Sirkel: PAARL
Tak: SLOT VAN DIE PAARL
Portefeulje: LEEFSTYL – TUISTESKEPPING
Beriggewer: ALETTA KEYSER
Datum: 2 JUNIE 2026
KOM KUIER SAAM MET SLOT VAN DIE PAARL BY SOETMELKSVLEI!
Plaaslewe in die laat 19de eeu het van die mense vereis om vindingryk te wees, want hul het self-voorsienend geleef. Soetmelksvlei eer die erfenis van vakmanskap en is ’n uitbreiding van Babylonstoren. Besoekers word daarheen aangery op ’n spesiale sementpad vanaf Babylonstoren.
Adele Johnson en Fanus Fourie, wat beide werksaam is op Soetmelksvlei, vertel ons van hul werk op die plaas wat gedurende Mei 2024 geopen het. Hul vul mekaar aan in hul aanbieding om ons meer te vertel van die visie om Soetmelksvlei (voorheen Donkerhoek) as ’n 1897-volledigwerkende plaas uit te beeld om ons sodoende ’n kykie te gee na die vaardighede, daaglikse bedrywighede, handwerk en kundigheid van daardie gegewe tydperk.
Hier word geskiedenis kans gegee om asem te haal en lewe te kry, nie net bewaar nie. Die besoeker ervaar op die plaas die waarde van eenvoud, ‘n tyd voor elektrisiteit en motorvoertuie en beleef met nostalgie weer ’n ander soort kalmte en rustigheid, sonder tegnologie en selfoonseine, waar goeie beplanning vir dag-tot-dag-aktiwiteite noodsaaklik was.
Die restaurant volg dieselfde beginsel van “tuin tot tafel”, waar meeste vars seisoenale produkte wat gebruik word, self verbou word of plaaslik aangekoop word. Hier word ons gelei om weer terug te keer tot ons wortels en word gaste nie net fisies gevoed nie, maar ontvang ook voedsel vir die siel – tye toe gesinne nog om ’n tafel gesit en eet en gesels het en kinders buite gespeel het tot die son sak.
By Soetmelksvlei word ’n skoolprogram vir gr. 3 en 4 aangebied. Leerders kan deelneem aan aktiwiteite soos botterkarring, stokbrood bak, tradisionele speletjies speel, ens.
Verskeie werkswinkels word ook aangebied en kan bespreek word by Babylonstoren.com in houtwerk, leerwerk, laslap, breiwerk, gebak, ens.
Hul het vir elke lid/gas ’n 500 g-pakkie van hul eie grofgemaalde meel saamgebring, asook ’n krat vol vars nartjies waarvan ons kon neem. By Soetmelksvlei ervaat ’n mens die lewe teen ’n stadiger pas.
Daarna het ons na nog ’n gasspreker, Marie Bezuidenhout, boervrou uit Kimberley-omgewing, geluister. Sy het ons vertel van ’n tradisionele handwerk, nl. water felting en demonstreer kortliks die proses. Ongespinde wolvesels word d.m.v. seep, wrywing en warm water saamgepers sodat dit ’n digte laag vorm. Sy wys ’n pragtige handsakkie wat sy op dié manier gemaak het.

v.l.n.r. Marietjie Lombard (Voorsitter), Marie Bezuidenhout (Spreker), Adele Johnson
(Spreker), Albé Greeff (Saamroeper – Tuisteskepping), Hester Coetzee (Lid) en
agter, Fanus Fourie (Spreker)

Fanus Fourie van Soetmelksvlei

Adele Johnson van Soetmelksvlei

Van die produkte wat, op die outydse manier, by Soetmelksvlei gemaak word.

Die leervoorskoot wat by Soetmelksvlei gedra word deur die mense wat daar werk en demonstrasies lewer.

Marie Bezuidenhout met haar mooi handsakkie.