Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: SWD

Tak: Hartenbos

Studierigting: Potpouri, Kunste en Handvlyt, Leefstyl

Saamroeper: Annemie Erasmus, Bestuur van die tak

Beriggewer: Wilma van Staden

Datums: 24 April en 29 April 2025

Met ‘n pragtige uitsig oor die see en ‘n groep dinamiese en kreatiewe VLV-lede bymekaar is die ideale geleentheid geskep vir ‘n onvergeetlike werkswinkel.

Sestien lede van vier takke van die SWD sirkel het bymekaar gekom om op 24 April 2025 dmv ‘n werkswinkel gereël deur VLV Hartenbos, van Petro Doman te leer oor tekstuur blom wit-op-wit kuns en verf met koffie en tee. By albei kunssoorte verduidelik sy oor die geskikte papier wat gebruik moet word asook die verskillende materiaal met hulle aanpassings en ook die gereedskap,bv kwasse en skalpels.

Petro Doman besig met haar voorlegging.

Sy het baie praktiese wenke oorgedra, bv droogword van die tekstuurkuns moenie in direkte sonlig plaasvind nie. Sy gee by die koffie en teekuns die wenk oor die houers waarin die verskillende skakerings van die tee en koffie gehou kan word. By albei die kuns soorte wys sy die slaggate uit waarvoor die kunstenaars op hulle hoede moet wees, bv tee en koffiekuns is nie iets wat oor ‘n tydperk gedoen kan word nie, begin en maak klaar.

Verskillende eindprodukte van tekstuurkuns.

Groep aan die werk.

Op die heerlike herfsdag van 29 April 2025 het VLV Hartenbos-taklede demonstrasies gelewer aan mede-lede en besoekers oor allerhande handige kunsitems, allerlei alledaagse, handige artikels en ‘n vinnige gebakte koek.

Dorea du Plessis het demonstreer hoe blomme uit allerhande soorte papier (bv toiletpapier) gemaak kan word en ook die alledaagse gebruik daarvan demonstreer. ‘n Skêr, papier, gom en ‘n vier to sewe cm deursnee glas, om die blom te vorm, is nodig.’n Oorstokkie is baie handig om die gom aan te wend, gom moenie te veel wees nie. Met die glasie word 24 sirkels op jou papier getrek en dan uitgeknip.

Dorea du Plessis wys hier die sirkels, op ‘n geskikte papier, wat uitgeknip moet word.

Die sirkels word dan dubbeld gevou, moenie ‘n fyn lyntjie maak nie. Plaas die sirkel se voutjie oor die rand van die glas. Wend bietjie gom aan een kant van die omgevoude sirkel en plaas die tweede sirkel daar, met bietjie oorvleueling. Voltooi eerste laag en gaan voort tot dat al die sirkels gebruik is. Die opening van die glas word al hoe kleiner. Haal dit af van die glas af. As jy dit wil gebruik as ‘n kershouertjie, hou die binneste gaatjie groot. Die gebruik van die soort blom wat sy demonstreer het, kan op die tafels van ‘n verskeidenheid van funksies gebruik word, asook vir ander versierings, bv geskenkies, foto agtergronde, geleentheidskranse en vele meer.

‘n Voltooide blom

Rolien Smit demonstreer verskeie naaldmasjien gereedskap items wat naaldwerk baie kan vergemaklik en die sukkel uithaal. Sy vertoon ook die maak van klein artikels wat gemaak kan word deur net ‘n vierkant of reghoek in drie of vier te verdeel en vou. Stikwerk word dan op die vouplekke of net aanmekaar gewerk. Baie interessante sakkies kan op hierdie manier gemaak word. Papier kom ook ter sprake toe sy demonstreer hoe ‘n papiergeskenksakkie tuis gemaak en versier kan word.

Rolien Smit met een van interessante sakkies wat sy demonstreer het.

Die papiertema word voortgesit deur Petro Coetser wat demonstreer hoe ‘n eenvoudig boekmerk gemaak kan word. ‘n Langwerpige strook word in drie verdeel. Elke blokkie moet ‘n vierkant vorm. Een van buitenste blokke word gesny om ‘n driehoek te maak en dan word die papier gevou sodat dit die hoek van die boek kan toemaak om jou plek baie duidelik te merk. Sy wys ook verskeie ander baie eenvoudige, praktiese metodes vir die maak van boekmerke.

Petro Coetser wys een van die interessante boekmerke.

Ons tuinvoëltjies sal juig as ons almal Hanlie Vorster se demonstrasie oor die maak van goedkoop, eenvoudige voëlbakke in die tuin, navolg. ‘n Twee liter plastiekbottel is nodig en ‘n stokkie waarop die voëltjies kan sit terwyl hulle eet. Die propgedeelte van die bottel word afgesny. Net onder bogenoemde opening word ‘n gaatjie gemaak vir die sitstokkie en regoorkant die openning word nog ‘n gaatjie gemaak waardeur die sitstokkie gedruk word. Dit moet stewig in die binnekant van die bottel geposisioneer word. Heg ‘n hakkie aan die bokant sodat dit kan hang.

Hanlie Vorster verduidelik hoe ‘n maklike voëltjievoerbak gemaak kan word.

Meeste dames hou daarvan om hangers oor te trek as versiering en ook om praktiese redes. Langbroeke wat oor die dwars deel van die dubbel plasitiese hangers hang, is geneig om af te gly. Wilma van Staden demonstreer ‘n metode hoe hierdie afglyery voorkom kan word. Sy hekel met dikkerige wol (dubblerdraad x 2) en bypassende pen in kortbene oor die dwarsdeel. Eerste en laaste steke word vasgeheg aan die hakkies wat op die punte voorkom. Kombersteek oor die dwars deel sal dieselfde resultate bereik.

Wilma van Staden besig om te demonstreer hoe om komberssteek oor die dwars gedeelte van die hanger te maak.

Rolien Smith het weer ‘n beurt gekry en sluit die verrigtinge af met haar 7-minute ringkoek in die mikrogolfoond. Resep word gedeel en almal geniet daarvan tydens ons verversingstydjie.

Rolien Smit in aksie met haar sewe-minute-koek.