Klein-Brakrivier
SWD
24 Maart 2025
Web koördineerder Lydie Terblanche
Berigskrywer Ina Louw
Tak-byeenkoms: Kuns en Handvlyt in Pers

Die maandelikse vergadering was ‘n kleurvolle geleentheid, met pers as die kleur van die maand. Die tafels was fleurig getooi en die dames het nie agterweë gebly nie.
Lydie Terblanche, ons voorsitter het gaste verwelkom geheet – gaskunstenaar Johan Gunter; die voorsitter van die Midbrak Buurtwag en ons Dankie-persoon vir 2025; en Sanette du Plessis, ons nuutste lid vanuit die Noordwes. Retha Nagel het daarna geopen, met die sentrale boodskap: Jy is genoeg voorsitter, besef jou waarde en leef voluit.

Nadat Maart en April se verjaarsdae gelukgewens is, het Ansie Venter die Rietpadda as ’n bedreigde spesie voorgehou en aan elke lid van die uitvoerende komitee ‘n troetelpadda gegee.
‘n Sertifikaat van Erkenning en Dank is aan Magda Opperman, voorsitter van die Midbrak Buurtwag, oorhandig deur Lynette Nel. Magda het met die dames sommige van hulle aktiwiteite gedeel en Lynette het ‘n oproep gemaak dat elkeen betrokke moet raak.
Die projekte waaraan ons tak tans aandag moet gee is die een vir die Suid-Afrikaanse Polisie in Groot-Brakrivier. Hulle benodig volgehoue bemagtiging vir hulle dames op die personeel. Retha is die koördineerder van die projek en lede word gevra om by haar aan te sluit om die projek suksesvol af te handel. Mense met oordraagbare vaardighede moet na vore kom om die dames eenmaal per maand, op ‘n Woensdag van 14:00 tot 16:00, te begelei in hulle groei.
Die ander projek is die linne waarmee ons verskillende artikels wil maak, sommiges as uitruilgeskenke en ander om te verkoop. Daar word beoog om werksessies te hou en saam as ‘n span aan die produkte te werk. Hou die WhatsApp-groep dop.
Die taklede wat die Konferensie in Hartenbos bygewoon het, deel hulle belewenisse. Daar word na die hoë gehalte verwys en die goeie kwaliteit van inskrywings. Dawn word met haar eerste prys vir haar atjar geluk gewens.
Ons is deur Johan Gunter vermaak met stories, lewenswaarhede, nostalgie en bowenal passie.
Die kers is hierna aangesteek vir alle kunstenaars in alle genres. Hester Krige het ons met klavierspel vergas en Retha Nagel het ‘n Paasboodskap voorgelees. Retha het daarna die vereistes wat op die Inligtingsdag bespreek was, breedvoerig gedeel.
Die geleentheid is afgesluit nadat die lootjies getrek is en Elrina ook ‘n item gelewer het. Die sing van die VLV-lied is onder leiding van Hester gedoen.
Die gaste het almal gesmul aan hoenderburgers en koolslaai, met Dawn se smullekker dadelbolletjies.

My persoonlike, idiomaties-ingeklede wegneemboodskap is:
Moenie op jou oudag die bobbejaan agter die bult gaan haal nie,
maar bly weg by alle wolwe in skaapsklere.
As mens heeldag soos ‘n koggelmander op ‘n klip sit,
gaan jy later krokodiltrane huil van alleenheid.
Ledigheid is net die oortjies van die seekoei:
Die ware slang in die gras is bedruktheid wat daaruit voortvloei.
As dit voel of jy soos ‘n kameel deur die oog van ‘n naald moet gaan,
beroep jou op jou taklede, want
ONS KRAG LÊ IN SPANWERK.






