Sirkel: Weskus
Tak: St Helenabaai
Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Wilna Marx
Fotograaf: Elmarie Visser
Datum: 13 Mei 2025

Reg vir die “Bejaardedag”
Tegnologie, dierbare tegnologie……… Die dame wat die verantwoordelikheid opgelê is om die musiekinsetsels te speel, wat alles vooraf getoets is, en wat gewerk het, kry geen klank uit die luidspreker nie…. Skielik, seker omdat sy op die vlug wou slaan, dreun “Day-o, day-ay-o, Daylight come and I wanna go home” deur die saal. Nie wat sy wou speel nie, maar darem ‘n begin. Sy probeer weer… en
“Dit het gebeur op die trein na Pretoria
Die weer was bitterlik koud
In ‘n hoekie sit ‘n meisie
Sy lyk vir my skaam en benoud…”
So begin ons oggend met die 1956 liedjie van die Briels. Gesigte blom met glimlagte, hier en daar klink ‘n giggel op, selfs ‘n paar stemme wat heerlik saamsing.
Estha Ueckermann, een van ons lede, maar ook ‘n gekwalifiseerde sielkundige met haar eie praktyk hier in ons dorpie, gesels vanoggend met die dames oor bejaardheid. Verhouding met jou lewensmaat is haar eerste punt. Kommunikasie is so belangrik maar soms droog dit heeltemal op by paartjies wat lank getroud is. Die geslagte van die sestiger en sewentiger jare se mans is geleer om nie emosie te wys nie. Dan boonop sluip “stilstuipe” die huis binne en droog gesprekke heeltemal op. Dis so hartseer dat mense wat 30, 40 en 50 jaar getroud is, niks het om vir mekaar te sê nie. Wat verblydend is, is dat baie ouer getroude paartjies aanklop vir terapie. Haar raad, werk aan kommunikasie tussen jou en jou lewensmaat, voordat dit te laat is.
“Jy weet dat ek nie sonder jou kan bestaan nie
Jy weet dat jy ook nie alleen kan bestaan nie
dit weet jy goed
Liefling……..”
Gé se Liefling bring Estha by ‘n sensitiewe saak nl. seksualiteit, maar met haar gemaklike, komiese styl, laat skater sy almal van die lag, en tog leer ons ook. “Hoe lyk jou slaapkamer?, Hoe lyk jou slaapklere?” Twee vrae wat almal aan die dink sit. Om oud te wees beteken nie om koud te wees nie. Selfs PEP het mooi, vroulike nagklere!
Estha staan ‘n rukkie stil by die rouproses. Nie net wanneer ‘n geliefde maat sterf nie, maar ook wanneer julle na aftrede verhuis en jy wil bly waar jy is. Indien jou lewensmaat sterf, moenie dadelik oppak en trek nie. Bly rukkie langer en rou eers oor jou verlies, is haar raad. Verhuising het ook baie eina’s, nl. nuwe vriende, dokter, haarkapper ens. Vergewe jou maat dat jy alles moes agter laat. Daar is genesing in vergifnis.
Fisiese aspekte kom nou in die kollig. Ondersteun vriendinne wat ook versorgers van hulle lewensmaats is. Lewensmaats met demensie, depressie, beroertes en hartaanvalle verg baie aandag en begrip. Indien jy ‘n versorger word van ‘n siek lewensmaat, kom meer te wete oor die siekte. Hoe meer kennis jy het, hoe meer begrip sal jy hê.
Elvis se “Jailhouse Rock” dreun deur die saal en lei Estha se TOP 10 vir oudword in:
1. Eet reënboog kosse
2. Gebruik aanvullings wat vir jou werk
3. Slaap 6 – 8 ure per nag
4. Intimiteit is belangrik
5. Daaglikse pret en humor
6. Sosiale ondersteuning, woon lekker dinge by, soos bv. ‘n VLV vergadering!
7. “Mindfulness” – Wees bewus van jou innerlike gevoelens en ook wat om jou aangaan, veral positiewe dinge
8. Wees ‘n lewenslange leerder
9. Gebruik jou talente om ‘n bydrae tot die samelewing te maak
10. ‘n Positiewe houding
Ek wens elke VLV dame in Kaapland kon na Estha luister. Haar wyse woorde raak diep, sy praat reguit met deernis en kleur haar sinne met lekker lag. En ek is bly Estha is hier by ons in St Helenabaai.

Die dames luister na Estha

Elna Louw bedank Estha vir haar besonderse boodskap
Vir die VLVK projek van die jaar “Bejaardes maak saak” oorhandig ons vandag aan ‘n rolstoel en “commode” aan “Call to Serve” om te gebruik vir die oumensies wat hulle bedien.
Tannie Mona wat ‘n sopkombuis het waar daar Dinsdae en Donderdae sop aan grootmense en kinders uitgedeel word, is ook vandag hier by ons.

Maggie Evever, ons takvoorsitter oorhandig ons bydra aan Irene Barends van Call to Serve.

Mariette staan by tannie Mona, waar sy ons van haar gemeenskapswerk vertel. Mariette Ackerman bedank haar en haar helpers vir die werk wat hulle in die gemeenskap verrig.
Die volgende dames ontvang vandag hulle jaarkentekens van Maggie, ons takvoorsitter:
15 Jaar: Maryna Psota
20 Jaar: Miems Bodenstein, Erena Hoffman en Elna Louw
25 Jaar: Annabel Gousard
30 Jaar: Annaline de Beer
40 Jaar: Hillet Linde
50 Jaar: Maretha Coetzee en Koekie van der Merwe

Agter van L na R: Maggie Enever, Miems Bodenstein, Elna Louw, Annaline de Beer, Hillet Linde, Erena Hoffmann en Maretha Coetzee, en voor sit Annabel Gousard.
Soos gewoonlik word ons vergadering afgesluit met heerlike eetgoed en drinkgoed. Pitas, en vulsels met heerlike koffie en tee voordat ons vertrek.

Vandag was ‘n mooi dag hier by ons, elkeen van ons voel “Older, Wiser en Sexier” toe ons by die saal se deure uitstap!