Klein-Brakrivier
SWD
25 November 2025
Media-koördineerder, Lydie Terblanche
Beriggewer, Ina Louw
KLEIN-BRAKRIVIER GROET 2025
Lydie Terblanche
VLV Klein-Brakrivier het gesellig en in feestelike gees die jaar afgesluit. Tydens die geleentheid is Ria van Staden se 80ste verjaarsdag ook gevier. Ons het van Miens Willers afskeid geneem na ‘n vol en aktiewe 31 jaar diens by ons. Ons wens haar ‘n welverdiende rustiger pad vorentoe. Petro Reinke was die báie gelukkige ontvanger van ‘n spesiale lappop vir ‘n kleinkind.
Die VLV (Vroue Landbou Vereniging) het reeds sy 95ste bestaansjaar gevier. Ons het wel aangepas met die tye, maar is nog steeds net so relevant vandag soos in 1929. Die doelwitte vanaf ontstaan tot vandag is persies dieselfde, om vroue nuwe vaardighede te leer en ‘n verskil te maak in die gemeenskap. Ons doen dit net nie meer deur ‘vergaderings’ nie, maar wel deur lekker geleenthede en uitstappies. Besoek gerus ons webblad www.vlv.co.za en kyk onder digitale tydskrifte vir ‘n goeie oorsig oor waarna jy kan uitsien.
Die nuwe jaar spring weg op Dinsdag 27 Januarie 2026, Reebok Gemeenskapsaal, 10:00 vir 10:30. Hierdie eerste geleentheid is ‘n moet vir almal wat meer wil weet oor hierdie vereniging. Dit is ‘n inligtingsessie oor wie ons is en wat ons vir die jaar beplan het. Elsabe Richards en Ansie Venter het reeds vir ons ‘n interessante program gereël.
Klein Brakrivier afsluitingsete 2025
Ina Louw
Die jaar het met ‘n klein spoedversnelling in die Klein-Brakrivier sy einde genader. Gelukkig kon die nuwe bestuur al die eendjies in ‘n ry kry en kon ons almal heerlik by die afsluitingsfunksie kuier en eet. Die geleentheid het by Big Daddy’s in Mosselbaai plaasgevind en lede kon vooraf hul keuses in ‘n WhatsApp-peiling aandui, maar daardie skip het glad nie goed geseil nie. Die lede wou wyer, meer, hoër en groter moontlikhede hê.
Die tafels was pragtig versier en elkeen het ‘n takboksakkie ontvang en die geldbydrae in die oulikste pakkie (ure se werk). Dankie aan al die gewillige hande wat hiermee gehelp het. Daar was ‘n gelukkige trekking, ‘n lappop, nog ‘n samewerkingsprojek. Die wenner was die persoon met die groen plakker onder haar glas, en die gelukkige persoon was: Petro. Ria is geluk gewens met haar 80ste verjaarsdag en het ‘n orgidee van die tak ontvang.
Vir my as verslagdoener was die taak nie so eenvoudig nie, want daar was nie ‘n spreker nie, so waaroor sal ek skryf? Ek het toe besluit om vir mense wat my pad kruis te vra hoekom hulle aangetrek het wat hulle aanhet (ter na-aping van die rooi tapyt se vraag “Wie het jou aangetrek”?) Ek lewer dus nou verslag, in my gewone trant, rymvorm.
Die verslaggewer op die rooi tapyt
is oor een ding spyt:
sy kon nie almal uitvra
oor die uitrustings wat hul dra.
Die gedagte van reënboogkleure
en blommegeure
het by meeste byval gevind,
maar almal het hulle nie laat bind.
Murna Lotriet se blommerok was haar keuse,
want veelkleurigheid en gemak is haar leuse.
Ansie Venter beweer sy wou bloot anders wees,
wil eerder gemaklik wees, nie bedees.
In haar aanvallige denimrompie en ligblou bloes,
wou Elsabe Richards, sexy wees, sonder roes.
Onthou, die see is genadeloos
en dan waai die wind ons boonop voos.
Cecilia het ‘n wit bloes aan, en wit is nie in die reënboog,
maar sy het ‘n waterdigte betoog:
Sy wil rein wees, rein in wit.
Op my vraag: “Maagdelik rein in wit?, het sy net gaan sit.
Die appelkoos geblomde rok van Lynette Nel
het die storie van blommegeur vertel.
Sy weet appelkoos is nie ‘n reënboogkleur,
maar dra vandag iets wat haar gemoed opbeur.
Eva dra gewoonlik blou, en sy wou daarmee wegdoen.
Toe kies sy koel en rustige groen.
Ria het pragtig gelyk in ‘n pienk broekpak.
Op my vraag: hoe het jy die keuse aangepak?
Was haar antwoord sonder vermaak:
Ek doen dit lukraak.
Suzette o’Kelly is in wit en rooi getooi.
Sy sê dit pas by Kersfees, dan so mooi.
In haar koorsang jare was dit ook hul kleure
terwyl hul sing in alle majeure.
Retha Nagel meen te vertel
haar keuse het ‘n vrolikheid in haar laat opwel.
Dis die “bling” wat haar oortuig het om dit te kies.
Die skoenlapper is onskuldig, sê sy tong in die kies.
Laastens vra ek vir Lucia oor haar vrolike rokkie,
en sy beweer sy is ‘n bontrok bokkie.
Haar naels pas by die rok en baadjie,
en daarmee knip ek my draadjie.








