Sirkel: Tygerberg
Tak: Helderberg
Beriggewer: Elsa Hanekom
Datum: 29 April 2026
VLV Helderberg is 40 jaar jonk
In die middel tagtigs was VLV Strand ‘n groot tak met heelwat jonger lede. Baie van hierdie jonger lede het voorskoolse kinders gehad en wou die kinders saambring na die vergaderings en in die proses is besluit dat ‘n Junior-tak sal afstig van die Senior-tak.
Die stigtingsvergadering is op 25 November 1985 in die Strand se Biblioteeksaal gehou waar mev Susanne Nothnagel eenparig as die voorsitter van die Junior-tak verkies is.
Sy sê: “Ons ondervinding is min, maar ons entoesiasme is baie.” (Vandag, 40 jaar later is ons ondervinding meer, maar ons entoesiasme is beslis nog baie.)
Die eerste algemene vergadering is op 12 Februarie 1986 gehou en daar was besluit om elke tweede Woensdag van die maand te vergader en so doen ons nog steeds vandag 40 jaar later en wel in die kerksaal van die NG Kerk Strand-Noord.
Volgens die notule van die stigtingsvergadering sal die tak as die Hottentots-Holland-tak of Junior-tak bekend staan. Die benaming Junior-tak het oor die jare weggeval en in Oktober 2023 het die naam verander na VLV Helderberg.
Met ‘n besoek aan die argief in Jubileumhuis, ontdek skrywer dat die tak gereeld ‘n herfstee aangebied het. En nadat die ou notuleboeke uitgegrawe is, vind ons in die notule van ‘n bestuursvergadering, gehou op 26 Februarie 1992, dat die eerste herfstee op 13 Mei 1992 gehou is.
Die ou notules maak interessante leesstof.
Moeilik om van die VLV te glo, maar volgens die bestuursnotule van 22 Januarie 1986 sal GEEN eetgoed saam met die tee bedien word nie. Teegeld vir lede was 20c en vir gaste 50c. Maar in Januarie 1994 word daar besluit dat daar voortaan toebroodjies by die vergaderings bedien sal word. 40 jaar later doen ons dit egter anders en kreun die tafels onder ‘n verskeidenheid van eetgoed.
Die tak het gereeld die burgemeestersvrou, mev Anna Hattingh, gehelp met haar Tee vir Bejaardes wat in die Charles Morkel stadion se saal gehou was en het ook die spyseniering vir troues en ander funksies gedoen teen R15 per kop.
Elke moontlike raad wat bestaan het, het ‘n praatjie by die tak aangebied, van die Vleisraad, die Piesangraad tot die Aartappelraad en nog vele tussenin.
Op daardie stadium het Gant’s Food nog ‘n fabriek in die Strand gehad en het die tak gereeld demonstrasies in hul toetskombuis gehad.
Oor die afgelope 40 jaar het dinge baie verander, maar in sekere opsigte ook maar dieselfde gebly.
Daardie tyd was “deelname aan kompetisies swak”, maar deesdae is gesonde kompetisie sterk in die tak en neem lede ywerig deel.
Daardie tyd het die plaaslike koerant min dekking aan die vergaderings gegee, en dit het konstant gebly – deesdae gee hulle nog steeds min dekking.
Daardie tyd was lede gereeld geluk gewens met die koms van ‘n nuwe baba, deesdae word lede gereeld geluk gewens met die koms van ‘n nuwe kleinkind.
Terug na die hede:
Toe die lede begin gesels het oor die tak se 40ste verjaarsdag en of ons net die geleentheid by ‘n takvergadering gaan vier of iets groots gaan aanpak, het ons besluit om die ou tradisie te laat herleef en ‘n herfstee aan te bied.
Op 29 April 2026 breek die dag toe aan waarop ons ons 40ste verjaarsdag met ‘n herfstee in die kerksaal van NGK Strand-Noord gevier het. Dieter Voigt was die spreker terwyl Edie en Edu Henn (ma en seun) die gaste met hul musiek trakteer het. Spesiale gaste was wyksraadslid vir Somerset-Wes, Gregory Peck en sy vrou Nan, en Sirkel President van Sirkel Tygerberg, René Nel en haar man Piet.
Tereo Skool, VLV Helderberg se uitreik-projek, het die bordjies verhang en op die dag vir VLV Helderberg kom ondersteun.
Elke lid, van ons oudste lid van 87 tot ons jongste lid in haar dertigs, het saamgewerk om van hierdie herfstee ‘n besonderse geleentheid te maak. Ons het die ondersteuning van ander takke in Sirkel Tygerberg, en selfs Sirkel Paarl, se lede gehad.
Voorwaar – Ons krag lê in Spanwerk!

Welkom

Dieter Voigt, die spreker, aan die woord

Edie en Edu Henn

Oestafel

Sirkelpresident, René Nel

Leerlinge en skoolhoof, Estelle Joubert, van Tereo Skool

Charlotte Kriek, voorsitter, en Annerie Mac Donald, ondervoorsitter, sny die verjaarsdagkoek. Annerie het ook die koek gebak en versier.

Rangskikking op die verhoog

Van die bestuurslede saam met Dieter Voigt