Sirkel: Middelland
Konferensie
Beriggewer: Lea van der Vyver
Datum: 15 Maart 2023
Pragtige Sirkel Middelland Konferensie Omhels Verandering
VLV Aberdeen Tak het op 15 Maart 2023 Sirkel Middelland se Konferensie in die NG Kerksaal op dié dorp aangebied. ‘n Groen laning bome lei Konferensiegangers na die Feestafel, keurig gedek met vars brode, smere en vrugte. VLVK tema vir 2023, “Die Uitdaging van Verandering”, is die jaar só relevant in Suid-Afrika en sekere veranderinge is ook gemaak om Konferensie suksesvol in Aberdeen aan te bied. Die program is opgestel om reistyd in ag te neem en geregte is beplan om die hitte van die dag, sowel as beurtkrag, in ag te neem. As deel van hul geskenkpak, ontvang Konferensiegangers elk ‘n LED Solar lantern.

Welkom bord by ingang

Groen laning bome lei na Feestafel

Keurig gedekte Feestafel
Aangesien dit ook Vrouemaand is, open Ingrid Boshoff uit Spreuke 30 oor die knap vrou. Dié vrou is nie net mooi van buite nie, maar ook van binne. Sy is kreatief, entosiasties en skeppend – sy word deur God geïnspireer en God se Gees maak haar innerlik pragtig. God het ons elkeen lief.
Daarna volg die openingsformaliteite en verslae van die Sekretaris, Tesourier en Bemarker. As enigste nominasie, word Hannelie Low onbestrede verkies tot Sirkelpresident vir nog ‘n termyn.
Ingrid Boshoff, met ‘n M-graad in Pastorale Berading, is dan ook die eerste spreker en haar tema is Geestesweerbaarheid. Ons is vandag in ‘n stryd vir lewe en dood gewikkel. Die jeug is die toekoms, maar wie is verantwoordelik vir hulle geestesweerbaarheid? Die kerk moet ‘n rol speel om die evangelie aan mense te verkondig en hulle geestelik toe te rus. Ons as vroue moet betrokke raak by die kerk in ons dorpe en gemeenskappe om sodoende te help. Die staat het ‘n plig teenoor die jeug op kulturele en godsdienstige wyse, asook vir onderwys en gesondheid, maar laat hulle in die steek. Geestesweerbaarheid moet dus by jou huis gedoen word – dit is ‘n Godgegewe taak om jou kinders groot te maak en op te voed tot Sy eer. Die gesin moet die bron van ontwikkeling wees – geestelik, kultureel en sosiaal. Dit is die beste vorm van gemeenskapslewe.

Vlnr Sirkelpresident Hannelie Low, pastorale berader Ingrid Boshoff en Sirkel sekretaris Lea van der Vyver
Na ‘n kort breek is Rita Conradie, Fisioterapeut, aan die woord en bespreek die belangrike onderwerp van Vrouegesondheid. Selfs in vandag se verligte eeu, is dié onderwerp steeds taboe, aangesien dit gesetel is in privaatdele waaroor vroue skaam is om te praat. Dit is egter belangrik om inligting te deel, aangesien emosionele welstand ‘n invloed het op die werking van vrouedele, asook andersom. Rita verduidelik “daar onder” in detail en gee inligting oor die werking van die bekken organe, bekkenvloer en pelvisvloer-spier. Sy vertel ook wat tydens so ‘n besoek aan ‘n fisioterapeut gebeur.
Na die aanname van Studierigtingverslae, is skrywer Tania Smit van Hekelwoorde aan die woord. Sy gesels oor menswees, vrouwees en ma-wees en sorg vir skaterlag, sowel as ‘n traan, by elke vrou in die gehoor. Met die voorlees uit haar bundels deel sy kosbare lewenslesse – jy is vry om weer te probeer, of nie; om die lig aan te gryp, of nie. Ook dat ons op ‘n reis van verandering is – aanvaar jouself, anders kan jy niks of niemand aanvaar nie. Sy eindig met die vraag – wie is jy wanneer jy alleen is, alles klaar is en die ligte af is – raak stil – wat is in jou gedagtes – is jy OK?

Vlnr Skrywer Tania Smit, Hekelwoorde en fisioterapeut Rita Conradie
In Hannelie Low se presidendsrede vertel sy dat verandering ons die vermoë gee om vorentoe te beweeg en relevant te bly. VLV moet iets doen om persepsies te verander en jonger vroue te lok. Vergaderings moet dinamiese sprekers hê en VLV moet waarde toevoeg tot mense se “I belong”. Ons moet dáár wees vir mekaar, die beste van die toekoms maak en aanpas by uitdagings en veranderinge.

Vriendskapskers en kers vir Suid-Afrika brand bo Aberdeen VLV se vaandel. Konferensie in sitting
Tydens middagete word hartlik gekuier en smaaklik gesmul aan die kleurryke kos by die stylvolle konferensietafels.

Kleurvolle middagete Stylvolle Konferensietafels
Na middagete lewer Hannelie Low die jaarverslag. Met die prysuitdeling word 30 trofeë oorhandig en Carpe Diem verwerf die meeste punte vir die kompetisies, met Alexandria in die 2de en Rocklands in die 3 de plek. Lynette Thirion wen die gelukkige lootjie trekking – ‘n kunswerk geskenk deur glaskunstenaar, Marguerite Beneke.
Borge maak natuurlik die aanbied van so ‘n suksesvolle dag moontlik. BKB in besonder was die grootste kontantborg, gevolg deur OVK.

Aberdeen Tak se dames wat Konferensie moontlik gemaak het
Vlnr agter: Suzanne Lategan, Carina Esterhuizen, Alet Gouws, Luise de Jager, Lize de Jager, Karin Pienaar, Elise Steynberg en Christelle Nel
Vlnr middel: Elna van Niekerk, Jean Watermeyer, Lea van der Vyver en Stephanie Theron
Vlnr voor: Heidi Lombard, Annalie Lategan en Clarissa Lategan

Sirkel Middelland Bestuur Vlnr Marika Taljaard, Marlene Erasmus, Moniques Büchner, Anlouise O’Connell, Joey Fourie, Hannelie Low, Marlene Basson, Sanmarie Vermaak, Mariët van Niekerk en Lea van der Vyver

Kompetisie items – Puntverfkuns (Dot art)

Kompetisie items – Fotografie waterdruppelweerkaatsing
Borge van die dag