Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

SWD

MEDIA KOÖRDINEERDER:          LYDIE TERBLANCHE

8 JANUARIE 2025

Van Klein-Brakrivier en ook Hartenbos-taklede, was in werklike gevaar tydens die verwoestende brande in en om Aalwynhof. Dis een ding om veilig in jou huis die nuus te ontvang, maar ‘n ander om dit te kry van jou mense, te midde die gevaar. Om die angs in iemand se stem te ervaar en mee te leef hoe die as orals binne die huis neerslag vind, dat die rook-belaaide lug, so donker en dig is dat jy sukkel om asem te haal, is skrikwekkend. Ons praat nie eens van vlamme wat so hemelhoog staan selfs die son is aan die brand, en die verskriklike hitte wat alles verswelg en die aarde verskroei nie.

Maar dis nie net mense nie, daar is ook wilde -, plaas- en troeteldiere wat geraak word. Hartenbos Dierehospitaal was tot barstens vol met diere wat behandel en versorg moes word. ‘n Liefdesdaad wat hulle gratis gelewer het.

En dit is waar ons as die Vroue-Landbouvereniging ‘n verskil kan maak. Daar is dadelik met die Dierehospitaal in kontak getree om te bepaal waar en hoe bystand gelewer kan word. Al ons voorsitters is deur SWD Saamroeper Landbou, ingelig oor die situasie.

Bydraes kon direk by plaaslike winkelsentrums in aangeduide trollies geplaas word, of by Klein-Brakrivier afsetpunte. Kontant-donasies van SWD-lede van so ver as Stilbaai en Oudshoorn is direk in die Dierehospitaal se rekening inbetaal. Kos en water en ander dringende behoeftes, is deur bestuurslede van Klein-Brakrivier, namens SWD aan Marley van Jaarsveld, by die Dierehospitaal, oorhandig.

Dit is hoe ons as deel van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland, ons tema Ons Krag lê in Spanwerk, uitleef.

Lynette Nel, SWD-bestuurspan

Marley van Jaarsveld, Hartenbos Dierehospitaal