Sirkel: Sirkel Overberg
Tak: Gansbaai
Portefeulje: Openbare Sake
Saamroeper: Ammie Loots
Beriggewer: Marianna Mostert
Datum: 7 April 2026
“RISE AGAIN” – GEE HULLE ‘N STEM
Hoe wonderlik was dit nie om te luister na Cathrine Nyquist se storie oor haar verbintenis met Panthera Africa Big Cat Sanctuary en haar passie vir die diere. Menigte van ons het met ‘n traan in die oog na haar storie geluister.
Die vlamme kon nie ons missie stilmaak nie, was haar boodskap.
Wat ‘n traumatiese ervaring vir die mens en dier toe die brand al nader en nader kruip aan Panthera Africa. Op ‘n stadium het hulle geweet dit is nie ‘n kwessie van of die brand die reservaat gaan bereik nie, maar wanneer? Baie belangrike besluite moes geneem word, want ‘n mens skuif nie net groot katte so maklik nie. Daar moes mooi beplan word waarheen en hoe en natuurlik is geld ‘n groot faktor. Om een dier te skuif kos ‘n klomp geld.
Cathrine vertel dat die mense van Suid-Afrika eenvoudig wonderlik is. Van heinde en verre het mense donasies geskenk en het hulle opgedaag om hulp aan te bied.
Ons VLV-dames het ook ons hulp aangebied deur water te skenk omdat al die toerusting om water by die reservaat te kry ook in die brand in die slag gebly het. ‘n Bakkie vol gebottelde water is op Panthera afgelaai.
Die video van die brand was na maande nog steeds traumaties om na te kyk. Mens kan net dink wat die arme diere moes ervaar. Ons kan nog ons stem gebruik en daaroor praat, maar hulle?
Sy vertel ook dat sy tot vandag toe nog nie kan glo dat daardie dier so gehoorsaam was en geluister het as hulle bv. na ‘n kleiner kampie verskuif moes word. Hulle het eenvoudig net geluister en geloop.
Met baie genade is die diere almal uitgeplaas na soortgelyke reservate en die wat deur die brand seergekry het is versorg deur ‘n dierekliniek.
As jy meer wil weet van Panthera Africa, wie hulle is, wanneer hulle ontstaan het, hoe groot die plaas is waarop die reservaat gevestig is of die diere wat hulle huisves, of hoe jy kan betrokke raak of skenkings gee, gaan blaai deur hulle webwerf
Die wonderlike boodskap na die brand is dat hulle ‘n visie het om te herbou. Natuurlik is daar baie uitdagings vir die stigters en eienaars van die organisasie en moet hulle belangrike besluite neem, maar die toekoms lyk goed en die hoop is daar dat hulle die diere kan terugbring en weer opstaan uit die as.
Baie dankie aan Ammie Loots en die span gasvroue van Openbare Sake wat hierdie middag moontlik gemaak het. Hulle tema vir die middag het jou waarlik so goed aangesluit by die middag se gesprek. Ons het die heerlikste kolwyntjies gekry, versieringe van grootkatte en diere prentjies bo-op. Hoe oulik en kreatief kan ‘n mens nou wees? Ongelooflik.

“RISE AGAIN” – GEE HULLE ‘N STEM

Ons spreker vir die middag, Cathrine Nyquist, aan die word




Ons kuier lekker saam

Pragtige lopers op die tafels wat so goed inskakel by die middag se gesprek