Sirkel: SWD
Tak: Hartenbos
Studierigting: Potpouri, Kunste en Handvlyt, Projek: “Bejaardes maak saak”
Saamroeper: Annemie Erasmus, Bestuur van die tak
Beriggewer: Wilma van Staden
Datum van geleentheid: 25 Maart 2025
LOODGLAS BETOWER VLV HARTENBOS BYEENKOMS
Op die heerlike hersdag van 25 Maart 2025 het Charlotte Jonker die lede van VLV Hartenbos en die besoekers, regop laat sit en met verwondering laat kyk en luister na haar kennis en vaardighede met die maak van loodglas items en ook ander glasverwante kunsvorms.
Charlotte doen 25 jaar lank al loodglaswerk. Sy vertel oor hoe haar passie en liefde vir glas haar deur moeilike tye in haar lewe gehelp het. Sy deel ook met haar gehoor oor hoe sy by hierdie stokpertjie betrokke geraak het. Sy gaan steeds voort daarmee noudat sy in Mosselbaai woon.
‘n BIETJIE GESKIEDENIS
Loodglaskuns kom al van baie eeue gelede, hoofsaaklik van die Romeinse Ryk era en vanuit Egipte. Glas het sand en vuur nodig om gevorm te word. Metaalsoute en oksidante word soms gebruik om kleur te gee.
In die sewende eeu is die eerste opgetekende geskrifte gevind, met Biskop Bennedict wat ‘n klooster laat oprig het met glas vensters. In die tiende eeu is aantekeninge van Bybelse en Christelike sketse in kerke in Europa, opgeteken. In die Middeleeuse era is daar op glas geverf en dit was dowwer van kleur. Dit het nie baie lig deurgelaat nie.
Gedurende die Gotiese era (“Gothic Age”) was die vensters baie groter en meer deurskynend. Dit was ‘n periode van groei in die kuns met meer en groter venters oor die hele Europa.

Internetfoto van ‘n kerkvenster uit die Gotiese era.
Die Rennaissance-era is gekenmerk deur glas wat baie dik geverf is. Dit het ook al hoe meer in gewone huise voorgekom. In die tydperk het baie van die glorie van loodglasvensters verlore geraak agv baie geboue wat afgebreek is.
Twee Engelse manne in Amerika het die Gotiese styl weer laat herleef en dit het bekend geraak as die Amerikaanse styl. Twee ander Amerikaners het ook ‘n groot deurbraak gemaak. Hulle het deurskynende glas gebruik en gemeng met kleur en dit gevorm met verskillende teksture. Hulle was ook verantwoordelik vir die gebruik van foeilie wat gelei het tot die maak van lampskerms. Hulle was baie suksesvol daarmee en loodglas se gewildheid het geweldig toegeneem.
Na die twee baanbrekers se afsterwe en die eerste wêreldoorlog en die tweede wêreldoorlog was daar ‘n geweldige afname in die populariteit van loodglas. Na die tweede wêreldoorlog begin die abstrakte en ekspressionistiese beweging en dit het ook ‘n invloed op die glaskuns gehad. Alternatiewe metodes, individuele kunstenaars en ‘n groei in stokperdjie-kunstenaars het gelei tot ‘n groeiende bedryf. Dit het gelei tot die benaming “die Goue Era van Glas”.

Verskillende soorte glas
Charlotte vertoon verskillende soort glas met verskillende growwe teksture en verskeie kleure in een blad saamgestel. Sommiges is al klaar ‘n kunswerk voordat dit nog in iets verwerk is. Sy demonstreer hoe om ‘n stuk glas vas te hou sonder dat dit jou hande sny. Sy hou altyd ‘n sakkie vol pleister in haar werkskamer, want snye gebeur maklik en is normaal.

Stukkies glas met foelie. Gereed om hulle lood op te kry.
Foelie wat hoofsaaklik vir lampe en ander kleiner items gebruik word, word bespreek. Daar is verskillende breedtes foelie vir verkillende diktes glas. Dit word gebruik om klein stukkies glas aanmekaar te kry met versterkende lood. Die H-loodbane word by groter projekte gebruik. Die glas pas in die slootjies van die H lood en word so aanmekaar gehou. Daar is ook verskillende dieptes en breedtes van die H bane en andere wat toe is aan een kant met ‘n ronding aan die anderkant.
Ander toerusting wat benodig word is onder andere patroonpapier, skêr, glassnyer, verskeie soort tange, ‘n soldeerbout, ‘n diamant slypwiel, patina, koper of swart, ‘n hammertjie en putty. Die gebruik van perdehoefspykers is ‘n meganisme om jou werk op jou werksplank in posissie te hou.

Verskillende stukke toerusting: Bo: Verskillende soort tange. Middel: Soldeerbout. Onder: Diamant slypwiel.
Sy het demonstreer hoe die messie wat glas sny, gebruik word en dan die spesiale tang wat die glas moet losmaak van die res, sonder dat die glas breek. Haar demonstrasie van hoe die glas in die H van die loodbaan pas, lyk of mens baie geduld en vaardigheid nodig het. Dis nogal ‘n lank lys van toerusting en materiaal wat benodig word en dit val nie lig op die beursie nie.

Artikels wat Charlotte gemaak het: Links bo: Blou lampskerm. Regs bo: Deur of vensterpaneel. Links onder: Skoenlapper. Regs onder: Skoenlapper lampskerm. Dis die eerste artikel wat Charlotte in loodglas gemaak het.
Sy het met verloop die tyd gemotiveerd geraak in ander glaskunsvorme soos gebakte glas. Hier is geen lood betrokkie nie, maar wel ‘n bakoond. Sy gebruik glas, maak ‘n prentjie met stukkies glas, bv ‘n deurskyndende glas agtergrond met groen en bruin vir ‘n boom, wat dan in die bakoond gebak word. Alle die glas smelt en as dit afkoel, het dit aanmekaar gevloei en vorm ‘n prentjie. Dit kan n bord, asbakkie, hangertjies, enige iets soortgelyks maak.
‘n Ander uitsonderlike aspek wat geensins misgekyk kon word nie, is die absolute passie wat sy vir glaskuns het. Sy het verskeie van die artikels wat uitgestal het bespreek, veral die lampie wat sy eerste gemaak het.

Vlnr Charlotte Jonker en Annemie Erasmus met artikels wat Charlotte gemaak het. Op die tafel voor hulle kan nog vele meer gesien word.
Na afloop van haar praatjie het die VLV-tak aan Huis Loural, ‘n versorgingsoord vir Demensie en Alzheimer pasiënte in Hartenbos, Sr Annette Smit, ‘n skenking gemaak van artikels wat hulle benodig in die daaglike bedryf van die oord en sy inwoners, bv bordspeletjies, plekmatjies en groot borslappe.

Links is Suster Annette Smit van Loural saam met Wilma van Staden, sekrataris van die tak.
Die Zhara-projek wat klein gebreide of gehekelde skapies aan alle kinders wat kankerbehandeling ontvang, wil skenk, gaan ook van die Hartenbos-tak ‘n aantal skapie ontvang.

Wilma van Staden met die skapies wat vir die Zhara Klein skapie projek gestuur word.

Die span verantwoordelik vir die verrigtinge van die oggend met die gasspreker. Vlnr agter Marietjie Albrecht, Babette Snyman, Rolien Smit, Voorsitter, Vlnr voor Alma Potgieter, Charlotte Jonker, gasspreker, Annemie Erasmus, saamroeper vir Kuns en Handvlyt van die Hartenbos-tak.