Sirkel: Weskus
Tak: St Helenabaai
Portefeulje: Landbou en tuinbou
Beriggewer: Wilna Marx
Fotograaf: Anette Yell en Annelie Nieman
Datum: 14 April 2026

Uitnodiging
Ons doen die bye-dans met ‘n traan in die oog, hier in die baai van St Helena
Ons dra hierdie bydra op aan ons Liewe Adelle wat haar aardse huis op 12 April 2026 vir haar ewige Hemelse tuiste verruil het. Vir die wat haar nie geken het nie, sy was een ongelooflike mens. Sy het vir ons gewys wat hoop, uithouvermoë en vasberadenheid is.

Adelle, ons maat!
Vandag leer ons van bye. Nelson de la Quera van Vita Bee in Stellenbosch lewer ’n insiggewende praatjie oor bye, heuning en die belangrike rol wat bye in ons wêreld speel.
Twee soorte heuningbye in Suid-Afrika
Daar kom veral twee soorte heuningbye in Suid-Afrika voor. In die noorde van die land is dit die African honeybee (Apis mellifera scutellata). Hierdie bye is meer aggressief en byeboere werk daarom dikwels snags met hulle.
In die Wes-Kaap kry ons die Cape honeybee (Apis mellifera capensis). Hierdie bye is rustiger en byeboere kan gewoonlik gedurende die dag met hulle werk.
Die struktuur van ’n byekorf
In een byenes kan daar tussen 30 000 en 60 000 bye wees. Die kolonie bestaan uit drie soorte bye:
- Die koningin – sy is die belangrikste by en is verantwoordelik vir voortplanting.
- Werkerbye – vroulike bye wat al die werk in die korf doen.
- Mannetjiebye (drones) – hulle enigste taak is om met die koningin te paar.
Die koningin kan tussen 1500 en 2000 eiers lê en kan tot vyf jaar leef.
Die lewe van ’n werkerby
Werkerbye het verskillende take gedurende hul kort lewe van ongeveer 42 dae.
- In die eerste dae maak hulle selle skoon sodat die koningin eiers kan lê.
- Daarna voer hulle jong larwes.
- Later word hulle skoonmakers en versorgers in die korf.
- Op ongeveer dag 21 begin hulle as wagte werk.
- Daarna gaan hulle uit om nektar en stuifmeel te versamel.
Bye het twee pare vlerke en werk baie hard gedurende hul kort leeftyd.
Die rol van die koningin
’n Nuwe koningin neem ongeveer 16 dae om volwasse te word en word met Royal jellie gevoer. Op omtrent dag 5 verlaat sy die korf vir ’n paringsvlug waar sy met ongeveer sewe mannetjiebye paar. Die mannetjies sterf daarna.
Die koningin bêre die sperm in ’n spesiale sakkie en kan vir tot vyf jaar vrugbare eiers lê. Sy het ook by-wagte wat haar beskerm en haar feromone deur die kolonie versprei.
Wanneer die bye agterkom dat sy nie meer produktief is nie, sal hulle haar vervang met ’n nuwe koningin.
Bye se belangrikste taak: Bestuiwing
Bye het ‘n bitter belangrike werk. Hoewel baie mense aan heuning dink, is bye se belangrikste rol bestuiwing. Hulle help om die ekologiese balans en die biodiversiteit in die natuur te handhaaf. Baie diere en plante is afhanklik van bye se harde werk. Bye is verantwoordelik vir ongeveer 80% van die wêreld se bestuiwing. Dit is ‘n massiewe verantwoordelikheid vir sulke klein wesentjies!
Bye is van uiterste belang vir voedselsekuriteit. Ongeveer ‘n derde van wat ons eet is afhanklik van bye en ander bestuiwers! Saadgewasse, groente, vrugte en neute is voorbeelde daarvan. Bye se bestuiwing is belangrik vir die hoeveelheid, kwaliteit en pesweerstandigheid van plante wat boere vir menslike verbruik produseer. Hierdie bestuiwing help dat meer kos geproduseer word en skep ook werksgeleenthede in die landbou.
Produkte uit die byekorf
Bye produseer verskeie waardevolle produkte:
Heuning – ’n natuurlike voedsel met verskillende geure en kleure, van baie lig tot amper swart.
Royal jellie – word deur jong larwes geproduseer en word baie in kosmetiese produkte gebruik.
Propolis – ’n mengsel van boomgom en byewas wat gebruik word om die korf te seël en ook as natuurlike medisyne vir bye. Selfs in antieke Egipte is heuning en propolis gebruik om koninklikes te balsem.
Bysteke en bygif
Baie mense is bang vir bysteke, maar bygif word vandag ook geoes en gebruik in kosmetiese produkte en sekere mediese behandelings.
Navorsing toon dat baie byeboere baie oud word, moontlik omdat hulle gereeld aan klein hoeveelhede bygif blootgestel word.
Verskillende soorte heuning
Heuning kan baie verskil in kleur, smaak en geur, afhangend van watter plante die bye besoek.
Op die Weskus kry mens byvoorbeeld verskillende tipes boegoe-heuning, wat dikwels donker van kleur is en bekend is vir sy genesende eienskappe.
Donker heuning bevat gewoonlik meer yster.
Hoe om goeie heuning te herken
Die voginhoud van heuning bepaal die kwaliteit. In Suid-Afrika is die maksimum toelaatbare voginhoud 20%.
Baie heuning op winkelrakke word ingevoer – ongeveer 80% kom uit China – en voldoen nie altyd aan plaaslike standaarde nie.
Die beste raad is om heuning by plaaslike produsente te koop.
Bye en kommunikasie
Bye gebruik spesiale danse om vir mekaar te wys waar kos gevind kan word.
Bedreigings vir bye
Die oorlewing van bye is vandag ’n groot uitdaging. Een van die grootste probleme is chemiese plaagdoders, veral in sitrusboerdery.
Sagtevrugteboere spuit daarom dikwels snags, wanneer bye nie vlieg nie, om hulle te beskerm.
Interessante feite oor bye
- Een by maak in haar leeftyd net ongeveer een teelepel heuning.
- Bye benodig baie blomme om te oorleef.
- Selfs kruie kan goeie voedsel vir bye wees.

