Aberdeen VLV : ’n Dag van Bederf, Skoonheid en Praktiese Inspirasie
Sirkel: Middelland
Tak: Aberdeen
Portefeulje: Gesondheid
Saamroeper: Elize Steynberg
Beriggewer: Karin Pienaar
Datum: 18 Februarie 2026
Aberdeen VLV het op 18 Februarie 2026 ‘n heerlike en gesellige byeenkoms by The Coldstream Restaurant in Graaff-Reinet gehad. Die atmosfeer was warm en gesellig, en lede is met aankoms behoorlik bederf met voortreflike cappuccino’s en verruklike rooi fluweelkoek.
’n Boodskap van Hoop en Invloed
Die verrigtinge het begin met ’n betekenisvolle opening waarin lede herinner is dat elkeen van ons soos ’n kleurpotlood is — uniek geskape met ’n spesifieke doel en rol. Soos rimpelings wat uitkring wanneer ’n klippie in water val, het elke woord, daad en gesindheid ’n invloed wat verder strek as wat ons soms besef.
Psalm 121 is gelees as ’n kragtige herinnering dat ons hulp van die Here kom — Hy wat hemel en aarde gemaak het — en dat ons met vertroue en dankbaarheid kan leef, selfs te midde van uitdagings.

Annelie Lategan (Voorsitter) open die vergadering met onder Andere die voorlees van ‘n gedeelte uit “Rimpelings” deur Jacqueline Leuvennink.
Van Tuin tot Tafel: Wenke vir Vars Snyblomme
In aansluiting by die VLV se tema van die Jaar “Van tuin tot tafel” is praktiese wenke gedeel om snyblomme langer vars te hou:
- Sny blomme vroegoggend of laatmiddag.
- Gebruik ’n skerp, skoon snoeiskêr en sny teen ’n 45°-hoek.
- Verwyder oortollige blare om verrotting te voorkom.
- Plaas stingels onmiddellik in lou water.
- Voeg blomvoeding by of maak ’n tuisgemaakte mengsel van 1 liter vars water, 2 eetlepels suurlemoensap, 1 eetlepel suiker en halwe teelepel bleikmiddel.
- Vul elke tweede dag die water met ‘n kwart koppie van die voeding aan.
- Vervang water gereeld en was die vaas deeglik indien die water troebel raak.
Hierdie eenvoudige wenke help om die skoonheid van die tuin langer binnenshuis te geniet.
Gesondheid en Kosdemonstrasie
Hestie van der Mescht van The Coldstream Restaurant het praktiese kosdemonstrasies gelewer, met waardevolle insig in gesonder leefstyle. Lede het meer geleer oor die voorbereiding van kombucha en die gebruik van ’n scoby — die lewende kultuur wat fermentasie moontlik maak. Die belangrikheid van matigheid en dermgesondheid is beklemtoon, asook hoe kombucha ’n gesonder alternatief vir gaskoeldrank kan wees.

Hestie van der Mescht van The Coldstream Restaurant, deel haar waardevolle kennis oor gesonder drankies en eenvoudige tuisvoorbereide kos.

Hestie verduidelik wat ‘n scoby is en hoe om kombucha te maak.

Hestie skink vir elkeen ‘n sopie kombucha
Daarna het sy gewys hoe vars pasta met eenvoudige bestanddele (meel en eier) gemaak kan word, met variasies soos kruie en natuurlike kleurmiddels. Lede kon die proses waarneem en later die vars voorbereide pasta proe — ’n ware “van kombuis tot tafel”-ervaring.

Hestie demonstreer hoe pasta gemaak word.
Alchemy Skin & Body: Professionele Velversorging in die Karoo
Estelle het die span van Alchemy Skin & Body voorgestel en vertel van hul passie om vroue in ’n klein dorpsgemeenskap professioneel te bedien. Elke lid het ’n geskenkpakkie met ’n gelukkige nommer ontvang, en verskeie behandelings en produkte is uitgedeel. Alle VLV-lede is ook uitgenooi na ’n gratis 30-minute velkonsultasie.

Estelle van Alchemy Body & Skin vertel van die produkte en behandelings wat hulle aanbied.
Velversorging in ’n Unieke Klimaat
Mia, skoonheidsterapeut by Alchemy Skin & Body, het ’n insiggewende praatjie gelewer oor die uitdagings wat die Karoo-klimaat vir die vel inhou. Sy het die vel se natuurlike beskermingslaag vergelyk met ’n plaasheining — dit moet beskerm wat binne hoort en skadelike invloede buite hou.
Son, wind, droë lug en harde water kan lei tot:
- Droogheid en trekkerigheid
- Rooierigheid
- Pigmentasie
- Fyn lyntjies en voortydige veroudering
- Die daaglikse gebruik van ’n breëspektrum sonskerm (minimum SPF 30) is sterk beklemtoon.
- Sonskerm is nie meer ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid — selfs vir donkerder vel.
Sy het ook verduidelik dat eenvoudige, konsekwente roetines die beste resultate lewer:
- Saans dubbel-reinig
- Bevogtiger gebruik
- Daagliks sonskerm aanwend
- 2–3 keer per week afskilfer
Tuisversorging maak sowat 80% van die verskil, terwyl professionele behandelings die oorblywende 20% ondersteun.

Mia van Alchemy Skin & Body deel waardevolle inligting hoe om jou vel te versorg, veral met die uitdagende Karoo-klimaat.

Estelle, Chanté, Elize Steynberg (Saamroeper – Gesondheid) en Mia
Die oggend is afgesluit met’n besonderse middagete: charcoal spaghetti met salm en roomkaas, afgerond met vars vrugte soos granate, frambose, aarbeie, perskes, vye, sonneblomsaad, pampoenpitte en “rocket greens”. Vars uitgedrukte sap het die ete perfek voltooi.

Heerlike middagete voorgesit deur The Coldstream Restaurant.