Menopouse is nie vir sissies nie – maar Aberdeen VLV-vroue was nog nooit sissies nie!
Sirkel: Middelland
Tak: Aberdeen
Portefeulje: Gesondheid
Saamroeper: Luise de Jager
Beriggewer: Karin Pienaar
Datum: 21 Mei 2025
VLV Aberdeen het op 21 Mei 2025 ’n kragtige, insiggewende en eerlike vergadering gehou met die tema: “Memopouse: ’n Allesomvattende benadering tot lewenskwaliteit soos jy ouer word.”
Lea van der Vyver (Voorsitter) verwelkom lede en gaste en open die vergadering met ‘n paar kragtige skrifgedeeltes rondom die tema van angstigheid en vrees. Sy het herinner dat ons in moeilike tye op die Here moet vertrou, want Hy gee vrede te midde van storms. Verskeie verse, soos 1 Petrus 5:7 en Psalm 94:19, het die boodskap beklemtoon dat ons nie alleen is nie – God is in beheer, en wanneer ons op Hom vertrou, bring Hy vertroosting en rus.

Lea van der Vyver (Voorsitter)
Met ’n inspirerende span sprekers van Karoo Health Care Center, Graaff-Reinet, het lede en gaste meer geleer oor die fisiese, emosionele, geestelike én praktiese aspekte van menopouse – ’n onderwerp wat steeds dikwels agter geslote deure bly, ten spyte daarvan dat dit elke vrou raak.
Sprekers van die dag was:
- Sr Madia Pretorius (Verpleegkundige)
- Adele Spaargaren (Dieetkundige)
- Adri Mentz (Fisioterapeut)
- Janine van Schalkwyk (Berader & Spelterapeut)
- Dr Dyanti Mentz (Mediese Praktisyn)

Janine van Schalkwyk (Berader), Adele Spaargaren (Dieetkundige), Sr Madia Pretorius, Adri Mentz (Fisioterapeut)
Elke spreker het waardevolle perspektiewe gebied op verskillende fasette van die menopousale reis – van warm gloede tot hormone, van beendigtheidverlies tot emosionele weerbaarheid.
Sr Madia Pretorius het die gesprek geopen met ’n duidelike uiteensetting van wat menopouse is:
- Dit is nie ’n siekte nie, maar ’n lewensfase.
- Dit bestaan uit drie fases: Perimenopouse, Menopouse en Postmenopouse.
- Simptome sluit in: warm gloede, nag sweet, gemoedskommelings, slaaploosheid, angs, vaginale droogheid, en afname in beendigtheid.
Haar kernboodskap is dat menopouse is nie iets waarvoor jy moet skaam wees nie. Elke vrou ervaar dit anders, sommige het erge simptome, ander glad nie. Deur meer kennis daaroor te hê, kan jy dit beter bestuur en weet wanneer om hulp of ondersteuning te soek. Hormoonvlakke speel ’n groot rol en kan op verskillende maniere behandel word. Dis belangrik dat ons hieroor praat – en jy hoef nie stil te ly nie.

Sr Madia Pretorius
Adele Spaargaren, dieetkundige, het verduidelik soos wat ‘n vrou in menopouse ingaan, begin estrogeen afneem en daarmee saam spiermassa en beendigtheid. Dit verhoogde die risiko vir osteoporose.
Deur jou dieet met die nodige voedingstowwe aan te vul en aan te pas, kan jy die simptome van menopouse verlig:
- Gesonde kalsiuminname (melk, jogurt, groen groente) vir gesonde bene.
- Genoeg vitamien D (sonlig, eiers, vis) vir die absorpsie van kalsium.
- Magnesium werk saam met kalsium om beenstruktuur in stand te hou.
- Proteïen om spiermassa te behou.
- Vesel vir vertering en gewigsbestuur – eet jou kos so natuurlik as moontlik.
- Omega 3 (vetterige vis, neute en sade) help met breinfunksies en buierigheid.
- Komplekse koolhidrade (hawermout & bruinrys) stabiliseer bloedsuiker wat ook gemoedskommelings kan veroorsaak
- Voldoende hidrasie (±3 liter water per dag)
- Vermy sterk/warm kos, kafeïen, alkohol wat warm gloede vererger.
Jy hoef nie jou hele leefstyl oornag te verander nie. Begin klein. Begin bewus wees van wat jy eet en hoe jou liggaam daarop reageer.

Adele Spaargaren, Dieetkundige
Janine van Schalkwyk, berader en spelterapeut, het op ’n unieke en herkenbare manier perspektief gebied:
“Dis asof die plaasvoorman (estrogeen) een oggend net geëmigreer het en nou moet jy aanhou boer – sonder jou hormoon wat alles in plek gehou het.”
Sy het vroue aangemoedig om:
- Om te praat met iemand en professionele hulp te kry waar nodig.
- Om jou emosies te erken.
- Om ook tyd te maak vir jouself.
Menopouse is nie vir sissies nie, maar jy is meer as ‘n warm gloed, ‘n mislike nag of ‘n woede-uitbarsting. Jy’s ‘n vrou vol stories, vol wysheid, vol lewe. Vrouens moet mekaar dra, bemoedig en ondersteun.

Janine van Schalkwyk, Berader en Spelterapeut
Adri Mentz, fisioterapeut, het gefokus op die fisiese gevolge van lae estrogeen, soos:
- Afname van beendigtheid wat kan ly tot osteoporose
- Afname van spiesmassa en kraakbeenkwaliteit
- Afname van kollageen en natuurlike lubrikasie
- Afname van metabolisme
- Droë bindweefsel (fascia)
- Gewrigstyfheid en die verswakking van die bekkenbodem en pelviese vloer
Om sterk en beweelik te bly, beveel sy aan:
- Weerstandsoefeninge met swaarder gewigte vir beendigtheid
- Strekoefeninge en asemhaling vir ontspanning
- Bekkenbodemoefeninge (bv. Kegeloefeninge) om blaasbeheer en vaginale gesondheid te verbeter
- Fokus op die mind-body connection — luister na jou liggaam

Adri Mentz, Fisioterapeut
Dr Dyanti Mentz het die vergadering afgesluit met ’n mediese perspektief op hormoonvervangingsterapie:
- Estrogeenaanvulling kan help met simptome soos:
- Vaginale droogheid
- Blaasinflammasie
- Warm gloede
- Slaapprobleme
- Beendigtheid
- Die eerste 10 jaar ná menopouse is krities om beendigtheid te beskerm. Estrogeen speel ’n groot rol in opname van die nodige voedingstowwe en die behoud van beendigtheid.
- Daar is verskillende vorme van hormoonvervangingsterapie: plakkers, pille, room – en selfs natuurlike opsies soos sojaprodukte en bio-identiese hormone.
Sy het beklemtoon dat gereelde bloedtoetse belangrik is om tekortkominge vas te stel en behandeling aan te pas.

Dr Dyanti Mentz
Die vergadering is afgesluit met heerlike tee en verversings – maar belangriker nog, met ‘n gevoel van ondersteuning, kennis en hoop.

Vlnr Lea van der Vyver (Voorsitter), Sr Madia Pretorius, Fisioterapeut Adri Mentz, Dr Dyanti Mentz, Berader Janine van Schalkwyk en Dieetkundige Adele Spaargaren

Collage van Lede, gaste en sprekers tydens die vergadering

Collage van teetafel en heerlike eetgoed verskaf deur Alet Gouws, Engela James en Sari van der Merwe