Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel                         Tygerberg

Tak                             Goodwood

Portefeulje                Inleiding tot nuwe jaar

Saamroeper             Bes van Zyl

Beriggewer              Shirley Brand

Datum                        20 Januarie 2026

AO Frans Rossouw van Goodwood Polisie het ons kom toepreek oor bogenoemde onderwerp. Hy spesialiseer in Kuberbedrog (onder andere).

Swendelaars moet seker die slimste mense op aarde wees! (verskoning aan Einstein). Nes jy dink jy het jouself nou beskerm op jou selfoon en rekenaar teen ongewenste mense wat jou identiteit en geld steel, dink hulle iets nuuts uit. Mens kan net nie bybly nie. Maar as jy bewus is van die gevaartekens, dan kan jy dalk ‘n skelm ruik aankom. En dit is wat Speurder Rossouw vir ons van vertel het:

Vrouens wat alleen is en dalk ‘n vriend op Facebook of X of WhatsApp soek, oppas sodra hulle vir geld begin vra. Dit begin met “Ek wil graag vir jou kom kuier maar ek kort ‘n vliegtuig kaartjie (of so iets) – en net daar word jy gevang. So is baie vrouens al duisende rande besteel. Mense is al baie keer so gevang dat hulle hele pensioen en spaargeld verloor het – en van die mense pleeg selfmoord want hulle is te skaam om hulle families te vertel en hulle sien nie ‘n uitkoms nie.

Dan is daar die sogenaamde makelaars wat jou probeer wysmaak dat jy in een of meer skemas moet belê.

Die “bank” bel jou – dit klink so eg want hulle ken dan self jou ID nommer – hulle vra jou om ‘n kode in te tik op jou foon (wat hulle natuurlik self vir jou gestuur het) – en tjoef-tjaf – al jou geld word onttrek uit jou rekening!

Ons almal al het een of ander tyd ‘n SMS op jou selfoon gekry dat jy miljoene gewen het jy moet net sekere stappe volg.

Nie so lank terug nie moes jy ‘n simkaart vir jou selfoon laat RICA het – nie meer nie – elke tweede winkel verkoop nou simkaarte. Jou selfoon word gesteel, hulle haal jou simkaart uit, sit ‘n nuwe een in en daar het jy dit! – Moenie private inligting soos jou bankbesonderhede op jou foon stoor nie.

Alles klink so “Maar jitte kan dit waar wees dat mense nou nog so dom is?” JA! Want ons wil glo dat mense goedhartig is, maar die wêreld het verander.

As jy nie ‘n item in jou hande kan hou en self daarna kyk nie, moenie dit koop nie (Gumtree, Facebook Marketplace, Shein, Temu). Alles lyk deesdae so maklik en aanloklik – wees versigtig.

AS DIT TE GOED KLINK OM WAAR TE WEES – DAN IS DIT!