Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Paarl

Tak: Stellenbosch

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Nina Strydom

Datum: 14 Augustus 2025

Volgens die jongste statistieke van die Centre of Disease Control (VSA) word 1 uit 36 kinders met outisme gediagnoseer. Outisme strek oor ‘n wye spektrum: van lig aangetaste vermoëns tot erg gestremde breinontwikkeling. Ilze Soutter, die bestuurder van Teaching Learning Consultancy (TLC) in die Strand het die maandelikse byeenkoms van die Stellenbosch-tak kom toelig oor hierdie onderwerp wat toenemend meer mense raak.

Persone met outisme leef in ‘n afgeslotenheid en het elkeen unieke uitdagings. Dit sluit in:

  • Taal en spraak wat ‘n hindernis is tot normale verhoudings en sosiale interaksie
  • Herhalende gedrag of gewoontes
  • Sensitiwiteit ten opsigte van sensoriese prikkels van buite
  • Aandagafleibaarheid
  • Behoefte aan roetine en voorspelbare gedrag
  • Belewing van erge angstigheid en frustrasie
  • Pynlike eerlikheid.

Bogenoemde bied besondere uitdagings aan die ouers – ook as gevolg van onkunde in die samelewing. Kinders word dikwels as stout bestempel en gestraf terwyl dít hulle net angstiger maak en negatiewe gedrag versterk. Dit is belangrik dat goeie gedrag versterk en geprys word.

Ouers moet so spoedig moontlik hulp kry. Dit is ook belangrik dat ouers besef dat outisme NIE veroorsaak word:

  • deur iets wat verkeerd geloop het tydens swangerskap nie,
  • die gevolg is van melkformule of inentings of gebrek aan inentings nie,
  • die gevolg is van gebrekkige liefde of aandag in kleintyd nie.

‘n Kind met outisme is nie ‘n slegte kind of kind met slegte temperament nie. ‘n Kind is nie outisties as gevolg van ‘swak opvoeding of ouers’ nie.

Outisme is iets waarmee die kind gebore word en sal hê vir die res van sy lewe.

Hoewel daar nie genesing is vir outisme nie, is daar altyd hoop op verbetering wat die kind kan help om ‘n sinvolle lewe te lei. TLC is ‘n sentrum waar outistiese kinders deur middel van intervensie gehelp word om die brein te ontwikkel en met gedragsmodifikasie hulle sosiaal meer aanvaarbare gedrag aan te leer sodat hulle as volwassenes so onafhanklik moontlik kan leef en funksioneer. Hulp en meer inligting kan verkry word by https://thetlccentre.com.

Ilze Soutter aan die woord oor outisme

Vroeë tekens