Sirkel: SWD
Tak: Hartenbos
Studierigting: Gesondheid
Saamroeper: Emsie Viljoen
Datum: 29 Julie 2025
Beriggewer: Wilma van Staden
Op die koue wintersoggend van 29 Julie 2025 het lede en besoekers in verwondering geluister na die spreker, Marli Ferreira van Kind2Hearing, wie met ons kom praat het oor gehoor en gehoorverlies.

Marli Ferreira en Louwrein Wessels van Kind2Hearing
Marli het die gehoorstelsel verduidelik, die verskillende dele en funksies daarvan uitgewys. Aansluitend daarby het sy die afwykings wat in elke deel van die oor kan voorkom, verduidelik en die invloed daarvan op die gehoorwelstand, uitgewys.

Anatomie van die oor. Bron: Internet
Die buiteoor is die deel wat jy kan sien. Ongesteldhede wat daar voorkom is meestal nie permanent nie, en word oor die algemeen hanteer en opgelos. Die mees algemene rede van probleme van buiteoor is oorwas blokkasies wat voorkom dat die klank die oordrom kan bereik. Om met oorstokkies te probeer skoonmaak word ten sterkste afgeraai. Dit is beter dat dit professioneel gedoen word. Swam infeksies en vreemde voorwerpe in die oorkanaal is ander redes vir geleidingsprobleme. Sy verduidelik dat insekte in die oor nogal ‘n algemene probleem is. Haar raad is dat jy in ‘n donker kamer gaan en dan ‘n skerp liggie net buite die oor hou, omdat insekte na lig toe beweeg, kom hy dan uit. Baie interessante en komiese boererate het vanuit die gehoor na vore gekom.

Middeloor. Bron: Internet
Die middeloor is die deel waar die geleiding van die klank dmv drie klein beentjies geskiet. Middeloorinfeksies is ‘n algemene probleem by kinders, maar nie beperk tot kinders nie. ‘n Algemene oorsaak van die infeksies is agv water in die ore agv swem of van keel en sinus infeksies. Otosklerose is ‘n ander toestand in die middeloor. Dit is waar verkalking van die drie klein beentjies voorkom en dan geleiding van klank na die binneoor belemmer. Geperforeerde oordromme agv beserings kan ook vir gehoorverlies verantwoordelik wees. Al hierdie toestande kan goed behandel word en nie noodwendig permanente skade doen nie.

Binne-oor. Bron: Internet
Die afwykings in die binne-oor is dié afwykings wat grootliks vir gehoorverlies verantwoordelik is. Hierdie afwykings word deur ‘n hele paar omgewings -en gesondheidsfaktore veroorsaak. Hierdie faktore veroorsaak dat die fyn haartjies wat in die skulpagtige of slakagtige struktuur in die binne-oor is en die begeleiding van die klank doen, beskadig, word wat nie weer herstel kan word nie.

Fyn haartjies in die slakagtige struktuur in die binne oor. Bron: Internet
Die volgende is faktore wat bydra tot permanente gehoorverlies: Permanent moet gesien word dat ‘n dokter niks meer daaraan kan doen nie. NIKS!
Saam met oudword, gebeur gehoorverlies weens verskeie prosesse wat ‘n rol speel. In baie beroepe word werkers aan baie hoë geraasvlakke blootgestel. In ons jongerjare was allerhande gehoorbeskermingstoerusting nie beskikbaar nie en die wat daar was, was baie ongemaklik en is nie gedra nie.
Virale infeksies en breinvliesontsteking is van die siektetoestande wat kan bydra tot die beskadiging van die binneoor en permanente gehoorverlies tot gevolg het. Diabetes is ook ‘n algemene siekte wat ook nadelig is vir die gehoor.
Malaria behandeling, Ototoksiese medikasie, bestraling en chemoterapie vir kankerlyers is ook oorsake wat kan bydrae tot permanente gehoorverlies.

Marli Ferreira besig met haar aanbieding.
Marli vermeld die volgende tekens wat aantoon dat ‘n persoon gehoorverlies ervaar. Die persoon sukkel om in ‘n groep te hoor en in gesprekke vra die persoon gedurig vir herhaling, dit klink vir die persoon of almal mompel. ‘n Persoon mag ook geluide in die ore hoor, daardie sonbesies. Dit klink ook vir die persoon asof sekere woorde in ‘n sin ontbreek. Familie en vriende kla dat die persoon nie kan hoor nie en die persoon begin al meer onttrek. Telefoongesprekke is ook baie moeilik. Hulle stel gedurig die TV of radio harder.

Humoristies skets: Die tekens van gehoorverlies. Bron: Internet
‘n Frase wat mense gebruik en wat dui op ‘n gehoorprobleem is: “Ek nie sukkel nie om te hoor nie, maar het ‘n konstante gesuis of gezoem in my ore”. Tinnitus word meestal veroorsaak deur hoëfrekwensie permanente gehoorverlies. Studies toon dat die passing van gehoorapparate by die meeste mense tot ‘n afname van tinnitus kan lei. Tinnitus kan voorkom met vertigo. As jy skielike duiseligheid en vertigo ervaar, moet jy dadelik jou dokter raadpleeg.
Om voltyds met gehoorverlies te lewe, het ernstige nadelige gevolge vir ‘n persoon. So ‘n persoon word gefrustreerd omdat hy/sy nie kan hoor nie en onttrek naderhand uit die sosiale lewe. Dit lei tot geestesgesondheidprobleme. Die brein word ook nadelig beïnvloed deur die ongebruik van daardie gedeelte van die brein en dit lei tot ‘n groter geneigdheid vir Dementia.
Marli het vertel dat gehoorapparate baie kleiner as wat dit ‘n paar jaar gelede was. Die klank gehalte is uitstekend. Telefoongesprekke is makliker en beter en daar is minimale tot nul gefluit in die ore. Gesprekke in ‘n geraas word ook baie beter gevolg. Baie apparate word deur toeps op die selfoon gereguleer.

Gehoorapparaat in ‘n persoon se oor. Bron Internet
Baie mediese fondse betaal vir oorfone. ‘n Oudiolgie praktyk sal vir jou kan uitvind. Fondse het verskillende hoeveelheid fondse daarvoor beskikbaar en die siklusse vir hernuwing, 2-3 jaarliks verskil ook tussen fondse. Die verkryging van die gehoorstukke is egter buite bereik vir baie mense weens hulle beperkte finansiële vermoëns. Sy meld dat mense ongebruikte oorfone aan oudioloë kan skenk vir hergebruik van diesulkes. Dis beter om ‘n tweedehandse oorfoon te gebruik, as glad nie. Dis beter om net een oorfoon te gebruik, as glad nie.

Gehoorapparaat batterytjies.
Siftingstoetse kan by alle Oudioloë gedoen word wat, indien dit nodig is, verdere volledige assessering kan uitvoer. Na afloop van die praatjie kon lede en besoekers siftingstoetse ondergaan wat baie persone weer gerus gestel het, en andere se vermoedens bevestig het.
Almal teenwoordig het dit ‘n baie leersame en vrugtevolle byeenkoms gevind.
Mark Twain: “Kindness is a language which the deaf can hear and the blind can see”.

Groep verantwoordelikvir die oggend se verrigtinge. Agter vlnr., Naomi Geeringh, Emsie Viljoen, Saamroeper van Gesondheid, Louwrien Wessels, Mede-gasspreker, Oudioloog, Marli Ferreira, Gasspreker en Oudioloog, Rolien Smit, Voorsitter, VLV Hartenbos, Marina Olivier, Magriet Second. Voor: Tokkie van Wyk.