Sirkel Worcester
Beriggewer: Louwna Hoving
Datum: 12 Maart 2025
92ste VLV SIRKEL WORCESTER KONFERENSIE TE ROBERTSON
Tema 2025: Kleur jou lewe
Projek: Bejaardes maak saak
Die venue was versier met pragtige kleurvolle blomme.
Opening en verwelkoming: Vlae word ingedra deur Anamarie du Toit en Tillie Hand. Internasionale gebed voorgelees deur Sonja Neethling en ds. Elrika Esterhuizen open met 1 Petrus 3. Vroue is soos ‘n potlood met verskillende kleure. Daar is vier skerpmakers om jou potlood skerp te hou en ‘n kleurvolle lewe te lewe: sorg fisies vir jouself, wees emosioneel en sosiaal beskikbaar vir ander, ontwikkel jou intelek deur jou brein te ontwikkel, groei geestelik in jou verhouding met jou Skepper. Jane Roux steek herinneringskers aan. Oomblik van stilte en VLV-lekkersinglied gesing.

Kunste en Handvlyt: Hannelie van Schalkwyk
‘n Powerpoint-aanbieding: Die Ontwikkeling van Inheemse Suid-Afrikaanse musiek
- Tydens die 1600 het inheemse volke rietjiesfluite gebruik.Met die kennismaking van Westerse musiek is die ramkie ontwikkel. Dis basies ‘n kitaar wat van kalbasse gemaak is.
- Die Klopse het ontstaan uit Britte se militêre marsmusiek.
- Sendelinge het die binneland ingetrek en die Woord van God versprei.In 1855 het ‘n onderwyser, John Knox Bakwe, begin om gesange met Xhosa klanke te komponeer.
- In die vroeë 1900’s het Enoch Sontonga die seëngebed Nkosi Sikelel’ iAfrika gekomponeer.
- Swart werkers het na die myne gestroom en die Marabi-musiek het ontstaan.Dit was protesmusiek teen die polisie en bedoel om mense na shebeens te trek.
- Afrika jazz-musiek het gewild geword en Miriam Makeba het bekend geword met Pata-Pata.Zoeloe-musiek word gewilder met duidelike protes teen die regering.
- 1973 is die eerste goue plaat vir swart musikante deur Ladismith Black Mambazo verower.Homeless is ‘n gewilde lied.
- Yvonne Chaka Chaka het Reggae musiek gesing en baie gewild geword.Haar musiek is ook bubblegum musiek genoem.
- Brenda Fassi was gewild vir Township–
- In 1980 het Johnny Clegg gewild geword, hy hethul kultuur geken en hul musiek wêreldwyd versprei.
- Na 1994 het die hele musiekbedryf verander, baie van die oorspronklike klanke weerklink nogsteeds.

Opvoeding en Kultuur: Carol Shore, Joernalis en filmmaker.
Sy raak betrokke by gemeenskapskultuurprojek 28 jaar gelede na die optrede van ‘n kersliederekoor en orkes by haar huis. Sy belowe mnr. Cookson om navorsing te doen oor die struktuur en ontstaan van die kore. Sonder dokumentêre ervaring pak sy die uitdaging aan in samewerking met die SAUK. Na 8 jaar word die draaiboek teruggetrek omdat sepies by SAUK die oorhand kry. Kommunikasie was swak in daardie tyd en alles moes met posstukke geskied. Daar verloop weer 11 jaar, maar sy hou moed tot 2016 en begin onderhandel met Showmax en M-Net. Finansies was ‘n probleem, sy het net een derde van die koste gehad en moes die ander twee derdes bekom. Toe kelder die Covid-periode haar draaiboekdroom. Op 29 April 2022 kom die deurbraak met ‘n vensterperiode van drie weke waarin die film tot sy reg moet kom met 65 bemanning en ‘n beperkte begroting. In Augustus 2023 haal die film ‘n voorskou deur Star Films in Kampsbaai. Die film was iets anders en word bekroon as die beste film op die skou. Die volgende terugslag is dat die filmbedryf sluit en TV/Stream oorneem. Toe word die film oorsee gestuur om te toets by feeste daar. Wanneer die film ingestuur word moet dit deur hulle gekeur word. Die film word gekies as die beste internasionale film uit 85 lande wat deelgeneem het. Haar boodskap wat sy wil oordra: Wees geduldig, glo in wat jy aan glo. Sy het eers na 28 jaar haar droom werklikheid sien word. Vir sukses moet jy nooit moed op gee nie. Haar les hieruit was: Hou by jou belofte wat jy gemaak het; gee terug aan die gemeenskap; maak klaar met dit waarmee jy begin; al is Afrikaans in die minderheid kan dit die wêreld se hoogste platform bereik. Sy beoog om nog ‘n boek oor haar verhaal te skryf. Die film, Old Righteous Blues word Saterdag, 19 April om 20:00 op KykNet vertoon.

