Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

SIRKEL PAARL STAP SAAM VAN TUIN TOT TAFEL

Sirkel: Paarl

Tak: Strand

Portefeulje: Gesondheid en Inter Tak

Saamroeper: Erna de Waal

Beriggewer: Erna de Waal

Datum van vergadering: 26 Mei 2026

Op ‘n pragtige, koel wintersoggend breek die groot dag aan: Die Intertak-byeenkoms van Sirkel Paarl! Reeds vroegoggend het die rangskikkers van die Groenterangskikkingskompetisie begin met hul kunstige skeppings van groente, vrugte en ‘n blom hier-en-daar.

Die pragtige teetafel, komplimente van Erna Krüger en Erna de Waal, het die tema uitstekend uitgebeeld met die verskeie groentes en vrugte, Die geel krisante en sonneblomme het die prentjie volmaak afgerond.

Die Voorsitter, Emsie Marx het afgeskop met ‘n hartlike woord van welkom aan die sewentig gaste, veral die gaste wat van ver gekom het en die besoekende spreker, Johan Laten asook die predikant, Ds Willem Sauer wat die vergadering op passende wyse geopen het.

Erna Krüger, ons eie woordkunstenaar, het ‘n treffende bydrae, “Noag se Vrou – die enigste vrou in die Bybel sonder ‘n naam” – deur haarself geskryf, gelewer. Alet Esterhuyse en Erna de Waal het vir ‘n musikale verposing gesorg met hul klavier duet.

Omdat dit ook Strand-tak se Portefeulje: Gesondheid was, wou ons die klem op Geestesgesondheid laat val. Mariaan Herbert het die spreker, Johan Laten, aan die gaste voorgestel. Hy is self ‘n depressielyer, en gee die volgende wenke vir diegene wat emosionele uitdagings soos depressie en angstigheid ervaar:

# Gee die emosie ‘n naam, dan is dit makliker om daarmee te werk.

# Verander hoe jy met jouself praat. Moenie negatiewe stellings oor jouself maak nie en onthou dat jou tekortkominge nie jouself as mens definieer nie.

# Jou “wellness” gereedskapkissie moet die volgende bevat: Raak deel van ‘n groep en reik uit na ander, gebruik medikasie, hou aan vertrou al voel dit asof God nie antwoord nie, oefen gereeld, drink genoeg water, haal diep asem, eet gesond, slaap genoeg, kry daagliks son op jou vel.

# Hy lê klem op gesprekke met iemand wat jy vertrou. Daar is altyd hoop – al doen jy niks anders nie, PRAAT MET IEMAND!

Sy praatjie het groot byval gevind en hy was hartlik bedank deur Marianna de Villiers.

Nadat die wenners van die onderskeie kompetisies aangekondig en hul pryse ontvang het, verdaag ‘n uiters geslaagde en gesellige Intertak byeenkoms vir ‘n welkome lafenis en ietsie vir die grommende maag.

Tafelversiering wat die tema: Tuin tot Tafel weerspieël.

Die teetafel het groente, vrugte, blomme en selfs die eiers met hoendertjies bevat.

Erna Krüger, wat verantwoordelik was vir die tafelversiering, saam met Karen Barnard (Sirkelpresident).

Ds. Willem Sauer van Somerset-Wes Omgee Gemeente het die opening van die verrigtinge waargeneem.

Johan Laten, ‘n sielkundige, was die spreker wat gepraat het oor geestesgesondheid.

Emsie Marx, Voorsitter Strand-tak, het Johan Laten bedank onder staande toejuiging.

Wenners van die Handvlyt-kompetisie. V.l.n.r: Karen Barnard (Sirkelpresident), Elna Bischoff, Mia Louw en Wilma Kock.

Wenners van die Groenterangskikkingskompetisie. V.l.n.r: Karen Barnard (Sirkelpresident), Wilma Kock, Mia Louw, Gerda Meÿer en Annakie Olwagen.

Intertak-wenners van Suider-Paarl: Karen Barnard (Sirkelpresident), Berta Spangenberg, Gonny du Plessis, Wilma Kock en Anita Basson.

Wenners van die Hekelkompetisie: V.l.n.r: Karen Barnard (Sirkelpresident), Wilma Kock, Gerda Meÿer en Annalise Loubser.