Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Weskus

Tak: al 13 takke

Portefeulje: Konferensie

Sirkel President: Elsabé Carstens

Beriggewer: Jo-Ann Claassen

Datum van vergadering: 4 Maart 2026

Spanwerk staan sentraal by Weskus VLV se 93ste konferensie

Die Sirkel Weskus-VLV het onlangs hul 93ste konferensie met groot sukses in Redelinghuys aangebied, waar die plaaslike tak as gasvrou opgetree het. Die tema, spanwerk, het soos ’n goue draad deur die dag geloop en ’n sterk gevoel van samehorigheid geskep.

Die lokaal, smaakvol versier in sagte groentone, het ’n vars en rustige atmosfeer geskep, terwyl ’n treffende muurskildery die boodskap van spanwerk kreatief uitgebeeld het. Die program was verrykend en inspirerend, met verskeie insiggewende gasprekers. Die gaskunstenaar, Louis van Lill, het met ou geliefde sowel as eie Weskus-geïnspireerde liedjies vir vermaak gesorg.

Die verrigtinge is geopen met skriflesing en gebed deur ds. Danell Swanepoel, wat uit Spreuke 4:9–12 en 1 Korintiërs 12:14–16 die belangrikheid van elke individu se rol beklemtoon het. Die gedagte: “Saam is ons sterker – dit verg ’n gemeenskap, maar jy moet deel wees daarvan,” het die toon vir die dag gesit.

’n Hoogtepunt was die kreatiewe aanbieding deur die Redelinghuys-tak, “Ons krag lê in spanwerk”, waarin die proses van koring tot brood simbolies uitgebeeld is. Koringkorrels, elk met ’n wagwoord, is onder die gehoor versprei as ’n tasbare herinnering aan samewerking.

’n Betekenisvolle oomblik was die internasionale gebed, gelei deur mev. René Nel, gevolg deur ’n roerende kersseremonie. Die Vriendskapskers, aangesteek deur mev. Estelle du Plessis, het verbondenheid met vroue wêreldwyd gesimboliseer, terwyl die Kers van Herinnering hulde gebring het aan lede wat die afgelope jaar heengegaan het. Die ses saamroepers het ook kerse aangesteek ter erkenning van bydraes oor al die studierigtings en takke.

Verskeie gaste het hul groeteboodskappe oorgedra. Mev. Hannelie Louw, VLVK-president, het die waarde van spanwerk beklemtoon, terwyl adv. Hanlie Linde (Bergrivier Munisipaliteit) die belang van waardigheid in gemeenskappe uitgelig het. Mnr. Johan Smit (Boerevereniging van Redelinghuys) het die rol van vroue in die landbou beklemtoon, en mnr. Philip Fouché (West Cape Bearings) het die gehalte van spanwerk in plattelandse gemeenskappe geloof. Mev. Monique Vlok (SAKO) het vroue as pilare van die samelewing beskryf.

In die Opvoeding en Kultuur-afdeling het mev. Mariette Opperman die Xhosa-kultuur belig, insluitend die uitspraak van sekere klanke en woorde, en die werk van die digter Ernest Mnyaka. In Openbare Sake het mev. Nita Brand belangrike wetgewing rakende plaasuitsettings verduidelik en praktiese raad aan grondeienaars gebied.

Dr. Jannie le Roux het as gasspreker opgetree en gefokus op spanwerk, die rol van oksitosien en die belangrikheid van ’n gedeelde doel. Hy het beklemtoon dat ego’s opsy geskuif moet word ten gunste van ’n ONS-denke, en afgesluit met die woorde: “Spanwerk laat die droom werk!”

In die Kuns en Handvlyt-afdeling het mev. Sandra Hanekom die konsep “Speel met erns” verken en praktiese kreatiewe tegnieke gedeel.

Altesaam 167 kompetisieartikels is beoordeel, wat getuig van die lede se kreatiwiteit, vakmanskap en toewyding. Pryse is oorhandig deur mev. Estelle du Plessis, terwyl mev. Elsabe Carstens sertifikate van verdienstelikheid aan Jackie Coetzee en Marietjie Viljoen oorhandig het, asook die 10/10-trofee aan die Moorreesburg-tak.

Die Sirkel het hul opregte waardering uitgespreek teenoor die Redelinghuys-tak vir hul deeglike beplanning, voortreflike organisasie en hartlike gasvryheid. ’n Spesiale woord van dank is ook gerig aan die dagbestuur vir hul onbaatsugtige diens en ondersteuning agter die skerms.

Die dag is afgesluit deur mev. Elsabe Carstens met ’n inspirerende boodskap: “Jy is uniek en kosbaar.” Lede het die verrigtinge op ’n hartlike noot afgesluit met ’n vriendskapskring en sang, gevolg deur die Weskus-kwêla-liedjie.

Die 93ste Sirkel Weskus-VLV-konferensie in Redelinghuys was ’n viering van spanwerk waar geloof, talent en samewerking saamgesnoer is om ’n dag van betekenis, verbondenheid en blywende herinneringe te skep.

Die konferensiesaal is stylvol versier met aandag aan fyn afwerking.

Die treffende muurskildery verbeeld spanwerk en ‘n gevoel van samehorigheid.

Advokaat Hanlie Linde demonstreer die “Power Pose” aan die konferensie-gangers. (Bo) Openbare sake saamroeper Nicoline Brown met spreker Nita Brand; Ds. Danell Swanepoel; Opvoeding en Kultuur saamroeper Louna Niehaus saam met spreker Mariette Operman. (middle). Sirkel Weskus President Elsabé Carstens en Sekretaris Marie Grobbelaar saam met gasspreker Dr Jannie le Roux (onder).

Graafwater; Piketberg; Langebaan; Redelinghuys afgevaardigdes en dagbesoekers.

Moorreesburg; Leipoldtville; Clanwilliam; Porterville afgevaardigdes en besoekers.

St. Helenabaai, Vredenburh, Velddrif afgevaardigdes en dagbesoekers.

Die kompetisie wenners word erken vir hulle uitsonderlike prestasies. Porterville ontvang die trofee vir Meeste punte in totaal (bo links). Piketberg ontvang die trofee vir meeste punte – Kunste en Handvlyt (bo regs). Langebaan ontang die trofee vir meeste punte – Huisvlyt (middle links). Porterville ontvang die trofee vir meeste punte -Handwerk (middle regs). Moorreesburg ontvang die spesiale trofee vir 10 uit 10 tak (onder).

Sirkel Weskus bestuur.

Die gasvrou-tak Redelinghuys word gevier vir hulle uitstaande werk en ywer.

Die gaste word bederf met vars groente-pakkies om huis toe te neem.