Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Paarl

Tak: Suider Paarl

Portefeulje: Openbare Sake

Saamroeper: Karen Visser

Beriggewer: Gonny du Plessis

Datum: 13 Augustus 2025

Suider Paarltak leer van die groter word van die Suider Paarl Kant

Ons tak se Openbare sake vergadering was baie interessant en leersaam. Die tafels was versier met uitstallings van al die artikels wat gebrei en gehekel is, vir ons tak se projek “Koester die Bejaardes”. Dit was pragtig en kleurvol.

Mev Karen Visser het Mnr Johan Liebenberg, verteenwoordiger van Wyk 15,van die Drakenstein Munisipaliteit, aan die lede voorgestel.

Hy is sewe jaar verbonde aan die munisipaliteit en was baie betrokke by meeste van die groot uitbreidings wat reeds gebeur het en die wat nog gaan plaasvind. Tans is hy besig met die ontwikkeling van die “De Poort” gronde. Dit is ook ‘n geskiedkundige gebied waar vroeër jare ossewaens gebou is. Die museum met ossewaens gaan behoue bly.

Paarl se bevolking het in die laaste 20 jaar met 270% gegroei. Van die plase aan die suidekant en agter om die berg word opgekoop deur ontwikkelaars vir behuising.

Tans is daar groot ontwikkelinge op die grond tussen die N1 en die R101. Dit is hoofsaaklik industriële ontwikkelaars.

Daar kom ook ‘n aantal winkelkomplekse en dit alles is ‘n geweldige ekonomiese inspuiting vir die dorp.

Maar daar is natuurlik dan ook ‘n groot klomp uitdagings soos ‘n tekort aan skole en die paaiestelsel moet geweldig opgradeer word om al die verkeer te kan hanteer. So ook die infrastruktuur wat al verouderd is.

Mnr Bertus Snyman, ‘n plaaslike prokureur, wat Mnr Liebenberg gaan opvolg, het ook ‘n kort oorsig gegee van sy aktiwiteite vir die wyk.

Die sang item deur Mev Marina de Wet was ‘n wenner en sy het almal betower met haar pragtige stem en keuse van liedjies.

Die firma Vital (Edms) Bpk het ‘n groot sak met van hul produkte geskenk vir ‘n gelukkige lootjie. Mev Poekie Jansen van Rensburg was die wenner.

Mooi versierde tafels.

Mev Karen Visser en Ds Marina de Wet.

Vlnr: Mev Karen Visser (Saamroeper), mnr Bertus Snyman, mev Karen Barnard (Sirkelpresident), Mnr Johan Liebenberg, Ds De Wet en Berrta Spangenberg (Sekretaris).

Mev Poekie Jansen van Rensburg en Mev Karen Visser.