Gesondheid: Erna Rabie, fisioterapeut.
Spiere en ligamente is nie rekbaar nie en moet geoefen word. Dit bepaal jou beweging. Hoe jy sit bepaal jou ontwikkeling. Kinders moet rondbeweeg en babas moenie net in stootwaentjies rond-gestoot of op die arm rondgedra word nie. Leer ‘n regte liggaamshouding aan: ontwikkel skouers, trek ken in en lyk goed. Draai duime na vore as jy loop en swaai arms – goed vir balansering. Oefen 20 minute per dag. Korrekte asemhaling bepaal suurstofkapasiteit. Die diafragma help die dermkanaal. Stap bevorder die dermkanaal. Genoeg waterinname is belangrik en bly sosiaal.

Landbou en Tuinbou: Gerda Conradie van Jan Harmsgat-plaas en -gastehuis.
Granaatboerdery: Die granaat is ‘n antieke vrug uit Iran. Die struik word 5 tot 8 meter hoog. ‘n Band word om die struik gebind om die takke te stut. Dit word deur bye bestuif en as vars vrug, sap of olie bemark. Die Wonderfulvariëteit is die gewildste. Die pitte word vinniger ryp. Die suikerinhoud word getoets vir rypheid, omdat die rypwordproses stop sodra dit gepluk word. Sowat 30 kg word van een struik geoes gedurende Maart tot Mei. 3,5 kg granate is nodig vir 1 liter sap. Hulle bedryf ‘n pakhuis op die plaas waar dit gewas, wax en weer gedroog word en teen 5 tot 8 grade C geberg vir tot 6 weke. Die vrugte hou tot 6 maande onder regte omstandighede. Granaatsap is 100% met natuurlike preservering en word in ‘n press gedruk met skil en al en kan ook gevries word. ‘n Gesondheidsvrug wat help vir hart, geheue, lewer, spysvertering, immunïteit, cholestrol, kanker en hou suiker konstant.

Leefstyl: Dewald Herbst, voorsitter van koekversiergilde.

Versierde kolwyntjies vir Paasfees.
Demonstrasie: Versiering van kolwyntjies vir Paasfees. Wenke: Gebruik kommersiële gom in plaas van eierwit om gevormde blomme of versierings vas te sit. Botterversiering word met 1 deel botter en 4 dele versiersuiker gemaak en Ideal Melk kan in plaas van gewone melk gebruik word. Tandestokkies is baie handig om fyner versiering te doen.

Openbare Sake: Johan Roberts van Korrektiewe Dienste.
Visie van Korrektiewe Dienste: Wat is die doel van straf? Afskrik, Voorkoming, Vergelding en Rehabilitasie. Die psige van die mens is ‘n moeilike saak om te hanteer. Hul maak gebruik van maatskaplike dienste, onderwys en pogings vir rehabilitasie en voorbereiding om in te pas in die gemeenskap na vrylating. Observasieperiodes vir vonnisse langer as twee jaar word gereeld gedoen en as die vrygelate nie aanvaar word nie, val hy terug. Daar is maksimum en medium gevangenisse. Opleiding word op plase gegee en oplossings gesoek om hulle van misdaad weg te hou. Die gemeenskap is die pleisters en moet saamwerk om probleme betyds te identifiseer.

Robertson Dance Studio tree op onder leiding van Marcelle Rosser.
Vicky Ferreira doen ‘n voordrag van gedigte om die 100-jaar van die Afrikaanse Taal uit te lig.

Vicky Ferreira.
Konferensie word afgesluit met die sing van: Onse Vader.