Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Weskus

Tak: Moorreesburg

Portefeulje: Kunste en Handvlyt Inligtingsdag

Sirkel President: Elsabé Carstens

Beriggewer: Jo-Ann Claassen

Datum van vergadering: 16 April 2026

Kreatiwiteit skitter by Kunste en Handvlyt Inligtingsdag op Moorreesburg

Die Moorreesburg-tak se Kuns en Handvlyt Inligtingsdag was ’n besonderse geleentheid waar kreatiwiteit en samesyn hand aan hand gestap het. Groot sorg is aan die dekor bestee, met tafels wat kunstig gedek is met papier waarop daar met sorg geteken en vrolike limerieke geskryf is. Van die tafelversierings is met trots gemaak deur die dames van Huis Moorrees, die plaaslike ouetehuis. Hierdie oorspronklike aanslag het ’n vrolike en inspirerende atmosfeer geskep wat die tema van die dag treffend weerspieël het.

Die dag is geopen deur Elize Knoetze (Sirkel Weskus Visie-president) met ’n Skriflesing en gebed, wat ’n gepaste en betekenisvolle toon aangegee het. Elsabé Carstens, Weskus-sirkelpresident, het daarna ’n boodskap van hoop gebring wat die lede bemoedig en geïnspireer het.

Die program het sprekers van gehalte ingesluit. Yolande Bezuidenhoudt van Yzerfontein, wat kalligrafieklasse aanbied en aan die Skrywersgilde behoort, het haar kundigheid en liefde vir skryf en mooi skrif gedeel. Daniela Louw, plaaslike fotograaf van Moorreesburg, het haar passie vir fotografie gedeel en insig gegee in die kuns van fotografie en die vasvang van oomblikke. Anna Slabber, Kuns en Handvlyt-saamroeper van die Moorreesburg-tak, kunstenaar en taalliefhebber, het die dag se verrigtinge saamgebind en met haar passie vir kuns en taal, inspirasie gebring.

Lede is bederf met heerlike verversings tydens teetyd, ’n smaaklike middagete en as soet afsluiting, roomys vir nagereg. Hierdie gesellige oomblikke het bygedra tot die warm en vriendelike atmosfeer van die dag.

Opregte dank en waardering word uitgespreek teenoor die Moorreesburg-tak vir hul deeglike beplanning, harde werk en toewyding om hierdie dag so suksesvol aan te bied. Julle entoesiasme en aandag aan detail het ’n blywende indruk gelaat en die geleentheid werklik besonders gemaak.

Die dag was nie net ’n viering van kuns en handvlyt nie, maar ook ’n bewys van die waarde van samehorigheid en die deel van vaardighede binne die VLV. Dit was duidelik dat goeie samewerking en spanwerk ’n groot rol gespeel het in die sukses van hierdie besonderse dag.

Die Moorreesburg Rolbalklub se saal het die ideale agtergrond geskep vir ‘n dag vol kreatiwiteit en kuier.

Die dekor het tot die dag se atmosfeer bygedra.

Die Tafels is verfraai met papierbedekking wat met tekeninge en limerieke versier is. Handgemaakte dekor het die tafels stylvol afgerond.

Marietjie Viljoen, Moorreesburg-takvoorsitter het die gaste verwelkom. Elize Knoetze, Sirkel Weskus Visie-president, het die verrigtinge geopen met Skriflesing en gebed, waarna Elsabé Carstens, Sirkelpresident, ‘n boodskap van Hoop gebring het.

Anna Slabber, Kunste en Handvlyt saamroeper van Moorreesburg, het as spreker opgetree oor skraapkunste en limerieke skryf. Anna Slabber saam met Elsabé Carstens en Marietjie Viljoen.

Yolande Bezuidenhoudt het die kuns van kalligrafie met ‘n treffende demonstrasie aan die gehoor bekendgestel, afgeneem saam met Marietjie Viljoen en Elsabé Carstens.

Daniela Louw het as fotografie-spreker, die beginsels van fotografie en haar passie vir die kuns gedeel. Daniela Louw saam met Marietjie Viljoen en Elsabé Carstens. (bo) Elsabé Carstens, saam met Yolande Bezuidenhoudt, Anna Slabber, Elize Knoetze, Marietjie Viljoen en Daniela Louw. (onder)

Gaste is tydens teetyd en middagete met keurige verversings bedien.

Besoekers het die verrigtinge in ‘n gesellige atmosfeer geniet.

Moorreesburg-tak se lede het met toewyding en spanwerk die suksesvolle dag moontlik gemaak.