Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Klein-Brakrivier

Sirkel SWD

Portefeulje: Gesondheid

28 Oktober 2025

Beriggewer Lydie Terblanche

Bydraes Retha Nagel, Gerda Sieberts, Dawn Greyling, Marian Hooman & Ina Louw

Fotograwe Ria van Staden, Murna Lotriet, Elsabe Richards & Susánne Le Roux

Vir indrukke oor ‘n baie besonderse hartsdag, het die beriggewer ‘n paar lede ‘vasgepen’:

Ina Louw (ons nuutste lid & toekomstige media ‘vennoot’)

By Oktober se byeenkoms was Tania de Kok die gasspreker. Sy is ‘n lewensafrigter, ma van drie seuns en gelouter deur die lewe. Buiten dat sy borrel van energie en haar armbande klingel, het sy ernstige pitkos met die dames gedeel. Haar tema was “die innerlike self”. Sy het ter aanvang verduidelik wat ‘n lewensafrigter is en toe oorgegaan om die gehoor te wys op die nodigheid daarvan om aandag aan hulle innerlike self te gee. Die engel met polsende hartklop was haar onderwyshulpmiddel (al die oud-onderwyseresse glimlag nou) en haar komiese elemente het die gewigtige onderwerp verteerbaar gemaak.

Vroue is bekend daarvoor dat hulle altyd tyd maak vir almal rondom hulle en in die proses nie tred hou met wie hulle werklik is en hoe hulle dalk oor tyd gegroei het. Haar praktiese raad is om soggens vir jouself in die spieël te glimlag en te sê: “Jy is genoeg”, want daarmee herinner ons onsself aan ons waarde. ‘n Mens behoort gereeld tyd maak om met jouself in gesprek te tree, maar veral ook om na jou innerlike stemme te luister.

Ter afsluiting het sy ons vanuit ‘n Christelike perspektief herinner dat ons almal geliefd wil wees, waardevol wil voel en wil “behoort”. Dit was ‘n heerlike insiggewende oggend by die VLV waaraan ons so heerlik behoort.

Marian Hooman (gereelde gas & bekende akteur)

Tania het ‘n lekker entoesiastiese aanslag met goeie projeksie wat haar gehoor onwillekeurig betrek. Die inhoud is relevant vir gehore wat dit veral, nog nie gehoor het nie. Gaste dit baie geniet. Sy was pragtig.

Dawn Greyling (Leefstyl saamroeper & ywerige woordkuns deelnemer)

Kragtige boodskap deur Tania de Kock oor self-liefde en self-aanvaarding.

Etikettering is ons vrouens se grootste kruis. Ons plaas onsself in te veel boksies.

Ma, ouma, vrou, suster, vriendin, werker/werkgewer. Elkeen vat sy stukkie en ons gee totdat niks vir onsself oor het nie. Vat op gereelde basis tyd vir jouself sonder skuldgevoelens.

Vat dus die dag (en jouself) vas, lig jou kop op, glimlag in die spieël en sê vir jouself:

“Meisie, jy het dit!”

Gerda Sieberts (getroue lid [met pienk hare] & toekomstige woordkuns deelnemer)

Life Couch.

Dit is vir onse ouer generasie ‘n vreemde woord.

Die woord sê egter alles. Hoeveel keer kyk ons na onsself, en dink ek is nie goed genoeg nie.

Die Skepper het ons almal geskape en dit was goed.

Ons weet nie altyd wie ons is nie. Is ek en jy vrou, ma, versorger, bemoediger, (sielkundige), suster en vriendin. Dit tap jou kragte jy moet jou plek volstaan en presteer. Daarom begin jou oggend en glimlag vir jouself in die spieël. Want dit is jy elke plooi, elke vlek en los vel is en jy is spesiaal. Hou van jouself want daar is slegs een soos jy. Daar is mense rondom jou wat ook deur moeilike tye is. Jy kom daardeur en dan kom besef dit is genade.

Die spreker het groot indruk op my gemaak en ek glo op almal wat daar was ook.

So kyk môre in die spieël en weet dit gaan jou beste dag ooit wees.

Retha Nagel (Kunste- & Handvlyt-saamroeper, en gepubliseerde digter)

Dis weer ons maandelikse byeenkoms o.l.v. Lucia du Plessis, Gesondheid-saamroeper. En wat ‘n lieflike pienk ontvangs!!! Prentjies en kiekies gee net ‘n uitbeelding, maar die ervaring en samesyn was onvergeetlik. Die gasspreker, Tania de Kock, is ‘n gekwalifiseerde lewensafrigter wat ons kom toespreek het oor ons innerlike self-wees. Elkeen van ons het ‘n storie om te deel en niemand is perfek in ons doen en late nie. Die ganse lewe is nie perfek nie, maar ons is elkeen uniek en goed genoeg. Ons leef in ‘n gejaagde wêreld en word met tye so oorlaai met bagasie, verantwoordelikhede, posisies wat ons moet beklee, ander mense wat ons tevrede moet hou in die proses ensovoorts en verloor ons iewers langs die lewensweg ons innerlike menswees, die eie ekself. Dalk moet ons net vir ‘n oomblik gaan stilstaan, weer in die spieël kyk en vergeet wat ander van jou dink of vertel (skinder selfs). Ons is so geneig om ons dood te dra aan al die hoedjies wat ons moet opsit elke dag, die plakkers (stickers) wat ander op jou kom vasspeld. Wat regtig saak maak, is die feit dat EK moet besef dat EK uniek is, dat EK geliefd is, waardig is en behoort. Never mind andere se sieninge, want God het MY gemaak en vir Hom is EK geliefd, voor Hom is EK waardig genoeg en behoort EK aan Hom in en deur die genade van Jesus Christus. Ons mag maar opstaan in die oggend en vir ‘n slag vir onsself in die spieël glimlag, want ek en jy is Koningskinders. Wat ‘n wonderlike voorreg was dit nie om die “lesing” weer vanoggend te kon hoor nie. Want die lewe loop met ons elkeen ‘n pad oor berge en dale en kwyn ons inner self weg.

Dankie Tania vir nuwe hoop.

[Fotoversameling saamgestel deur die beriggewer, geskrewe bydraes is effe geredigeer, Lydie Terblanche]