Sirkel: Paarl
Tak: Suider Paarl
Portefeulje: Landbou en Tuinbou
Saamroeper: Wilma Kock
Beriggewer: Gonny du Plessis
Datum: 21 Mei 2025

HIEP HIEP HOERA, ‘N HELE 70 JAAR VIR SUIDER PAARLTAK VANJAAR!
In Mei 1955 word die Suider Paarltak gestig deur ‘n paar formidabele dames in die suidekant van Paarl. Deur die jare het die tak onder bekwame voorsitters, goeie bestuurslede en flukse lede gegroei tot ‘n getal van 39.
Tydens die Landbou en Tuinbou vergadering op 21 Mei 2025 is daar dan ook behoorlik verjaardag gevier.
Die eerste deel van die oggend was aan Landbou en Tuinbou bestee en Mnr Andre du Plessis, bemarker van Pro Tek in Wellington, het die dames toegespreek oor “aandag aan die tuine in die maand Mei”. Alles wat nou nodig is voor die winter kom.
Hy het baie interessant gepraat oor die nodige voeding vir plante en grasperke, asook die werking van gifstowwe vir allerhande peste en plae wat kan kop uitsteek. Ook hoe grond voorberei moet word vir die plant en saai tyd. Die dames kon vrae vra en aan die einde is die lede bederf met geskenkpakkies.
Toe gedurende die 2de deel van die oggend is die tak se verjaardag gevier deur die aangepaste tafeldoek oop te maak. Die tafeldoek (wat by elke vergadering gebruik word vir die voorsitter se tafel) is 40 jaar gelede ontwerp deur mev Hanlie Snyman en sy het die destydse lede gehelp om dit te borduur. Ook is die name van al die taklede van daardie jaar opgeborduur.
Nou het Mev Karen Barnard, lid van Suider Paarl-tak en president van Sirkel Paarl, al die name opgeborduur van die huidige taklede soos dit in Januarie 2025 was. Dit is voorwaar ‘n erfstuk. Ook was ‘n aantal dames, wie se name destyds opgeborduur was, maar wat nie meer lede is, uitgenooi na die verjaardag.
Daarna is die nuwe optrek-vaandel aan die tak bekendgestel en daarop is beelde van die suide kant van Paarl. Dit vervang die ou vaandel wat nog deur die bekende Paarlse kunstenaar, mnr David Botha, ontwerp is en deur destydse taklede geborduur is. Die vaandel word in veilige bewaring gehou.
Vir die viering van die Afrikaanse Taal is ‘n grappige tweespraak opgevoer deur mev Marie Hammann en mev Nonnie Malan wat deur Langenhoven geskryf was.
Daarna is van die lede gevra om kindertydse Afrikaanse gediggies voor te dra en om af te sluit, het almal die bekende “Hansie Slim” saamgesing.
Toe die vergadering verdaag was almal uitgenooi na ‘n feestelike koektafel.

Mnr Andre Du Plessis, bemarker van Pro Tek.

Karen Barnard bedank mnr Du Plessis

Toneel van Marie Hammann en Nonnie Malan

Lede wat kentekens ontvang het, vlnr: Marieta Lourens(nuwe lid), Alida Valentine( nuwe lid), Ria Lieebenberg (50jaar), Ely Brown (25jaar), Jenny Ruthven (5jaar), Flippie Dreyer (nuwe lid), Annie D van Schalkwyk (25jaar), Reinette O’Niel (nuwe lid), Sonja du Toit (nuwe lid) en Miemsie Rautenbach (nuwe lid)

Aangepaste tafeldoek

Vlnr: Gonny du Plessis, voorsitter, Anita Basson, lid, en oudlede, Beatrix Nolte, Marion Le Roux, Mariaan Snoek, Hanlie Snyman, Marthie Swiegers, Karen Barnard, huidige Sirkel president en oud lid Mariaan Theron.

Nuwe optrek vaandel.

Vlnr: Wilma Kock, Anita Basson, Berta Spangenberg en Gonny du Plessis by die verjaardagkoek.