mosselbaai se Kaapse pelsrobbe kom op die eiland voor. Omdat die eiland so naby die land is, kom hulle meer op land voor as by enige ander plek in die streek. Kleintjies verdwaal maklik land toe en sukkel dan om weer terug te gaan eiland toe. SMART help dan dat hulle terug kan gaan eiland toe.

Olifantrobbe strand ook van tyd tot tyd in die streek. Hulle kom van die suidpool af en kom rus meestal net op land. SMART het op ‘n keer 7 dae lank ‘n olifantrob opgepas tot hy op ‘n oggend net weg is. Welpies word na Dr van Graaf gestuur en vandaar na Bayworld.

Gestrande olifantrob. Vrywilligers sê hulle is die mooiste van alle robbe. Foto van Facebook-blad van SMART

Seeskilpaaie is ook gereelde besoekers op die strande, veral hierdie tyd van die jaar wanneer die klein leerrugskilpaaitjies uitbroei en hulle nie hulle lang reis na die see kan voltooi nie. Help hulle deur hulle met ’n sagte materiaal op te tel en in die see te plaas. Groot skilpaaie moenie vervoer word nie, SMART moet gekontak word. Hulle kan baie swaar wees en ‘n span opgeleide mense is nodig om dit doeltreffend te doen. Karetskilpad is ‘n ander seeskilpad wat ook van tyd tot tyd op strande uitspoel.

Seeskilpad wat vervoer word deur SMART vrywillgers. Regs voor is Dr Frans de Graaf, die Hartenbos veearts. Foto van webtuiste van SMART

Dolfyne wat strand is nie so algemeen nie. In baie gevalle is hulle al so verswak wanneer hulle strand en dan is redding en vervoer nie baie waarskynlik nie. Dit is altyd vir die vrywilligers ‘n baie hartseer oomblik.

‘n Walvis se stranding het gelei tot die stigting van SMART. Daarna was daar weer strandings van walvisse, maar hulle kon nie gered word nie. Partykeer is dit moontlik om die walvis wat gestrand is, terug te kry in die water, maar hulle kom net weer en weer terug strand toe. Dit is gewoonlik ‘n aanduiding dat hulle nie wel is nie en kan dan nie gered word nie.

Ander bedreigings

Ander wesenlike gevare vir die seediere is alles veroorsaak deur mense, naamlik die verstrengeling van diere in vislyne en ander drywende opjekte. Mikroplastiek (mermaid tears of nurdles) is ook ‘n groot bedryging vir die marine ekosisteem. Mikroplastiek is klein plastiek balletjies wat in die see beland wanneer die kratte van die skepe afval en in die see beland. Die balletjies word deur marine diere ingeneem en is baie toksies. Dit kan op strande opgetel word as klein wit balletjies.

Vrywilligers besig om vislyn te verwyder. Foto SMART Facebook-blad.

‘n Rob wat in visnet verstrengel is. Foto van Webtuiste van SMART

Hondsdolheid

‘n Baie belangrike aspek waarop Val op klem gelê het, is die gevaar van hondsdolheid by die robbe. Sy waarsku dat die publiek op geen manier naby die robbe moet kom nie. Dis belangrik dat honde ook in toom gehou moet word. Die hondsdolheid epidemies het bekend geword twee jaar gelede toe ‘n hond deur ‘n rob gebyt is. Albei is later deur die staatsveearts positief getoets vir hondsdolheid. Elf gevalle van hondsdolheid is sedertdien in die area opgeteken. Alle personeel van SMART en veeartse betrokke en word proaktief teen hondsdolheid ingeënt. Wanneer die rob berserk begin optree, beteken dit dat rabies in die geval, al vêr gevorder is. Hulle is dan baie gevaarlik en hoogs aansteeklik.

Sammy

Net vir vrolikheid en om die gemoedere bietjie op te beur, het Sammy ook kom oë wys. Hy is SMART se gelukbringer seeskilpad en word gewoonlik gebruik om kinders te lok om na hulle “stories” en vertonings te kom kyk. Hy het definitief die lede en besoekers by die geleentheid bekoor.

Sammy, SMART se vrolike gelukbringer.

Toewyding en kontakbesonderhede

Hulle werksaamhede word volledig op hulle Facebook-blad uitgebeeld, as jy dalk meer inligting van hulle wil bekom. Hulle nommer is 072 227 4715. Hulle absolute toewyding het realiseer toe hulle die uitnodiging om verversings saam met VLV-lede te geniet, van die hand gewys het, omdat daar reeds ‘n dier op Hartenbos se strand vir hulle gewag het. Hulle diens en toewyding aan hulle passie, gestrande marine diere, het geweldig respek by lede en besoekers afgedwing.

Van tuin na tafel

Om die VLVK se projek vir 2026 uit te beeld, het die Landbou en Tuinbou studierigting baie vindingryke voorbeelde uitgebeeld. Die tuin artikel wat uitgebeeld is, is die Spekboom. Hulle het Spekboom blatjang en konfyt uitgestal as ‘n voorbeeld, die gebruik daarvan in slaai en, die groot verassing, ‘n koek wat spekboom bevat. ‘n Goeie aantal spekboompies in houertjies was beskikbaar waarmee lede hulle self kon help. Dit was nou regtig iets spesiaals.

Spekboompie wat tot almal se beskikking was.

Die span van Landbou en Tuinbou en die SMART besoekers. Vlnr agter: Sylvia Grobler, Amor Mouton, Mientjie Oosthuizen, Emi de Jager, Annetjie van Wyk. Vlnr voor: Hanlie Vorster, sameroeper vir Landbou en Tuinbou, Ursula Viljoen, SMART Vrywilliger, Val Marsh, SMART vrywilliger en spreker, Rolien Smit, Voorsitter, VLV Hartenbos, Tersia Marias, SMART stigterslid en vrywilliger. Sammy het reeds onttrek, sekerlik op pad see toe.