Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Beriggewer: Hannetjie Cordier

Datum: 18 Maart 2025

VOËLVLEI SE LEDE LEER MEER VAN DIE TERAPEUTIESE WAARDE VAN KUNS – EN DAT ALMAL KÁN TEKEN!

Met hulle vergadering op 18 Maart 2025 in die Gemeenskapsaal op Gouritsmond, het die Voëlvlei-tak van die VLV dit weer eens reggekry om die lede en besoekers te laat skater van die lag, en terselfdertyd te verryk met kennis en vaardighede.

Met die ysbreker het Elmarie Neethling, bestuurslid vir Openbare Sake, die ou bekende telefoontjie-speletjie gebruik om te demonstreer hoe belangrik kommunikasie is en hoe stories stertjies kan kry wanneer dit oorvertel word. Nie een van die kort stukkies inligting wat Elmarie vir die eerste persoon op die “telefoonlyn” gegee het, was teen die einde naastenby herkenbaar nie. Sonder dat feite doelbewus weggelaat, verander of verdraai is, het die oorspronlike boodskap verlore gegaan en heeltemal verkeerd by die laaste persoon uitgekom. Al het die aktiwiteit die dames lekker laat lag, het almal weer eens besef hoe maklik stories stertjies kan kry.

Na die ysbreker het die ervare Michelle Jooste, wat op Albertinia kunsklasse vir volwassenes aanbied, die dames van Voëlvlei se tak meer geleer oor die waarde van kuns as terapie.

Michelle het verduidelik hoe ‘n mens in elke stadium van jou lewe baat kan vind by kuns. Van die ouderdom van drie jaar af help die herkenning van kleure en vorms reeds om ‘n mens se brein te ontwikkel. As tiener help kuns jou om jou emosies te verwoord, en in die middeljare kan kuns dien as ontvlugting van die daaglikse gejaag.

In ‘n mens se ‘wyser, gryser jare’ kan almal op vele gebiede baat vind by kuns. Dit verbeter ‘n mens se kognitiewe funksies – die onthou, bestuur en stoor van inliging, asook die herwinning daarvan. Navorsing het bewys dat indien mense met dimensie gereeld sit en skets, hulle makliker dinge uit die verlede kan onthou.

Kuns verlaag ook stresvlakke. Michelle het vertel hoe van haar studente soms na twee of drie ure nie kan glo dat die klas reeds verby is nie. Deur te fokus op wat op die papier voor hulle aangaan, het hulle ontspan en vergeet van die probleme en gejaagde lewe daarbuite. Die kunsklasse moedig mense aan om uit die huis te kom en om tyd saam met ander deur te bring. Heerlike musiek en die aanmoediging van ander maak kuns nog lekkerder en sorg vir noodsaaklike sosiale interaksie na mate jy ouer word.

Die bewegings wat nodig is om te skets en te verf, bevorder hand-oog-koordinasie en hou ‘n mens se fyn motoriese vaardighede skerp. As ‘n mens iets uit klei vorm, kry jou brein en vingers weer op ‘n ander manier oefening. Die beoefening van kuns verlaag kortisolvlakke in die brein, verbreek gewone denkpatrone en laat nuwe denkpatrone vorm. Michelle het beklemtoon hoe belangrik dit is dat die linker- en regterbrein moet saamwerk om kuns te beoefen.

Die uitnodiging na die vergadering se kunskaskenades en die versoek dat elkeen ‘n voorskoot en handewaslappie moes saambring om stap-vir-stap te leer om ‘n gesig met houtskool te teken, het reeds pret belowe. Michelle het almal aangemoedig om haar instruksies te volg om te probeer om ‘n gesig van ‘n foto af te teken. Die resutate het almal verras. Selfs die mees skeptiese dames het later met pragtige houtskoolsketse gespog en hulle was oortuig dat daar in kuns nie ‘n reg of verkeerd is nie. Almal KAN teken.

Nadat almal se hande weer skoon was, het Andriesha Radyn, Voorsitter, balkies uitgedeel aan die dames wat pryse ontvang het tydens die 91ste Konferensie wat onlangs op Sedgefield gehou is. Die tak het gespog met twee derde plekke, drie tweede plekke en vyf eerste plekke. Voorwaar ‘n prestasie om op trots te wees!

Die dames van Voëlvlei met hulle kunswerke.