Sirkel: SWD
Tak: Oudtshoorn
Portefeulje: Landbou en Tuinbou
Saamroeper: Mariëtte Basson
Beriggewer: Petro Doman
Collage: Isabella Jansen vN
Datum van vergadering: 29 April 2025

Oudtshoorn-tak besoek die Celebration-granaatplaas op 29 April 2025 as deel van hul Landbou & Tuinbou-portefeulje. Dié plaas is tussen Oudtshoorn en Calitzdorp aan die voet van die Gamka- en Swartberg geleë.
Nadat Gerhard Meyer die familieplaas (Langverwacht) erf, herdoop hy dit na Celebratio, ’n Latynse woord vir “huldiging” of “viering” om sy voorgeslagte te vereer en ’n naam te gee vir sy visie om ’n plek van goeie tye en herinneringe daar te skep.
Dit is ‘n perfekte klimaat vir ’n granaatboerdery en Gerhard se navorsing neem hom tot digby die woestyn in die suide van Israel waar die mikroklimaat soortgelyk aan dié in die Klein-Karoo is. Verder gee die raad van ’n deurwinterde boer, “Seun, solank as wat jy Bybelse vrugte plant, kan jy nie ’n fout maak nie”, die deurslag en Gerhard plant 10 ha van die Israeliese kultivar Wonderful op Celebratio aan. Na ’n uitstekende eerste oes volg hy op met nog 20 ha in 2010, 2 ha in 2014 en ’n verdere 15 ha in 2015. Granate van uitvoergehalte, die soetste en rooiste in die land, word hier geproduseer.
Celebratio, met sy topgehalte ganate, word ’n baken in die Klein-Karoo, en bied ook ’n venue vir spesiale geleenthede, verblyfgeriewe vir ’n plaaswegbreek en handvervaardigde granaatsap. Toekomstige uitbreiding sluit ’n koffiekroeg waar ’n familieresep granaatkaaskoek bedien sal word in.
Die plaas is ook die tuiste van Karoo Pak, ’n internasionaal geakkrediteerde pakhuis wat spesialiseer in die verpakking van die Wonderful-granate vir die uitvoermark. ’n Paar plase in die Klein-Karoo se granate word onder die handelsmerk Karoo Wonderful-Pomegranates verpak en is oral beskikbaar.
’n Verdere toevoeging deur Karoo Pak, is die natuurlike, nuwe skoonheidsreeks, Karoo by Amy met granaatpitolie as aktiewe bestanddeel. ’n Granaatport van die bekroonde De Krans wynkelder is ook nou beskikbaar.
Om die besondere besoek af te sluit het die taklede van die granaatsap en port geproe, gemymer oor die uitwerking van die granaatpitolie vir hulle “jeugdige’ velle en sommer ook hulle ACWW-stap gedoen.
Die oulike donkies in die klipkraal kry groot aftrek en almal groet ’n wyle later met ’n lied in die hart en huppel in hul stap tot ’n volgende uitstappie.