Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

SPANWERK IN DIE KAROO

KONFERENSIE 2026

SIRKEL: Sirkel Middelland

SIRKELPRESIDENT: Mev. Lea van der Vyver (Mev. Hannelie Low)

GASVROU-TAK: Graaff-Reinet en Jansenville Takke

GASVROU-TAK VOORSITTER: Mev. Ria Krause en Mev. Antoinette Botha

VENUE: AGS Kairos, Graaff-Reinet

DATUM: 11 Maart 2026

Dit bly altyd ‘n belewenis om Graaff-Reinet binne te ry en verwelkom te word deur die pragtige Moederkerk. Op Woensdag 11 Maart 2026 het baie lede van Sirkel Middelland die voorreg gehad om die skoonheid en ryke kultuur erfenis van hierdie pragtige dorpie te beleef.

Lede is hartlik verwelkom by AGS Kairos Gemeente en bederf met heerlike ontbythappies.

Die Konferensie is vir oulaas gekonstitueer deur Mev. Hannelie Low. Cecile Jonker lees voor uit 1 Pred. 4: 2 en bevestig die belangrikheid van spanwerk, want God seën eenheid. Sy beklemtoon ook die waarde van verskeidenheid en individualiteit.

Diane Bertram, ‘n maatskaplike werker met haar eie privaat praktyk, lewer ‘n insiggewende praatjie oor die vrou in die spieël. Op 20 was die spieël ons beoordelaar, op 40 is dit ons getuie. Voor 40 is ons groot uitdaging om almal tevrede te stel en te versorg, wat ons ook regkry. In die proses het ons egter ons eie behoeftes agtergelaat. Na 40 word ons gekonfronteer met soveel vergelykings a.g.v. sosiale media. Sy moedig ons aan om weg te breek van vergelykings, onsself en elke nuwe seisoen te aanvaar en weer begin om voluit te leef.

Daarna is Hanna en Dirk van Kokkedoor-faam aan die woord. Die gewilde ma-en-seun vertel van hul ervaringe met die opneem van Kokkedoor. Hulle is ‘n formidabele span en is vol wenke oor hoe om doodgewone disse in iets besonders te omskep. Die gemak waarmee hulle met mekaar en die gehoor kommunikeer maak van hulle ‘n groot gunsteling! Na afloop van die demonstrasie word die lede genooi om te proe aan die geregte wat hulle voorberei het.

Nadat almal ‘n heerlike middagete geniet het is dit Alicia Dirkse van Schalkwyk, Sirkel Middelland se plaaslike kunstenaar van die jaar, se beurt om haar verhaal met ons te deel. Alicia is ‘n kunstenaar wat in 2020 gekonfronteer word met haar eie mortaliteit toe sy skielik baie siek geword het en gediagnoseer is met sekondêre infeksie deur haar hele liggaam. Vir die volgende paar jare stry sy ‘n baie moeilike stryd met haar gesondheid en is verskeie kere geopereer. Haar kuns en spesifiek haar lynkuns help haar om weer haarself te vind en lei ook daartoe dat sy haar eie besigheid, Lily Lines begin. Sy bied ook ‘n viering van vroue van die Karoo (Her Karoo) op hul plaas Elandsheuwel aan. Sy moedig vroue aan om hulself te omring deur Aaron’s (iemand wat mense se arms hoog hou) en ook vir ander ‘n Aaron te wees. Ons het mekaar nodig. Leef jou storie, wees jou storie, jou storie is joune vir ‘n rede.

Tydens die prysuitdeling is dit baie duidelik dat die lede van Sirkel Middelland baie talentvol is! Daar was baie inskrywings van hoogstaande gehalte, maar aan die einde van die dag het Rocklands baie verdienstelik weggestap met die trofee as algehele wenner.

Dit was met ‘n swaar hart, maar ook ‘n groot trots wat ons vir Mev. Hannelie Low moes groet as Sirkelpresident van Sirkel Middelland. Baie dankie vir sewe jaar se liefde, ondersteuning en harde werk in ons Sirkel. Ons wens haar voorspoed en seën toe vir al die nuwe uitdagings, ons glo dat VLVK van krag tot krag sal gaan onder haar bekwame leiding.

Sirkelbestuur moes vanjaar afskeid neem van Marlene Basson en Sanmarie Vermaak. Rina Wait, Jenny Watkins en Elmarie Terblanche word verwelkom as nuwe lede op Sirkelbestuur. Mev. Lea van der Vyver sal die leisels oorneem as nuwe Sirkelpresident van Sirkel Middelland. Welda Lategan is verkies tot Vise-President en Joey Fourie as Sirkelsekretaris.

Baie dankie en baie geluk aan Graaff-Reinet en Jansenville takke met die aanbied van ‘n baie suksesvolle Konferensie. Daar is beslis krag in saamwerk!

Algemeen

Diane Bertram saam met Mevv. Hannelie Low,Lea van der Vyver en Anlouise O’Connell

Hanna en Dirk van Kokkedoor

Alicia Dirkse van Schalkwyk en Mev. Welda Lategan

Mev. Lea van der Vyver, nuwe Sirkelpresident en Mev. Hannelie Low, vorige Sirkelpresident

Vorige en huidige Sirkelpresidente – Mev. Annette Deyzel, Mev. Lea van der Vyver, Mev. Lynette Martin en Mev. Hannelie Low

Vorige Sirkelbestuur: Mevv. Joey Fourie, Hannelie Low, Anlouise O’Connell, Marlene Basson, Moniques Buchner, Sanmarie Vermaak, Welda Lategan, Lea van der Vyver, Marlene Erasmus, Henda Kleinhans

Nuwe Sirkelbestuur: Mevv. Joey Fourie, Rina Wait, Jenny Watkins, Elmarie Terblanche, Anlouise O’Connell, Henda Kleinhans, Lea van der Vyver, Welda Lategan, Moniques Buchner

    Aberdeen en Alexandria Takke

    Carpe Diem en Acqua Takke

    Mev. Sue Henning van Rocklands Tak ontvang die trofee as algehele wenner van Mev. Hannelie Low