Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Paarl

Tak: Slot van die Paarl

Portefeulje: Tuin- en Landbou

Beriggewer: Annalise Loubser

Datum: 6 Mei 2025

Geel was die kleur van die dag

Selfs die hare was geel

Gasspreker by haar produkte

Lorraine Zeeman van Mountain Bee in Worcester was ons baie interessante spreker wat na ‘n paar jaar in die kosbedryf, haar heil gevind het om velsorg- en ander produkte van heuning, byebrood en byewas te maak.

Hulle doen geen bestuiwing nie en die korwe is afgeleë waar daar geen menslike inmenging of bespuitings plaasvind nie. Daar is net skoon lug en pragtige fynbos en dis hoekom hulle hul reeks Mountain Bee noem.

Sy stel ons bekend aan Propolis, ‘n produk verkry van die sap van naaldbome soos denne, wat nooit hulle blare verloor nie. Dit is een van die enigste stowwe in die wêreld wat omtrent al die vitamines en voedingstowwe bevat wat nodig is om lewe te onderhou.  Bye kan hierdie sap in ‘n taai hars omskep. Die bye gebruik dan die propolis soos ‘n gom om hulle korf bymekaar te hou. In die somer duur dit sowat twee maande vir ‘n korf om vol heuning te raak. Die uitgehaalde heuning moet dan na die plaas vervoer word, want dis waar die heuning- en uitswaaikamer is. Nuttige gedagte wat sy gedeel het, is dat as heuning nie sandsuiker nie, is dit nie rou heuning nie. Moenie dit in ‘n mikrogolf warm maak nie, maar laat liewer die houer in die son staan. Rou heuning kan op seerplekke ook gesmeer word.

Elke korf het sy eie persoonlikheid; die een is onbeskof, die een is baie besig, die een is bietjie lui. Dit is dus altyd belangrik om die volle mondering van kop tot tone te dra, veral sy wat allergies is vir bysteek. Die korwe word geplaas waar hulle floreer en dan word hulle nie weer geskuif nie. Al wanneer hulle geskuif sal word, is wanneer daar natuurrampe of brande voorkom. Al deel wat geskuif word, is die boonste deel van die korf.

Sy het ‘n uitgebreide produkreeks wat wissel van rou heuning, heuningtoffies, gefermenteerde  heuning met geurmiddels tot serums, salf, seep, kerse, lyfroom en lipsalf. Heuning verkoop homself, maar sy het opgemerk dat daar velsorgreekse beskikbaar is wat heuning, byebrood en was gebruik en begin navorsing doen en toe mettertyd haar eie produkte begin ontwikkel. Om die seep te maak, is amper soos om mayonnaise te maak. Sy hou self baie van die seep omdat dit ‘n natuurlike produk is. Haar reeks is slegs op natuurlike produkte geskoei. Die Koreaanse velsorgbedryf is byvoorbeeld baie lief vir byebrood, en dit het haar die idee gegee om daarmee te werk. Dis ‘n taai produk en glad nie lekker om mee te werk nie, maar dit is uiters voordelig. Dis amper soos die “antibiotika” van die korf. Byebrood bevat basies al die voedingstowwe wat ‘n mens nodig het. Dit is baie goed vir ekseem of ‘n droë vel.

Die lede het haar goed ondersteun met aankope. Op hierdie stadium hoop sy dat haar produkte meer sal versprei en soms is die beste bemarker juis die tevrede gebruiker.

Teetafel in geel getooi

Voorsitter Fia la Grange saam met Sekretaris Marileine Burger

Crystal Muller doen die opening

Leoné Hanekom bedank die gasspreker en oorhandig ‘n geskenkpak en bos blomme

Gasspreker saam met die voorsitter

Marileine Burger doen verslag oor die onlangse konferensie