Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Aberdeen VLV: ’n Oggend van verdieping, kreatiwiteit en gemeenskapsbetrokkenheid

Sirkel:             Middelland

Tak:                 Aberdeen

Portefeulje:    Kuns en Handvlyt

Saamroeper: Carina Esterhuizen

Beriggewer:  Karin Pienaar

Datum:           18 Maart 2026

Aberdeen VLV het op 18 Maart 2026 ’n besonder verrykende vergadering by Windmill Coffee & Deli, Aberdeen gehou.

Die voorsitter, Annelie Lategan, het die vergadering geopen met ’n hartlike verwelkoming van alle lede en gaste, waaronder die spreker van die dag, Martie Botha. Die opening is waargeneem deur Johané Botha, wat Psalm 91 voorgelees het — ’n kragtige herinnering aan vertroue, beskerming en geloof te midde van veranderende omstandighede.

Inspirasie en kultuur

’n Hoorbeeld deur Antoinette Pienaar, getiteld “Wat tel jy alles?”, het lede uitgedaag om stil te staan by die moderne neiging om alles te meet en te tel, en eerder weer bewus te raak van die seëninge en betekenisvolle oomblikke in die lewe.

Op 3 Maart is Wêreld Natuurlewedag gevier en is die fokus geplaas op die tema “Red die vuurvliegie”. Interessante feite oor vuurvliegies, hul lewensiklus en die bedreigings wat hul voortbestaan in gevaar stel, is gedeel. Lede is aangemoedig om bewus te wees van menslike impak en die beskerming van natuurlike habitatte te ondersteun.

Ter viering van Wêreld Poësiedag op 21 Maart, het Karen van Rensburg die gedig “Vroegherfs” deur NP van Wyk Louw voorgelees. Die gedig se temas van rypwording, selfondersoek en geestelike groei het mooi aangesluit by die reflektiewe aard van die vergadering.

Sirkel Middelland-konferensie en prestasies

Terugvoering is gelewer oor die VLVK Sirkel Middelland-konferensie wat op 11 Maart 2026 in Graaff-Reinet plaasgevind het. Die Aberdeen-tak was by die konferensie verteenwoordig, waar lede waardevolle insette ontvang het oor selfontdekking, kuns, kreatiwiteit en koskultuur.

Die tak is verder gelukgewens met uitstekende prestasies in die gebak- en kuns- en handvlytkompetisies. Verskeie lede het individuele pryse ontvang, en die Aberdeen-tak is bekroon met drie bekers, onder andere vir uitnemendheid in gebak, ledetal-groei en gemeenskapsbetrokkenheid—’n besondere prestasie waarop die tak met reg trots kan wees.

Projekwerk en tema vir 2026

Terugvoering is ook gegee oor die Aalwynhof-projektuin, waar daar tans gefokus word op die aanplant van ‘n grasperk en die installering van ’n besproeiingstelsel. Die projek het ten doel om ’n groen, uitnodigende buitelugruimte vir inwoners te skep wat hul lewenskwaliteit sal verbeter. Verdere ontwikkelings word vir later vanjaar beplan.

Die VLV-tema vir 2026, “Van tuin tot tafel”, is prakties uitgeleef deurdat lede plantjies en steggies uit hul eie tuine gebring en uitgeruil het — ’n tasbare voorbeeld van volhoubaarheid en samewerking.

Kreatiwiteit as hoogtepunt

Die hoogtepunt van die vergadering was die praatjie deur Martie Botha, wat gefokus het op kreatiwiteit as ’n vaardigheid wat deur oefening, waarneming en volharding ontwikkel word. Sy het praktiese tekenoefeninge aangebied en verduidelik hoe die brein vorms, simmetrie en detail interpreteer. Lede is geïnspireer om hul eie kreatiewe vermoëns verder te ontwikkel en met groter selfvertroue te benut.

Spreker Martie Botha insprireer lede om hul kreatiewe talente te ontdek en te ontwikkel

Martie Botha deel haar eie kreatiewe werke as inspirasie met die lede.

Lede het entoesiasties deel geneem aan praktiese tekenoefeninge.

Vlnr: Johané Botha, Petro Marx, Ilze Janse van Rensburg (gas), Norette van Rensburg (gas), Annalize Lategan (Gas) en Carina Esterhuizen (Saamroeper: Kuns en Handvlyt)

Lede spog met hul kreatiwiteit en talente.

Vlnr: Lize-Mari Jordaan, Lize de Jager, Heidi Lombard, Sari van der Merwe, Suzanne Lategan en Karen van Rensburg

Voorsitter Annelie Lategan se stille bewys van kreatiewe talent en aandag aan detail.

Die Aberdeen-tak se Maartvergadering was ’n bewys van die waarde van VLV as ruimte vir groei, kreatiwiteit en diens aan die gemeenskap — ’n organisasie waar lede mekaar verryk en saam bou aan ’n betekenisvolle toekoms.