SWD
KLEIN-BRAKRIVIER
9 MAART 2026
OPVOEDING & KULTUUR
MEDIA KOÖRDINEERDER LYDIE TERBLANCHE
BERIGSKRYWER INA LOUW
Klein-Brakrivier het sommer paar vlieë met een klap platgeslaan deur Internasionale Vrouedag, Women Walk the World en ‘n omgewing skoonmaak te kombineer. Die geleentheid is deel van Ansie Louw se Opvoeding en Kultuur portefeulje en was oop vir die publiek en ander SWD-lede.
Ina Louw gee haar indrukke van dié lekker dag:
EENSGESINDHEID: Dit was duidelik dat Klein-Brakrivier taklede saamgestem en saamgestaan het om die geleentheid suksesvol af te handel. Hulle het alles goed gereël met die buurtwag om almal veilig te hou.
NOODHULP: Buiten vir die amptelike noodhulp wat beskikbaar was, het ek gesien hoe hulp verleen word aan mede-stappers in nood.
ELEGANSIE: Die geleentheid het van elegansie gespreek en alles was baie smaakvol gereël. Daar was selfs ‘n mobiele afdak.
RATSHEID: Ongeag hul ouderdom, het alle deelnemers met ratsheid die afstand afgelê. Daar is ook opruiming tydens die stap gedoen.
GENOT: Die deelnemers het ook soos ‘n geoefende span alles opgestel vir die dag en almal het die geleentheid ooglopend geniet.
IDEALISME: Die deelnemers het gekom, gestap en ‘n bydraes gemaak vir die “Vriendskapsmunt-fondse”. Deelnemers het ‘n kardoesie met ‘n verrassing ontvang. Die inhoud was geskenk deur Grootbrak Apteek. Die water is geborg deur TRAXDOR.
ERKENNING: Dit was heerlik dat ons Raadslid, Annetjie J. van Rensburg, ons met haar teenwoordigheid kom vereer. Sy gee wonderlike erkenning aan die werk van die VLV, en het die wegspring ‘lint’ gesny.
Die eerste letters van elke word spel die woord wat ek sou kies as ek die geleentheid met net een word kon beskryf: ENERGIE!