Maretha (regs) bedank Nelson (links) vir sy baie insiggewende praatjie
Karen stel vir Patty van Greenlands Community Gardens aan die woord . Patty vertel hoe die tuin sowat vyf jaar gelede begin het nadat sy ’n program oor Tannie Zani in die Oos-Kaap gekyk het. Dit het haar geïnspireer om ’n gemeenskapstuin in Stompneusbaai te begin.
Saam met ongeveer 30 vroue het hulle ’n stuk grond wat voorheen as rommelstrooiplek gebruik is, skoongemaak en begin plant – aanvanklik met pampoenpitte. Daar was geen water nie en elkeen het emmers water aangedra, maar tog het die plante goed gegroei.
Mettertyd het hulle ondersteuning ontvang van die munisipaliteit, Oceana visfabriek en Landboukollege van Elsenburg, wat o.a. gereedskap, omheining, ’n tuinhuisie en saailinge geskenk het. Hulle het ook geleer dat die Weskus baie geskik is vir ondergrondse knolgewasse.
Vandag verkoop hulle produkte aan winkels en voorsien ook groente aan sopkombuise, skole en mense in die gemeenskap. Die tuin is nie winsgewend nie – alle fondse word weer gebruik vir saad en nuwe aanplantings.
Die projek ontvang donasies van verskeie instansies, onder andere SEEFF wat vir hulle ‘n pragtige naambord opgerig het. Elke jaar word Graad R- en Graad 1-leerders genooi om saam te kom plant, sodat kinders van kleins af kan leer dat ’n mens jou eie kos kan kweek. Hulle leer sommer vroeg van die tuin tot die tafel!

Karen (regs) bedank vir Patty (links)
Met ‘n heerlike heuningkoek, vir ons gebak deur Rachelle, wat ook sameroepster van Landbou en Tuinbou is, vier ons, ons tak se 62ste verjaarsdag op 20 April sal wees. Ons het ook pragtige gelukwensing vanaf die VLVK President, Mev. Hannelie Low ontvang.

Ons mooie heuning verjaarsdagkoek en verjaarsdagwense!
Elize, die eienaar van die plaaslike Fijnbos kwekery het ‘n hele klompie by-vriendelike plante geskenk. Gelukkig lede en gaste met kolle agterop hulle stoele het elkeen ‘n plant ontvang.

Maggie ons Voorsitter tweede van links saam met ‘n paar van ons gaste wat plante gewen het.
Maggie, Voorsitter van ons tak het ‘n praguitstalling gemaak van die bome van die jaar.

Maggie se “Boom van die Jaar 2026” uitstalling
So met lekker saam kuier, eet en drink rondom die heerlike eetgoed kom ons oggend tot ‘n einde.

Kuier saam!