Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

SIRKEL:                     Noord-Karoo

TAK:                           Murraysburg

PORTEFEULJE:      Voorsittersvergadering

SAAMROEPER:  Voorsitter: Renée Swanepoel

BERIGGEWER:       Theresa Troskie

DATUM:                     10 September 2025

Ons voorsitter, Renée Swanepoel het onlangs in Duitsland geval en haar pols gebreek. Sy moes daar geopereer word. Sy deel haar ervaring van die Duitse gesondheidsdienste met die lede.

  • 6 verskillende dokters het haar besoek voor, tydens en na die operasie;
  • Die mediese personeel dra almal wit Crocs;
  • Al die sale se deure is altyd toe, jy het nie ’n idee wie in die saal langs of oorkant jou lê nie;
  • Duitsers betaal niks vir enige mediese dienste nie, besoekers betaal egter!
  • Goeie reisversekering is baie belangrik.

Renée Swanepoel doen verslag van die Damesoggggend. Vier-en-veertig huishulpe en ses VLV-lede het die oggend bygewoon. Die spreker, Sanette Joubert, ’n maatskaplike werker, het die dames se aandag vasgevang met haar “show and tell” praatjie waarin sy lewensvaardighede en die oplos van probleme met gebare vasgelê het.

Interessante feit: om ’n vurkhyser te bestuur benodig die operateur in Duitsland ‘n lisensie …

nadere ondersoek het bewys dat dieselfde reël in SA geld!

Marinus van Zyl, ’n internet kundige doen ’n uitstekende blitsaanbieding oor veiligheid in die digitale era. Hy gee waardevolle wenke en raad om jou te beveilig teen kuberkrakers.

Renée doen kortliks en interessant verslag van die afgelope VLVK kongres. Sy haal iets treffends uit elke spreker se toespraak aan sodat ons lede ook kan deel in hierdie verrykende ervaring.

Vir ontspanning kyk ons na ’n video-greep van Anton Esterhuyse. Hy is ’n meester op die klavier en speel ’n mengelmoes van 100 Afrikaanse liedjies wat hy soos ’n lappieskombers kunstig aanmekaar las!

Renée toets die lede se oplettendheid deur vrae te vra oor inligting wat op verskillende sjokolades voorkom. Die wenner, kry elke keer die heerlike sjokolade!

 SIRKEL:                    Noord-Karoo

TAK:                           Murraysburg

PORTEFEULJE:      Damesoggend vir huishulpe

SAAMROEPER: Die bestuur

BERIGGEWER:       Theresa Troskie

DATUM:                     10 September 2025

Gesondheid

Suster Frances Fass en mnr. Tiaan Galant van Murraysburgse Gesondheidsdienste deel belangrike inligting met die 44 teenwoordiges. Hulle bespreek belangrike probleme rondom afsprake, pasiënte se persoonlike inligting asook dié van hul lewensmaats. Die dames word ook ingelig oor al die dienste wat beskikbaar is en hoe hulle daarvan gebruik kan maak. Mnr. Galant sê dat hulle oop is vir klagtes, want hulle wil baie graag probleme uit die weg ruim. Net so is dit ook vir hulle lekker om briefies met komplimente te ontvang vir goeie diens!

Kunste en Handvlyt

Een van ons lede, Wilna Pienaar, demonstreer hoe om iets moois en vroliks vir jou huis te skep uit dit wat in jou huis beskikbaar is.

  • Sy wys hoe om met tou ’n hingsel om ’n leë konfytfles te knoop. In die fles kan jy dan lenteblommetjies uit jou tuin of sommer mooi veldblommetjies in water rangskik. Plantjies met wortels kan ook net so in die water geplaas word. Dit blom pragtig en groei vir maande so in die water. As die wortels te dig raak, word die plantjie uitgehaal en die wortels weggeknip.
  • Wilna wys hoedat ’n kers in ’n speserybotteltjie gesit kan word, vul die botteltjie met rys en plaas dit dan in ’n groter botteltjie met ’n bietjie water in. Klein takkies en blommetjies kan dan tussen die twee botteltjies ingesteek word vir nog ’n mooi huisversiering.
  • Wilna het ook verskillende botteldeksels op ’n plankie vasgedruk met drukspykers. Jy knip dan mooi prentjies uit ’n ou tydskrif of jy neem foto’s van geliefdes, knip dit so groot soos die dekseltjie en druk dit doodeenvoudig in die deksel in vir ’n pragtige muurbehangsel!

Spreker: “Show and tell”!

Sanette Strauss het vyf weke gelede ’n tweede heupvervangingsoperasie ondergaan. Sy deel wenke, moets en moenies en wys nuttige hulpmiddels: ’n kruk om jou balans te behou, ’n braaitang om goed op te tel of nader te trek, ’n borsel met ’n lang steel om jou mee te was, jou man wat help om sokkies aan te trek en jou voete af te droog!

Sanette demonstreer met behulp van gebare ’n onwankelbare plan wat ’n mens kan volg wanneer jy ’n krisis in jou lewe beleef. Sy “show and tell”! Spreuke 3:5-8

  • Wysvinger na bo: Kyk op en praat heel eerste met die Here.
  • Wysvinger na onder: Hier en nou – moenie uitstel of afstel nie, doen wat jy kan.
  • Hande op kop: Dit is uiters belangrik dat jy positief moet dink. Herinner jouself dat God die onmoontlike kan doen!
  • Hand op die hart: Hoe voel jy? Emosies is geskenke van God.
  • Handpalms na bo: Wat doen ek? Krisisse is verlammend, baie keer moet jy iets prakties doen. Vat hande, bid saam, praat met ’n vertroueling.
  • Voete: Waarheen gaan jy? As jy siek is, gaan kliniek toe. Moenie na verkeerde plekke toe gaan nie. Vertrou op die Here. Sit net eers een tree voor die ander en “Vermy wat sleg is, dien die Here”.

Kunste en Handvlyt:

In ligte luim, word twee videogrepe aan die dames vertoon:

  • Marc Lottering laat die dames heerlik lag!
  • Die liedjie Nkalakatha van Mandoza met ’n video van Springbokrugby-hoogtepunte laat almal sommer spontaan handeklap vir ons wêreldkampioene!
oplus_0
oplus_32
oplus_32
oplus_32