Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Portefeulje: Leefstyl Vergadering
Saamroeper: JoAnne de Kock
Beriggewer: Letty-Ann Möller
Datum van vergadering: 3 Maart 2026

Gasspreker, Madelie Daneel (née Prins).
BREDASDORP, BLY WEG VAN PAKKIES EN BLIKKIES EN BOKSIES
Eet produkte uit die tuin! Eet produkte van diere. Eet organies en leef gesond. Kraak jy as jy trappe klim? Eet genoeg vette en olies wat jou skarniere kan smeer. Moenie die gesondheidswaarde van ‘n snytjie growwe grondboontjiebotterbrood onderskat nie! Dit, in ‘n neutedop, is wat die energieke en spontane jong Madelie Daneel, met ons leefstylvergadering gesê het. Drink liewer gewone water as water met gas in.
Bredasdorp se lede en genooide gaste het geamuseerd maar met intense belangstelling geluister na al die natuurlike gesondheidswenke. Die kanse is goed dat daar vorentoe moue en broekspype opgerol gaan word terwyl ons dames die sonnetjie gaan opsoek vir vitamien D absorpsie.

Beoordeling.
Intussen het die 4 beoordelaars en 1 skrywer ‘n besige sessie in die sysaaltjie gehad. Ten minste 14 lede het meer as een artikel ingeskryf, soveel so dat gemiddeld 3 artikels per afdeling beoordeel kon word. Wat meer is, is dat daar meer as die vereiste aantal artikels met onderskeiding vir die 11de Maart se konferensie op Hermanus gekwalifiseer het.

Joanie Pretorius deel die puntetoekennings. JoAnne de Kock staan by.
Bredasdorptak se jaarlikse werkswinkels -waarna lede van ander takke sowel as van die publiek uitgenooi word om by te woon -het beslis meriete. Hiervan getuig die verskeidenheid van deelname en die gemiddelde persentasies wat toegeken is.
Hierdie werkswinkels word jaarliks op die Facebook-blad van ons Vroue-Landbouvereniging van Kaapland gepubliseer.