Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Weskus

Tak: St Helenabaai

Portefeulje: Kunste en Handvlyt

Beriggewer: Wilna Marx

Fotograwe: Elmarie Visser en Marié Conradie

Datum: 8 April 2025

Blomme sit krag in St Helenabaai se dag!

Die “Flower Power” uitnodiging het gewys daar wag ‘n heerlike vergadering op die lede.

 

Die VLVK-projek, Bejaardes maak saak, word met die lede bespreek. Hierdie jaar wil ons daadwerklik optree en hulp verskaf. “Call to Serve” ‘n organisasie in St Helenabaai wat oues en siekes versorg se nood is aangehoor. Hulle benodig dringend ‘n rolstoel om op die perseel te gebruik vir wanneer bejaardes wat nie mobiel is nie, vervoer moet word. ‘n Paar van hul ander behoeftes is ook aan ons deurgegee. Ons tak gaan sover moontlik skenkings maak aan “Call to serve” wat hulle in staat sal stel om die oues van dae beter te versorg.

 

Bejaardes maak saak projek.

 

Marié Conradie lig die lede in oor hoe ons die Sirkel Weskus Projek, nl. “Sirkel Weskus gee om vir vroue” hierdie jaar gaan hanteer. Hierdie jaar gaan ons omgee, omgee vir mekaar.

Vandag sê ons vir mekaar:

“Elke vrou het ń vriendin nodig wat dink sy is iets groot op haar lewenspad.

Vroue wat sê, ek sien jou, ek ondersteun jou ek hou van jou.

Dis nie ń eenvoudige pad vir ń vrou, ń moeder, ń suster, ń weduwee, ń ouma of vir jou nie.

Emosionele uitdagings…

Dan moet ek nog fiks, gewild en maer wees ook.

Los ń briefie, met of sonder jou naam.

Ek sal baie graag saam met jou gaan koffie of vir jou bid.

Los ń briefie, met of sonder jou naam.

Sê asseblief wat jy graag wil hê.

Los ń ietsie mooi, met of sonder jou naam.

Ek lees dit graag.

Los ń briefie met of sonder jou naam.

Ons vroue reik uit na mekaar.

 

St Helenabaai se “OMGEEPOSBUS”

 

‘n Pragtige tassieposbus sal by al ons vergaderings wees waar lede wat enige vorm van ondersteuning nodig het, anoniem of met haar naam, ‘n briefie kan ingooi waar sy vra vir gebed, waar sy haar eensaamheid uitroep of waar sy vra vir net ‘n drukkie of selfs haar blydskap deel. Ons almal stap met ‘n masker rond sodat ons dit kan afhaal vir iemand wat ons vertrou. Hierdie jaar wil ons in St Helenabaai mekaar ondersteun, in ons hartseer, vreugde en verliese.

 

Ons kom by die hoofdis van vandag! Wat is nou lekkerder as speel. Annelie Nieman,  saamroeper van die Kunste en Handvlyt studierigting en ook ‘n kunstenaar in eie reg, bied vandag ‘n kunste werkswinkel aan. So sy dit stel, “Ek hou van speel, speel met verf, met papier, met gom en skêre……”

 

Die eerste skepping, ‘n varkoor, gemaak uit drie stukkies papier en gom word aangepak. Hier en daar ‘n kreun en ‘n laggie, stadig maar seker word die varkore voltooi. Die tweede blom ‘n bietjie meer ingewikkeld. Papier vou, plak, knip, en rol. Nou word die kreune en laggies meer en harder. Hier en daar word papier verkeerd geknip, hier en daar gee iemand vir ‘n wyle moed op.

 

Trots word daar gepronk met mooie blomme. Dis altyd lekker om iets nuuts te leer. Klein vlammetjies kan grote vure word. Ek is seker daar is ‘n paar dames wat hulself in die middag besig gaan hou met blomme maak.

 

Die dames aan die blomme maak!

 

Annelie se kunstige hand loop deur vandag se vergadering. Oral is tuisgemaakte blomme, versierde blomboeke en servetblomme.

 

Annalie met haar blomskeppings!

 

Die buiteblaaie van ons VLV takboekies was ‘n inkleurkompetisie vir die lede. Vandag word daar besluit wie s’n die heel mooiste ingekleur is.

 

Die dames pronk met hulle pryse:

 Agter: 2de pryswenner: Wilna van Zyl, Annelie Nieman ( saamroeper) en Marié

 Conradie, ons wenner. Voor sit ons 3de pryswenner: Tannie Ann Myburgh

 

Soos elke maand ontvang die verjaarsdagdames ontvang elkeen ‘n pragtige houtbord.

 

Adelle Smith en Marié Conradie ontvang hul verjaarsdag-houtborde by Maretha Coetzee

 

Die vergadering word afgesluit met heerlike eetgoed en sap.

 

Eetgoed op stokkies in pragtige keëls bedien, saam met sap.