Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Weskus

Tak: Piketberg

Portefeulje: Leefstyl Inligtingsdag

Sirkel President: Elsabé Carstens

Beriggewer: Jo-Ann Claassen

Datum van vergadering: 25 Maart 2026

Inspirasie en Kreatiwiteit vier hoogty by VLV Leefstyl- en Huisvlyt Inligtingsdag in Piketberg

Die VLV Leefstyl- en Huisvlyt Inligtingsdag wat onlangs in Piketberg plaasgevind het, het lede ’n dag van inspirasie en kreatiwiteit gebied. Deeglike beplanning en toewyding deur die Piketberg-tak het gehelp om ’n program saam te stel wat nie net ingelig het nie, maar ook entoesiasme vir die komende kompetisies aangewakker het.

Die dag het op ’n betekenisvolle noot afgeskop toe mev. Elsabé Carstens, Sirkelpresident van Weskus, die opening waargeneem het met ’n voorlesing uit Spreuke 31 oor die deugsame vrou. Haar boodskap het die toon geset vir ’n dag waarin vrouwees, vaardigheid en toewyding gevier is.

Gaste is by aankoms verwelkom deur ’n smaakvolle dekor, met ‘n nostalgiese naaldwerktema wat met ou masjiene, delikate handwerk en vars proteas ’n warm Weskus-atmosfeer geskep het.

Die inligtingsessies het op die 2027-kompetisies gefokus en is deur kundige aanbieders gelei. Mev. Nellie Costerus het haar lewenslange passie vir handwerk gedeel en die handwerkafdeling toegelig. Sy het van ’n jong ouderdom af gebrei en haar vaardighede uitgebou tot sy in 1999 haar beoordelaarskursus suksesvol voltooi het. As lid van die VLV De la Haye-tak is dit steeds haar missie om ander te inspireer om hul hande kreatief te gebruik en nuwe vaardighede aan te leer.

Die gebakafdeling is met ewe veel flair deur Annerie McDonald aangebied. As gekwalifiseerde sjef en fynbakonderwyser het sy waardevolle riglyne en praktiese wenke gedeel. Haar entoesiasme het lede aangemoedig om hul kreatiwiteit in die kombuis uit te leef.

Wat die dag besonders gemaak het, was die aktiewe deelname van die dames. Hulle het met belangstelling geluister, vrymoedig vrae gevra en idees uitgeruil—’n ware weerspieëling van die gees van die VLV, waar leer, deel en groei hand aan hand gaan.

’n Spesiale woord van dank is gerig aan Ilse Hanekom, Sirkel Weskus se Leefstyl-saamroeper, vir haar deeglike uiteensetting van die kompetisie-artikels, asook aan Kaap Agri vir die beskikbaarstelling van die Molsaal, wat die ideale ruimte vir die geleentheid gebied het. Tussen die verrigtinge deur is daar ook tyd gemaak om die verjaardag van Piketberg se eie Dinette Lochner saam met mede-lede te vier.

Hierdie geslaagde dag het nie net waardevolle kennis oorgedra nie, maar ook die bande van vriendskap en samewerking versterk—’n viering van vaardigheid, passie en gemeenskap wat die ware gees van die VLV beklemtoon.

Met ‘n tikkie nostalgie en stylvolle eenvoud het die dekor ‘n warm en uitnodigende atmosfeer geskep.

Mev. Elsabé Carstens, Sirkelpresident van Weskus, het die geleentheid op ‘n betekenisvolle wyse geopen.

Mev. Annerie McDonald en Mev. Nellie Costerus, lei die dag se inligtingsessies met kundigheid en entoesiasme.

Bo: Met vaardigheid lei Nellie Costerus die handwerkafdeling en moedig lede aan om hul kreatiwiteit uit te leef. Middel: Annerie McDonald deel haar kennis en passie vir bak en inspireer lede om kreatief in die kombuis te wees. Onder: Lede neem met entoesiasme deel, vra vrae en ruil idees uit.

Dinette Lochner (sekretaris) se verjaarsdag word gevier met ‘n spesiale geskenk van Nicolene Brown (Voorsitter).

Die dag se program het inspirasie, kreatiwiteit en vaardigheid ingesluit.

Met toewyding en samewerking het die Piketberg-tak Bestuur, Mev. Elsabé Carstens en die aanbieders, Annerie McDonald en Nellie Costerus, ’n suksesvolle inligtingsdag geskep.